Artikel 15 DIE ERFSONDE!

Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het. Dit is ‘n verdorwenheid van die hele natuur en ‘n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sondes laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit rede genoeg is om die menslike geslag te verdoem. Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit ‘n giftige fontein. Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie maar deur sy genade en barmhartigheid vergewe. God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word, Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane, wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as uit navolging ontstaan nie.

Inleiding

Die meerderheid mense wat elke Sondag in die kerk sit, om nie eers te praat van die wêreld daar buite nie, het geen benul hoe verrot die mens in murg en been is nie.  As die Bybel sê daar is niemand wat goeddoen nie is dit nie oordrewe nie. Psalm 53:4  Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie. Of, soos Paulus skrywe in Romeine “daar is niemand regverdig nie.” Romeine 3:10.  Baie redeneer vandag dat ons net produkte van ons omstandighede is. Dus word ons goed en sonder letsel gebore, maar dit waaraan ons blootgestel word, dit wat ons sien en ervaar, beïnvloed ons tot die slegte. Is dit waar? Het ek redelik goed of selfs baie goed in die wêreld gekom en a.g.v. die wêreld sleg geword? Was die invloed tot die slegte dus eerstens van buite of kom dit van binne? Dit is die vrae wat ons hier wil beantwoord.

Sondig vanaf geboorte.

Adam en Eva is binne die tuin van Eden geskep. Die mens was sonder enige sonde. A.g.v. die man en vrou se ongehoorsaamheid is hulle uit die tuin gejaag. Van daardie dag af word elke mens wat in die wêreld kom buite die tuin gebore. Job 14:4  Ag, kon maar ‘n reine voortkom uit ‘n onreine—nie een nie! Die sonde se effek is onmiddellik sigbaar as Kain vir Abel doodmaak. Wanneer Dawid sondig en gekonfronteer word deur Natan, omdat hy Uria doodgemaak en met sy vrou geslaap het, kom hy tot ’n skuldbelydenis in Psalm 51. Dawid weet dat hierdie sonde nie iets is wat net op ’n dag op hom afgekom of hom bekruip het nie. Nee, hierdie sonde is nog altyd deel van hom. Psalm 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. 

God se Woord is duidelik dat geen kind wat gebore word sonder sonde is nie. Johannes 3:6  Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Ons wil hulle graag teken as engeltjies, maar die waarheid is dat enige ma en pa kan getuig dat die sondige natuur gereeld na vore kom. Voddie Baucham het die uitdrukking dat ’n baba ’n “viper in a diaper” is. Van geboorte wil hy/sy rebelleer teen alle gesag en soek hy/sy hulle eie wil.

My verlore toestand

Het jy al ooit iemand se getuienis oor sy bekering gehoor wat klink soos hierdie: “Niks het regtig in my lewe verander nie. Ek was nog altyd eintlik OK. Ek was nou nie soos een van daai rowwe “partytjie” ouens, wat te veel gedrink, gevloek en rondgeslaap het nie.” Indien dit jou siening is, het jy nie werklik tot bekering gekom nie, want jy verstaan nie jou verlore toestand nie. Jy besef nie dat jy deurtrek is van sonde nie. Die idee wat baie gelowiges het dat hulle op ’n dag self besluit het om hulle tot God te bekeer, wys duidelik dat hulle nie ’n besef het hoe gevalle ons werklik is nie. Die Bybel leer ons dat ons nie deur ons eie poging ons tot God kan bekeer nie. God het die mens gewaarsku wat sou gebeur as hy van die boom sou eet. Gen 2:16-17  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe. Met die sondeval het die dood ingetree, nie net die fisiese dood nie, maar ook die geestelike en die ewige dood. Luister hoe Paulus dit stel: Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Romeine 5:12. Ons almal het dus in Adam gesondig en as gevolg hiervan is ons almal deurtrek van die dood. As die Bybel  praat oor die geestelike dood, dan beteken dit heeltemal dood, nie soos party dink, amper dood of bietjie dood nie. Ek onthou duidelik dat ons Juffrou op skool dit al duidelik gemaak het dat daar geen trappe van vergelyking vir dood is nie. Dood dood dood het sy herhaal. Jy kan nie meer dood wees as dood nie. Daar is nie iets soos dood, doder, doodste nie.

Uit genade

Verstaan jy, dat as die Woord ons as dood beskrywe, ons op geen manier kan reageer op die geestelike oproep op ons lewens nie. Efesiërs 2:4-5  Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered.  As jy dus sê dat jy uit jou eie die keuse vir God gemaak het, kan dit dan nog wees dat dit genade is waaruit jy gered is? En kan jy dan nie roem dat jy die besluit geneem het, terwyl iemand anders nie vir God gekies het nie. Jy was dus “beter” as die ander persoon. Daarom sê dit net ’n paar verse later dat ons redding ’n gawe van God is en dat niemand dus kan roem nie. Efesiërs 2:8-9  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Niemand kan dus enige rede hê om te spog dat hulle wederbaar is nie. Dit het ons geleer uit Jesus se gesprek met Nikodemus. Jesus vertel aan Nikodemus dat hy weergebore (Die Grieks sê hier ‘van bo gebore’) moet word. In vers 8 vertel Jesus hoe hierdie geboorte plaasvind. Johannes 3:8  Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Die Gees bring dus lewe. Dit is presies wat gebeur met Esegiël waar hy moes preek vir die doodsbeendere. Nadat die bene, die senings, vlees en vel oor hulle kom was daar nog geen lewe in hulle nie. God roep dan vir Esegiël op om te profeteer tot die gees om in hulle te kom. Esegiël 37:9  Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. Net so weet ons dat ons met mense kan praat oor die evangelie en kan preek, maar dat dit slegs God is wat lewe kan bring in geestelike dooie mense. Net soos Jesus Lasarus uit die dood opgewek het sonder dat Lasarus ’n vinger kon verroer om self die lewe te kon bewerkstellig het, het die mens God nodig om hom/haar lewendig te maak sodat hulle die nuwe koninkryk kan sien. Johannes 3:3  Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. 

Slot

Al het Christus my lewendig gemaak is ek nog steeds nie vry van die sonde nie. Nee die sonde is nog steeds besig met sy werk in my lewe. My vlees wil nog steeds die verkeerde doen. Daar is nou hierdie konstante stryd binne-in my. Ek wil nie meer die verkeerde doen nie. Die verkeerde is nou vir my ’n gruwel. Romeine 7:15  Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. Ek wil nou aan God gehoorsaam wees. Haat jy die sonde in jou eie lewe? Wil jy met alles binne jou aan God se Woord gehoorsaam wees? Dit is ’n teken van ’n geestelik lewende persoon wat van bo gebore is. ’n Wêreldling sal uit die Bybel kies dit waarvan hy/sy hou en nie hou nie, maar in teenstelling met die wêreld, wil die gelowige die hele Woord gehoorsaam en hom/haar daaraan onderwerp. Omdat hierdie stryd fel is, het ons as gelowiges die verlange dat Christus weer moet kom. Romeine 8:23  En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. Wat ’n wonderlike dag sal dit nie wees wanneer ek volkome vry sal wees van alle sonde nie. Is dit ’n sugting by jou, ’n verlange na Sy koms?

“Kom Here Jesus, kom!”