DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; inteendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is. Ons is tevrede daarmee dat ons leringe van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry. Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom. Hy waak oor ons met vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Matt. 10:29-30). Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikuriërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.
Inleiding
Daar is bekende liedjie van Bette Midler wat soms in onkunde deur gelowiges gesing word, waar daar gesing word: “God is watching us, God is watching us” en dan kom die frase “from a distance”. Is dit die God wat ons aanbid? Het God geskep en daarna Homself onttrek van Sy skepping? Die antwoord hierop is baie duidelik: “Nee!” God is aktief besig om elke dag te werk. Jesus stel dit duidelik aan die wat Hom bevraagteken, omdat Hy op die Sabbatdag ’n man by Bethesda genees. Johannes 5:17 En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. Hebreërs sê nie net dat het Hy geskep het nie, maar ook dat Christus die een is wat alle dinge deur Sy woord dra. Hebreërs 1:3 Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag, nadat Hy deur Homself die reiniging van ons sondes bewerk het, het gaan sit aan die regterhand van die Majesteit in die hoogte. Alles sal vernietig word (tot ’n einde kom) as God vir een oomblik Sy hand van Sy skepping onttrek. Hy onderhou alles in Sy skepping en van die kleinste deeltjie tot die grootste ster word deur Hom bestuur. Van ’n sneeuvlokkie, wat saggies op die aarde val, tot ’n aardbewing, wat die aarde laat bewe, vind plaas onder die beheer van die Lewende God. Niks vind plaas sonder Sy raadsplan nie. Efesiërs 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil. Hierdie vers maak dit duidelik dat nie net het God bepaal wat ons as gelowiges sou ontvang nie, maar alles in die skepping word beheer volgens sy wil en plan.
Vrye wil
Almal hou van die gedagte dat ‘n goeie, liefdevolle God in beheer van sy skepping is, maar die oomblik wanneer hierdie beheer die mens insluit (en dit word veronderstel aangesien ons deel is van die skepping), dan kom die mens in opstand. Het die mens dan nie ’n vrye wil nie? Hier wil ek graag eers na ’n paar verse kyk en ek wil hê dat die Woord ons denke bepaal en nie ons emosies nie. Verder is dit belangrik om niks meer te sê as wat die Bybel aan ons bekend maak nie. Calvyn het gesê dat hy nooit iets wil sê wat die Woord nie sê nie en nooit antwoorde wil gee waar die Woord nie antwoorde gee nie. So baie mense in die geskiedenis het in hulle verstaan van God, in vreemde systraatjies afbeweeg, omdat hulle nie gehou het by God se openbaring nie en omdat hulle antwoorde wou gee, waar God nie antwoorde gee nie.
Sal enige mens God se plan en besluite kan verander? Is die mens se wil hoër as God se wil? Is dit vir God belangriker dat die mens ’n vrye wil sal hê en sal Hy daarom Sy eie wil inperk sodat Hy nooit die mens se vrye wil beperk nie? Net hierdie vraag alleen maak dat enige gelowige wil skreeu teen die arrogansie dat iemand dit kan durf glo en dink dat die Almagtige God ingeperk kan word deur die “soewereine” wil van die mens. Luister weer na Nebukadnesar ’n heidense koning wat die God van hemel en aarde leer ken sê En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie? Daniel 4:35 .
Óf God is soewerein óf die mens is. Wat leer die Skrif ons? Spreuke 16:1 Die planne van die hart is van die mens, maar die antwoord van die tong kom van die HERE. Is dit nie duidelik dat mense planne het, maar dat God die laaste sê het nie? Selfs leiers en konings kan niks doen sonder God se goedkeuring en solank dit binne Sy plan val nie. Spreuke 21:1 Die koning se hart is in die hand van die HERE soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil. So kan ons na konings kyk soos die Asiërs, daardie magtige nasie wat God gebruik het om Israel te straf. God noem Assirië die stok in Sy hand. Jesaja 10:5 Wee Assur! die roede van my toorn en ‘n stok is hy—in hulle hand is my grimmigheid! Hy gebruik Assirië soos Hy wil. Jesaja maak dit duidelik dat die koning van Assirië nie eens ’n idee het dat Hy doen wat Hy doen in diens van God nie, nee, hy dink hy het alles self verrig. God vra die vraag aan die koning of hy iets kan doen sonder Hom en beeld dit uit aan die hand van ’n metafoor waar die koning die saag en die byl is, maar God die een is wat die instrument gebruik. Jesaja 10:15 Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof ‘n staf húlle swaai wat hom ophef, asof ‘n stok hóm ophef wat nie hout is nie! Niks kan plaasvind sonder God se raadsplan nie. Amos 3:6 Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar ‘n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?
Verantwoording
“Indien ons dan deur God “beheer” word, kan ek tog sekerlik nie verantwoordelik gehou word vir wat ek doen dit nie?” Of so redeneer baie mense. Die interessante is egter dat God ook aan Assirië sê dat Hy van hulle rekenskap sal vra oor alles. Dus kom die sonde nie van Hom nie, maar Hy beheer en stuur alles soos wat Sy plan is. Hier is die verhaal van Josef se broers wat Hom verkoop as slaaf, ’n illustrasie. Sy broers het haat en ’n wrok teen Josef en hulle intensies is sleg. Hulle wil Josef doodmaak, iets wat God keer deur vir Ruben te gebruik om hom in die put te laat gooi en dan vir Juda wat met die plan om Josef te verkoop vorendag kom. Het God hulle forseer om die slegte dinge te doen? Nee, ons sal eerder sê Hy het hulle gekeer, want hulle intensie was om Hom dood te maak. Tog, bo alles is God se plan wat van altyd af daar was dat Josef na Egipte toe sou gaan om ’n volk in die lewe te hou. Genesis 50:20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. Daar is soveel meer aan hierdie verhaal, want Josef word ’n metafoor van Christus en 400jaar later se uittog uit Egipte word ’n profesie vir Jesus en sy ouers wat sou vlug na Egipte en terugkom na hulle land vanuit Egipte. So kan ons voortgaan en nog baie voorbeelde noem. Die lam se bloed teen die deurkosyn en die uittog deur die Rooisee wat alles metafore sou word van Christus se redding van ons as gelowiges.
Die wreedste daad wat ooit plaasgevind het, was sekerlik Jesus se valse verhoor en Sy wrede dood aan die kruis. Kan ons nie met reg sê dat die Jode en die leiers van die volk alles beplan het nie? Kan ons nie sê dat Herodes en Pilatus hulle idees gehad het om hulle self te bevoordeel met hierdie afskuwelike daad nie? En tog wat sê die Woord? Handelinge 4:27-28 Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind. Hulle sal egter beslis ook verantwoording daarvoor doen. Dit maak Jesus duidelik aan Pilatus deur hom daarop te wys dat hy, wat Pilates is, slegs deur God se gesag op die regterstoel kan sit. Johannes 19:11 Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde. Is Pilatus skuldig voor God? Beslis, maar nie so skuldig soos Judas wat Jesus oorgegee het nie. Dus sien ons weereens dat die sonde uit die slegte van die mens gebore word en hy/sy beslis gestraf sal word daarvoor, maar dat God se plan selfs met die slegte gedagtes van die mens nog steeds uitgevoer word. Kan God mense se vrye wil keer? Wel, ons het dit alreeds by Josef se broers gesien waar hulle hom wou doodmaak en hoe God dit gekeer het sodat Sy plan uitgevoer sou word. Nog ’n voorbeeld is Abraham wat Sara voorstel as sy suster, omdat hy bang was dat die mense van Egipte hom dalk kon doodmaak oor haar. Hier tree God op en Hy keer die farao sodat hy nie aan Sara geraak het nie. God keer dus iemand sodat hy nie sy eie vrye wil nie kan uitoefen nie.
Wat is God se plan?
“As God dan in beheer is, hoekom lyk die wêreld soos dit lyk?” “Hoekom keer God nie die moordenaars en verkragter en al die boosheid in die wêreld nie?” Ons as mens is arrogant. Ons het die vermetelheid om te dink dat ons God kan bevraagteken. Dat ons God kan aanspreek omdat Hy nie aan ons vrye teëls gee sodat ons kan doen wat ons wil nie. Of omdat Hy nie dinge beheer soos wat ons dink goed sal wees nie. Wie dink jy miskien is jy? Miskien vergeet ons ook maar te maklik dat geen persoon regverdig is nie en as God die wêreld sou oorgee aan sy bose gedagtes hierdie wêreld ondraaglik sou wees vir elke gelowige – gelowiges wat God in Sy eie raadsplan en volgens sy eie besluit verlos het
Slot
Romeine 9:20-21 Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie? Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie? Ons God kan nie bevraagteken word nie. Hy is die soewereine God wat vir die kraai kos gee en elke mossie se dood bepaal. Hy weet alles van elkeen en weet en bepaal die lengte van jou dae. Laat elke mens hul knieë buig voor hierdie God voor dit te laat is!
