DIE SKEPPING VAN DIE MENS, DIE SONDEVAL EN DIE GEVOLGE DAARVAN
Ons glo dat God die mens uit die stof van die aarde geskep het; Hy het hom volgens sy beeld en gelykenis gemaak en gevorm, dit wil sê goed, regverdig en heilig sodat hy met sy wil in alles met die wil van God kon ooreenstem. Maar toe hy in aansien was, het hy dit nie verstaan nie en sy uitnemendheid nie besef nie. Hy het homself egter, deur na die woord van die duiwel te luister, willens en wetens aan die sonde en daarmee aan die dood en die vervloeking onderwerp. Hy het immers die gebod van die lewe wat hy ontvang het, oortree en homself deur die sonde losgeskeur van God, wat sy ware lewe was; so het hy sy hele natuur verderf en daarmee die liggaamlike en geestelike dood verdien. Hy het deur dat hy in al sy doen en late goddeloos, verkeerd en verdorwe geword het, al sy voortreflike gawes wat hy van God ontvang het, verloor en hy het niks anders daarvan oorgehou nie as slegs klein oorblyfsels, wat egter genoegsaam is om hom alle verontskuldiging te ontneem. Al die lig wat in ons is, het immers in duisternis verander, soos die Skrif ons leer: En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie’ (Joh. 1:5), waar die heilige Johannes die mense duisternis noem. Daarom verwerp ons alles wat in stryd hiermee oor die vrye wil van die mens geleer word, aangesien die mens niks anders as `n slaaf van die sonde is nie en: `’n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie’ (Joh 3:27). Want wie is daar wat daarop sal roem dat hy uit homself iets goeds kan doen, terwyl Christus sê: `Niemand kan na My kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie’ (Joh. 6:44)? Wie sal op sy eie wil roem as hy verstaan dat ‘…wat die vlees bedink, vyandskap teen God is’ (Rom. 8:7)? Wie sal op sy eie kennis roem as die natuurlike mens die dinge van die Gees van God nie aanneem nie (1 Kor. 2:14)? Kortom: Wie sal ook maar op ‘n enkele gedagte roem as hy verstaan dat ons uit onsself nie bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie maar dat ons bekwaamheid uit God is (2 Kor. 3:5)? Daarom is dit reg dat wat die apostel sê, onwrikbaar bly, want dit is God wat in julle werk. Hy maak julle gewillig en bekwaam om sy heilige plan uit te voer (Fil. 2:13). Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand gebring het nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: ‘Sonder My kan julle niks doen nie’ (Joh. 15:5).
Inleiding
Die mens se grootste probleem is om te besef hoe sleg hy/sy werklik is. Ons wil dit nie erken nie. Selfs mense in die kerk wat bely dat hulle wederbaar is, het die idee dat hulle lewens voor wedergeboorte nie te sleg was nie. Hulle sal dalk erken dat hulle vir die wêreld geleef het en gesondig het, maar om te erken dat daar niks goeds in hulle was nie, sal nooit verklaar word nie. Baie keer sal mense na die sondeval kyk en verstom wees dat God so radikaal kon optree teen Adam en Eva. Vrae soos: “Was dit regtig so erg?” Straf vir sonde moet volgens hulle meer soos ’n rapsie op die hand wees as ewige hel.
Sonde is dood
Sonde het die dood gebring in die mens. Geestelik is hy/sy dood. Met elke verhouding van God en mens in die Ou Testament is dit God wat elke keer die verhouding inisiëer. Dit is nie Abraham wat tot God nader met ’n plan vir sy nageslag en vir homself nie. Nee, dit is God wat Abraham gaan ontmoet in ’n goddelose omgewing terwyl afgode aanbid word. Josua 24:2 Toe sê Josua aan die hele volk: So sê die HERE, die God van Israel: Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon—Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander gode gedien. Die mens het na die sondeval geestelik gesterf. Om geestelik dood te wees beteken dat jy geensins kan reageer op enige iets wat geestelik is nie. Ons kan geensins lewendig word uit onsself nie. Net so min soos wat ’n dooie persoon in sy eie krag die graf kan verlaat kan ‘n ongelowige ’n gelowige word. Jesus moes Lasarus opwek en Lasarus het uitgekom op grond van Jesus se opdrag en nie op grond van sy eie fisiese wil nie, net so met die geestelike dooie mens.
Jesus is Lewe
Jesus verduidelik in Johannes 5 dat Hy net soos die Vader die mag het om Lewe te gee. Johannes 5:21 Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil. Dan gaan Jesus verder en verduidelik dat daar ’n uur sal kom wanneer die dode die stem van God sal hoor en sal leef. Johannes 5:25 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Dus verduidelik Jesus aan Sy volgelinge dat Hy die oorsprong van Lewe is en dat Hy en die Vader alleen lewe kan gee. Die gevolgtrekking is dan voor die hand liggend, nl. dat hierdie tyd wat sal aanbreek waarin die dooie die stem van God sal hoor, ’n tyd sal wees wat alleenlik kan plaasvind deur die werking van God. Net God kan lewe gee. As Paulus aan die gemeente in Efese skrywe vertel hy aan hulle dat hulle deur Christus lewendig gemaak is. Efesiërs 2:1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes. Dus, vanaf Genesis, is dit duidelik dat die dood met die sonde ingetree het, soos Romeine dit ook vir ons duidelik maak. Romeine 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Kan dit enigsins duideliker gestel word?
‘n Geskenk uit genade
Daarom is die Bybel baie duidelik, dat hierdie daad van lewendig maak, ’n genade is. Efesiërs 2:4-5 Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het, ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus—uit genade is julle gered. Genade beteken dat dit ’n geskenk is, iets wat ek nie kan verdien nie. Die oomblik as ek dit verdien of daarvoor gewerk het of dink dat ek beter as ander mense is en dit om dié rede verdien, is dit nie meer genade nie, maar volgens verdienste.
Sonder God is almal is sleg
Om te weet of mense werklik dit glo kan jy gaan kyk hoe hulle hul eredienste inrig. Baie het die idee dat as hulle die erediens meer “wêreld vriendelik” maak hulle meer mense vir die Koninkryk kan bereik. Hier word twee denkfoute gemaak. Die eerste is dat ons dink dat enige mens Lewe in iemand anders se lewe kan teweeg bring. Die tweede is dat ons dink die wêreldling is opsoek na ‘n verhouding met die lewende God. Sommige mense het die gedagte dat God goeie mense beloon wat hulle bes probeer. En so word daar Sondag na Sondag gepreek dat jy net jou bes moet probeer en dit is vir God genoeg, want eintlik is ons almal goed. Dit is belangrik dat ons “goed” definieer. Jesus sê: “Net God is goed”. Dus is niks sonder God goed nie. Glo jy werklik dat die mens deur en deur sleg is? Glo jy dat voor jou wedergeboorte daar niks goeds in jou was nie? Dink jy ook aan jou wedergeboorte as iets ongelooflik as jy soos die Psalmdigter worstel? Psalm 8:5 wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? Skrywe die profete nie weer en weer dat daar niks goeds in die mens is nie. Jesaja 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. In Psalm 14 wat Paulus in Romeine aanhaal om aan te toon dat daar niemand is wat goeddoen nie sê die psalmdigter ’n … die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie. Psalm 14:1. God vertel aanEsegiël dat Hy ’n man gesoek het wat sal kan intree tussen Hom en die volk en Hy kon niemand vind nie. Esegiël 22:30 En Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie. Of Sy opdrag aan Jeremia om te soek na iemand wat reg doen: ”Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek—dan sal Ek daaraan vergifnis skenk.” Jeremia 5:1. Is dit hoe ons die mens en myself sonder God se werk in my sien?
Hierdie is werklik vir baie mense ‘n probleem area aangesien daar sulke verskriklike bose mense in die wêreld is. Hoe kan dit wees dat alle mense sommer so in een kamp geplaas word? Hier moet jy duidelik besef dat alhoewel daar tog mense is wat ‘n hoër morele standaard het as ander, hierdie standaard so ver tekort skiet in vergelyking met die standaard van God, dat geen morele deug, hoe wonderlik jy ook al dink dit is, sonder God enige betekenis het nie.
Indien jy werklik besef wie jy is, en wie God is, dan probeer jy nie eers om jouself te regverdig in terme van hoe sleg ander mense is nie!
Wat gebeur na wedergeboorte? Kan ek dan God gehoorsaam?
Dit Bybel vertel ons dat om God te gehoorsaam moes ons beweeg het van die dood na die lewe. Johannes 5:24 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. As ons dus lewendig gemaak is deur God kan ons Hom gehoorsaam. Gehoorsaamheid vind plaas deur die werking van God in my lewe. Ek kan slegs God gehoorsaam, omdat die lewensap van die stam deur my, die loot, se are vloei. Jesus sê aan sy volgelinge: Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. Johannes 15:5. Ons is geheel en al afhanklik van Hom. Elke daad wat ek doen wat Hom verheerlik se oorsprong is uit Hom. Filippense 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Nie net gee hy my die krag om gehoorsaam te wees nie, Hy verander ook my wil sodat dit soos Syne is. Ek WIL nou gehoorsaam wees. Dit is vir my ’n wonderlike gedagte, dat die gelowige die wil van God wil doen. Selfs al faal ek telkemale het die Heilige Gees die gedagte in my bewerk wat maak dat ek God wil behaag. Ek het nou die verlange om gehoorsaam te wees. Ek wil nie meer die verkeerde doen nie. Dit is die stryd waarvan Romeine 7 praat. Hierdie is een van die duidelik tekens van ’n gelowige. Hy wil die Woord ten volle gehoorsaam. Hy kom nooit voor ’n teks in die Woord te staan waarvan hy/sy sê: “Dit wil of gaan ek nie doen nie.” Nee, die gebed van die gelowige is: “Here gee my krag, ek wil U gehoorsaam wees.”
Slot
Ons wil tog so graag glo dat ons besonders is, dat ons dinge kan bedink en bereik. Ek wil koning kraai op my eie mishoop. Hier is die probleem. Jy kan dalk voel jy is die koning, maar sonder God sal dit altyd op ‘n mishoop wees. Ons as gelowiges is besonders, enkel en alleen omdat ons duur gekoop is, en lewend gemaak is deur ‘n almagtige God. Die goeie wat in ons is na wedergeboorte is uit God en deur God en tot God. “Want daar is geen verstand en geen wil in ooreenstemming met die verstand en die wil van God as Christus dit nie in die mens tot stand gebring het nie. Dit leer Hy ons as Hy sê: ‘Sonder My kan julle niks doen nie’ (Joh. 15:5).” – Ned Geloofsbelydenis Artikel 14
