Artikel 12 DIE SKEPPING VAN ALLE DINGE, VERAL VAN DIE ENGELE Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goedgedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het. Hy het aan elke skepsel `n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien; en Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly. Die duiwels en bose geeste het só ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is; ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.
Inleiding
Waar kom alles vandaan? Dit is die eeu oue vraag wat wetenskaplikes en filosowe deur die eeue besig hou. As gelowiges glo ons dat God alles geskep het. Hierdie skepping was nie lukraak nie, maar doelgerig. Niks het en sal per ongeluk in die wêreld kom nie. Nee, God het alles gemaak met ’n spesifieke doel en daardie doel is om Hom te verheerlik. Hierdie vraag is die kern van ons wêreld beskouing – die doel waarvoor iets gemaak het maak saak, want daarmee kan ons die sukses van ons lewens meet. Indien daar geen doel is nie, is daar ook geen verwagting of vooruitskouing nie en kan mense maar regtig doen net wat hulle wil. Om hierdie rede is die geloof in God as doelbewuste Skepper van alles, die enkele feit wat die wêreld wil ontken.
Geskep om God te dien
God het alles geskep om Hom te dien. Die opdrag wat die dissipels van Jesus ontvang is om Sy bevele aan mense oor te dra en dat hulle aan hierdie bevele gehoorsaam moet wees. Mattheus 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Elke skepsel het ’n taak ontvang en met elke taak wat gedoen word, dien ons Hom. Niemand het per ongeluk in die wêreld gearriveer nie. Elke skepsel is volgens God se plan geskep en met ’n doel geskep. Wat dan van ongelowiges? Wat is hulle doel? Kom ons kyk na ’n gedeelte in Romeine 9. Romeine 9:22-23 En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid. Hier leer ons dat ongelowiges aan ons as gelowiges bewys hoe groot God se barmhartigheid oor ons is. Ons verdien ook God se toorn en tog het ons genade sonder verdienste ontvang. Hierdie besef maak dat ons aan God al die eer gee, met lofprysing en dankbaarheid.
Die engele
Die oomblik wanneer ons begin praat van engele en demone raak mense kriewelrig. Ons loop nou op die dun ys van die bo-natuurlike en dit laat mense dink aan fortuin vertellers en spookstories. Hoewel daar sekerlik baie dinge is wat ons omtrent hierdie onderwerp nie verstaan nie, is daar sekere dinge wat duidelik in die Bybel vir ons vertel word en ons hoef nie van hierdie feite weg te skram nie
Geskape deur God
God het deur Jesus Christus die Engele geskep. Ons weet dat alles in die Hemel en op die aarde in ses dae geskep is. Kolossense 1:16 want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. Alles is nie net deur Hom geskep nie, maar ook vir Hom geskep. Dit word so mooi uitgebeeld in Openbaring 5 as die Lam geprys word deur elke skepsel in die Hemel en op die aarde. Openbaring 5:13 En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!
Die engele is ook geskep sodat hulle die gelowiges kan dien soos wat God bepaal. Hebreërs 1:14 Is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die wat die saligheid sal beërwe nie? Hulle is dus dienende geeste en is daar om die wat die saligheid sal beërwe te bedien. Hulle is nie daar om alle mense tot diens te wees nie, maar slegs vir die wat die saligheid sal beërwe. Jesus gee ’n vermaning vir mense wat struikelblokke veroorsaak vir gelowiges, wat versoekings voor sy kinders plaas sodat hulle kan struikel. Mattheus 18:10 Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemele altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is. Ons sien dus dat gelowiges engele in die Hemel het wat God se aangesig sien en gereed is om gestuur te word die oomblik as God die opdrag gee. Hierdie openbaring word ook deur die vroeë gelowiges geglo en word duidelik as Petrus deur engele uit die gevangenis bevry word. Die gelowiges dink egter eers dat dit nie werklik hy kan wees nie, maar sy engel moet wees. Handelinge 12:15 Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel. Hoe bevoorreg is ons as gelowiges nie!? Daarom kan ek verseker wees dat wat ook al met my of my mede gelowiges gebeur, dit presies is soos wat God bepaal het. Indien Hy my wil beskerm van iets sal Hy my engel opdrag gee om my te beskerm.
Elke engel wat aan God getrou gebly het, het staande gebly en in diens van God gebly a.g.v. God se genade. 1Ti 5:21 Ek besweer jou voor God en die Here Jesus Christus en die uitverkore engele dat jy hierdie dinge sonder vooroordeel in ag neem en niks uit partydigheid doen nie. Hulle is dus die uitverkore engele van God.
Wat van die gevalle engele?
Die Bybel maak dit met ’n uitbeelding duidelik dat die Satan met ander engele uit die Hemel gegooi is. Openbaring 12:4 en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het. Die gevalle engele is in alles wat hulle doen vyande van God en dus ook vyande van die gelowiges. Hulle wil dwaling en valse lering versprei om die Kerk op so ’n manier te vernietig. Hulle wil die gelowige se vreugde en vrede steel wat God hulle belowe. Ons moet verseker weet dat ons elke dag ’n stryd teen hulle voer. Efesiërs 6:12 Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Wat beteken hierdie oorlog stryd? Baie gelowiges is hier baie onseker en word so maklik mislei om toe te tree tot ‘n oorlog waar hulle nie kan wen nie. Ons ken nie ons vyand nie, maar ons ken ons Koning. Die geheim tot suksesvolle oorlogvoering is nie om so veel as moontlik van ons vyand uit te vind nie, maar om so na as moontlik aan ons Koning te leef. Hy het om die waarheid te sê alreeds die oorwinning behaal. Ons kan maar net volg waar Hy lei. Ongelukkig probeer soveel gelowiges hierdie stryd aanpak asof dit slegs iets daarbuite is, terwyl die grootste stryd hier binne, in jouself is.
Omdat ons in ’n stryd is, moet ons ons wapenrusting elke oomblik aanhê. Hier sal ons sien dat dit nie is om die duiwels te bestraf of te bind of meer van hulle te leer soos sommige leer nie. O nee, kyk maar na die gemeente Thiatire wat deur God geprys word, omdat hulle nie hierdie leer het nie. Rev 2:24 En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. Verder kan Judas aangehaal word waar ons geleer word om nie teen hierdie geestelike wesens te laster nie, maar te weet dat God hulle sal oordeel. Judas 1:8-9 Tog besoedel ook hierdie mense net so in hulle dromerye die vlees en verag die heerskappy en laster die heerlike wesens. Maar toe Mígael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou! Ons wapenrusting het te make met ons verhouding met God. Om te glo, om seker te wees van ons verlossing in Christus, te wandel in die waarheid, om te lewe soos wat God is sy Woord van ons vra, om die evangelie met ander te deel en enige geveg binne of buite te trotseer met die Woord van God. Dus is dit belangrik dat jy Sy Woord ken en bestudeer. Dit is ons wapenrusting wat God aan ons gegee het sodat ons staande kan bly. Die gelowige wil nooit speel met sonde nie, want ons weet dat ons teenstander ’n brullende leeu is wat wil hê dat die sonde ons moet verskeur en verwoes. 1Petrus 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.
God in beheer
God is ten volle in beheer van Sy skepping en daarom ook van alle engele – ja, ook die gevalle engele. Weet verseker dat die duiwel en sy magte niks kan doen sonder God se goedkeuring nie. In Job kan ons sien dat die duiwel vir God toestemming moet vra om Job aan te raak. Al het die duiwel en die ander gevalle engele in opstand gekom teen God en al lewe hulle as vyande van God is die ironie dat hulle vandag nog presies doen dit wat God bepaal het sal plaasvind. Die verhaal in die Ou Testament van God wat Agab wil doodmaak in ’n oorlog spreek boekdele van God wat in beheer is van alles. God is op sy troon en ’n hemelse leërskare staan aan sy regter en linkerhand. Hy vra dan wie Agab sal oorhaal om oorlog toe te gaan. Hierop antwoord ’n gees (Satan of gevalle engel) dat hy ’n leuengees sal wees in die valse profete wat Agab sal oortuig om oorlog toe te gaan. 1Konings 22:21-22 Toe kom die gees vorentoe en gaan voor die aangesig van die HERE staan en sê: Ek sal hom oorhaal. En die HERE vra hom: Waarmee? En hy sê: Ek sal uitgaan en ‘n leuengees word in die mond van al sy profete. En Hy sê: Jy sal oorhaal, ja, jy sal ook oorwin; gaan uit en doen so. God gee hom dan opdrag om te gaan. Alles vind onder God se beheer plaas.
Slot
Dit wat ons nodig het om van engele te weet is in die Woord opgeteken en is genoegsaam. Die uitverkore engele is daar om God en sommige vir ons te dien. Die gevalle engele is in vyandskap met God en dus ook met ons. Dit is nie dinge waaroor ons moet top nie, maar waaroor ons ingelig kan wees in so verre die Woord ons daaroor inlig. Enige iets meer is nie van God nie. Niks en niemand is geskep sonder ‘n doel nie en God sal ons die krag gee om in hierdie doel te slaag. Hy is alles. Hy is die skepper en die voleinder van alle dinge. Prys die Here.
