DIE VERLOSSER DEUR GOD BELOOF Ons glo dat ons goeie God in sy uitnemende wysheid en goedheid die mens weer opgesoek het toe Hy gesien het dat die mens homself in die liggaamlike en geestelike dood gewerp en geheel en al ellendig gemaak en al bewende van Hom weggevlug het. God het die mens toe getroos met die belofte om aan hom sy Seun te gee en hom salig te maak – sy Seun, wat uit ‘n vrou (Gal. 4:4) gebore sou word om die kop van die slang te vermorsel.
Inleiding
As jy aangejaag het, moet jy gewoonlik die kastaiings uit die vuur krap. Daar is geen manier om verby jou verantwoordelikheid te kom nie. Adam en Eva het oortree; niemand het hulle forseer om aan God se opdrag ongehoorsaam te wees nie, al sou hulle die slang die skuld wou gee. Die opdrag wat hulle moes gehoorsaam was baie duidelik. Die mens het homself in so ’n gemors of beter gestel “doodsheid” laat beland en daar was vir hulle geen manier om hierdie “fout” te herstel nie. As jy dood is, is jy dood – dit is die finaliteit daarvan. Of is dit? Hoe hopeloos die toestand van die mens! Of is dit?
Dit wat na die sondeval plaasvind is die begin van ’n ongelooflike liefdesdrama. Die een waarteen oortree is, word die redder van ’n mensdom waarvoor daar geen oplossing buite Hom was nie.
In die tuin – skuldig
Dit is aand in ’n tuin wat in liefde en volmaaktheid geskep is. Twee gebroke en ontblote figure is in die tuin. Vanaand is daar ’n aandwindjie as God soos gewoonlik in die tuin kom wandel. Die mens wat altyd in opgewondenheid vir hierdie samesyn gewag het, kruip vanaand weg van die HERE God. Genesis 3:8 En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. Sy naam is die HERE(Jahwe) God, die God wat verbonde maak met die mens. Hulle weet hulle het oortree en sonder dat God iets hoef te sê word hulle aangekla. Romeine 2:15 omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig. Niks is erger as ’n skuldige gewete nie. Jy wil wegkruip, maar waarheen kan jy gaan? Hulle weet, net soos wat ons vandag weet, dat ons niks van God kan wegsteek nie. Dink jy vir een oomblik dat God nie geweet het wat hulle gedoen het nie? Nee, die Bybel is baie duidelik dat Hy alles weet. Hy het daarvan geweet nog voordat dit plaasgevind het. Tog kom Hy hulle soek. Watter groot liefde! Die opsoek van die mens kan alleen van God kom, want na die sondeval kan geen mens meer saam met God wandel nie. Selfs die begeerte om verder saam met Hom te wandel is weg. Daarom sal dit nooit die mens wees wat God soek nie. Romeine 3:11 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Dit behoort nou al ’n bekende vers by ons te wees.
Hoe kan geregtigheid en versoening plaasvind?
Baie keer in jou lewe doen jy iets verkeerd en die gevolge daarvan, nie net vir jouself nie maar ook vir ander, is traumaties. Jy wil dit so graag regmaak, maar jy kan nie. Soms soek jy net raad en dan kom die antwoord, gewoonlik omdat mense nie self weet wat jy moet doen nie: “Jy moes dit nie gedoen het nie!” Asof dit nie alreeds iets is wat jy besef nie!? Die vraag bly egter: “Wat doen ek nou?” As jy kon terug gaan en dinge anders doen dan sou jy, maar jy kan nie. Jy moet die gevolge van dit wat jy gedoen het dra. Dit is soms ‘n ondraaglike, hopelose situasie, veral as diegene teenoor wie jy oortree het, dood is, of nie in staat is om jou daarvoor te vergewe nie. Dink maar aan ‘n dronk bestuurder wat ‘n ongeluk veroorsaak waarin iemand sy/haar lewe verloor het. Hoe sou die persoon dit kon regmaak? Dan verder kom ons agter dat al wil ons dit regmaak, ons nog steeds elke dag sonde op sonde byvoeg, sonder dat ons daarvan kan vrykom. Ons sonde is egter nie net, soos in die geval van die dronk bestuurder, teen vlees en bloed nie, maar veel erger. Dit is teen die almagtige, heilige, ewige God!
Hoe sou versoening kon plaasvind. Geen regverdige God kan net mense vryspreek nie. Iemand sal moet betaal, maar wie sou dit kon doen? Job het hierdie dilemma verstaan. Job 9:2-4 Waarlik, ek weet dat dit so is; en hoe kan ‘n mens regverdig wees by God? As hy sou begeer om met Hom te twis, nie een uit duisend sal hy Hom kan antwoord nie. Hy is wys van hart en sterk van krag; wie was hardnekkig teen Hom en het ongestraf gebly? Wie sal tussen God en mens kon staan? Job 9:32-33 Want Hy is nie ‘n man soos ek, dat ek Hom sou kan antwoord, dat ons saam na die gereg sou kan gaan nie. Daar is geen skeidsregter tussen ons wat sy hand op ons twee kan lê nie. Job is reg, niemand sal teen God se reg kan wen nie.
Saam met die straf – die versoening
Die regter wat egter die straf oordra, is ook die een wat die metode van versoening aankondig. As God aan Adam en Eva hul straf oordra, word ook die metode van versoening oorgedra. Gen 3:15 En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt. Uit die vrou sou een gebore word wat die slang se kop sal vermorsel. Tog sal die Een wat die slang vermorsel nie sonder enige pyn deur hierdie versoeningswerk gaan nie. Die slang sal Hom aan die hakskeen byt. Ja, daar sal verlossing kom, maar die prys sal hoog wees. Ons sien hierdie prys in die tuin van Getsémané. Dit was nie iets ligtelik wat God kom doen het nie. Dit is nie iets waarna ons kan kyk sonder om in ons diepste wese geraak te word nie. Geen mens wat lewendig gemaak is deur die werking van die Heilige Gees, kan die verhaal van Getsémané lees sonder om gewond te word nie. Hy sweet bloed in Getsémané en bid dat die beker by Hom verby mag gaan. Die liefdeoffer is ’n hoë prys. God se seun, God self, het die prys wat niemand anders kon betaal nie, in Homself betaal. Die Een sonder sonde word die sondebok van Levitikus 16, sodat ons vry kon gaan. 2Korintiërs 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Hiervan het die profete voorspel. Jesaja 7:14 Daarom sal die HERE self aan julle ‘n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immánuel noem. Immanuel beteken “God met ons.” Dit is Jesus Christus, ons Verlosser. Elke Kersdag herdenk ons hierdie groot geskenk. Die Een gebore in Betlehem.
Jesus ons Verlosser
Johannes vertel dit so mooi in die evangelie. Johannes 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid. Die woord vir “woon” in die Grieks was gebruik vir die tabernakel in die Ou Testament. Die God wat Hemel en aarde gemaak het, sou kom tabernakel by ons. Hy sou soos ons moes word om ons te red. Galasiërs 4:4-5 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.
Wat vir my nog meer verstommend is dat hierdie plan nie op die ingewing van die oomblik in die tuin gemaak is nie. God was nie onkant gevang met die sonde van Adam en Eva nie. Nee, God het voor Hy enige iets gemaak het, van ewigheid, reeds geweet dat die mens sou sondig en dat die Seun van God sou betaal vir hulle sonde. Hy was ten volle bewus hoe Hy sou sweet in die tuin van Getsémané voor Hy enige tuin geskep het. Hy is die God wat wou naby kom. Die een wat aan ons die liefde wat vir altyd tussen die Drie-Eenheid was aan ons wou kom wys. Hy het ons nooit nodig gehad of ’n behoefte aan ons gehad nie. Nee Hy wou ons deel maak van Sy ewige liefde. Die God van Liefde!
Slot
Is jy besig om jou gewete elke dag stil te maak en van God weg te vlug met allerhande dinge waarmee jy jouself wil verskoon of besig hou? Is jy besig om elke dag die skuld vir jou sonde op ander te plaas en probeer jy jouself met skamele vyeblare toemaak, asof jy jou sonde so van God kan verberg? Indien jy Hom hoor roep – moenie jou ore toedruk en verder probeer vlug nie. Kom erken en bely jou sonde en word bedek met die bloed van die Lam, vrygespreek om ‘n ewigheid saam met God te wandel.
