DIE EWIGE VERKIESING VAN GOD Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.
Inleiding
Ons het in die vorige artikel gesien dat elke mens a.g.v. Adam se sonde gebore is buite Eden en daarom dood is in hulle sonde. Die toestand van elke mens is dus ’n toestand van totale verlorenheid. Geen mens het ’n begeerte na God nie. Romeine 3:10 soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Ons enigste begeerte, soos Adam en Eva, is om god te wees. Daarom lyk dit baie keer of mense na God soek maar eintlik wil hulle ’n god hê wat in hulle diens is. Die mens wil hê sy eie begeertes en verlange moet vervul word en as hy/sy dus die idee het dat God dit sal doen sal hy/sy net te bly wees om hierdie god te aanbid. Hierteenoor is God se oproep dat ons Hom moet dien, moet dank en die koning van ons lewens moet maak. Geen geestelike dooie persoon het hierdie begeerte nie. Die mens is geestelik blind en kan glad nie God as Koning van die nuwe koninkryk sien nie. Johannes 3:3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Indien iemand dus ’n ware soeke na God het, kan jy verseker weet dat God die Een is wat aktief in die persoon se lewe aan die werk is en dat hy/sy wel God sal vind.
God reik uit na jou
God is dus die een wat, op grond van Sy eie Barmhartigheid, na ons uitreik. Romeine 9:16 So hang dit dan nie af van die een wat wil of van die een wat loop nie, maar van God wat barmhartig is. God trek die mens. In Johannes evangelie word aan ons vertel dat ’n klomp mense, nadat Jesus die brood vermeerder het, na Hom kom soek het. Hulle het vêr gereis en ontvang ’n skok boodskap van Jesus. Johannes 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Hierdie boodskap was vir hulle ’n skok, net soos wat dit vandag nog vir die mens is. Die “eie ek” van die mens glo dat hy ’n vrye wil het en kan maak en doen net soos hy wil. Die mens sal eerder redeneer dat God se wil nie werklik sal geskied nie, as om te aanvaar dat die mens nie ‘n vrye wil het nie. Die woord vir trek is dieselfde woord in die Grieks as wat gebruik word wanneer Paulus en Silas uit die tempel voor die owerhede gesleep is. Hierdie woord ontneem die mens van enige gedagte dat hy/sy na Jesus kan kom as die Vader hulle nie “sleep” nie. Daarom as Jesus dit weer ’n ruk later herhaal verlaat hierdie dissipels hom. Johannes 6:65-66 En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.
God se besluit
God het die mens geroep en gered op grond van Sy eie besluit. 2Timotheus 1:9 wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is. Die besluit om ’n spesifieke groep mense te red het God op grond van sy eie barmhartigheid gedoen voor die grondlegging van die wêreld. Efesiërs 1:4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees. Baie het die idee dat dit onregverdig is dat God sekere mense kies en ander nie. Paulus hanteer hierdie vraagstuk baie deeglik in Romeine 9. Hy vertel aan die gemeente in Rome dat God Jakob lief gehad het en Esau gehaat het. Selfs al glo jy dat dit te make het met die nageslag van die twee broers, moet jy dan erken dat God ’n hele nasie liefgehad en ’n ander nasie gehaat het. Romeine 9:13 Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat. Daar is geen manier om verby die punt te kom dat God op grond van sy eie keuse een lief het en een haat nie. En daarom word die vraag onmiddellik deur Paulus gevra, nl. of God dan op grond van hierdie stelling onregverdig is. Daar is dus geen manier om hierdie stelling te verstaan en nie onmiddellik die vraag te vra of God nie onregverdig is nie. Die antwoord word deur Paulus gegee, nl. dat God barmhartig kan wees oor wie Hy wil. Hy is God en jy is nie. Hy is die pottebakker en die mens is maar net klei. Romeine 9:20 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Dalk bevredig hierdie antwoord jou nie. Vra jouself dan die volgende: Wil jy regtig vra of dit regverdig is? Wil jy regtig hê God moet regverdig wees in sy keuse? Wat sou die uitslag wees as God mense regverdig moes kies. Hoeveel sou dan gekies word? Regverdigheid sou almal in die hel laat beland het. Wil jy nog steeds regverdigheid hê of soek jy barmhartigheid en genade?
Gekies voor die grondlegging van die aarde
Die wat God uitverkies het, het nog altyd aan Hom behoort. Johannes 17:6 Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Die wat Hy uitverkies het, is sy eiendom. Johannes 17:9 Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. Ons, as uitverkorenes, is dus deur die Vader aan die Seun gegee en hulle wat aan die Seun gegee is, is Sy skape en het Hy Sy lewe voor afgelê. Johannes 10:15 Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.
Watter voorreg om te besef dat ons name van voor die grondlegging van die wêreld af in Sy boek geskrywe is. Openbaring 13:8 En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie. Hierdie teksvers gaan oor die draak en die feit dat almal op aarde wie se name nie in die boek van lewe geskryf staan nie, hom (die draak) sal aanbid. Daarom kan die gelowige nie anders as om God se naam groot te maak sodra hulle hierdie boodskap verstaan nie. Psalm 65:5 Welgeluksalig is hy wat U uitkies en laat nader kom, dat hy kan woon in u voorhowe. Ons wil versadig word met die goeie van u huis, die heiligheid van u paleis.
Baie van ons ken “goeie mense” wat nie gelowiges is nie. Ons wil so graag vir God vertel dat Hy eintlik ‘n fout gemaak het kragtens wie Hy kies. Of ons dink God kan regtig soveel beter doen as Hy hierdie of daardie bekende en belangrike persoon tot geloof kan bring.
Ons moet egter soos Paulus, as hy aan die einde van Romeine 11 kom, nadat hy hierdie misterie aan die gemeente verduidelik het, in lofprysing uitroep. Romeine 11:34-35 Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word?
Slot
God openbaar aan ons Sy liefde deur Sy Woord. Die Woord is geskryf vir gelowiges. Ons hoef nie die uitverkiesing aan die wêreld te verduidelik nie. Ons kan ook nie, want ons verstaan dit nie. Dit is God se werk en ons kan net in dankbaarheid neerval, want sowaar, ons weet dat ons dit nie verdien nie. Wat ek wel onomwonde vir iemand kan sê is dat indien hy/sy waarlik opsoek is na God (en ons weet hierdie soeke is eintlik God se trekking) dan sal hy/sy Hom vind.
Ons moet besef wie en wat ons is en wie God is. Wie is ek as mens om te dink dat ek advies aan die Koning van die konings kan gee of dat ek vir Hom kan sê: “Here, U het ’n fout gemaak?”
Hy het nog nooit die mens nodig gehad nie. Ons redding is 100% afhanklik van Sy werk in ons lewens. Wat anders as ’n lewe van dankbaarheid kan ’n gelowige lei. 1Thessalonissense 5:18 Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle.
Leef nou uit dankbaarheid.
