DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES Ons glo en bely ook dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan; dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie maar van albei slegs uitgaan; dat Hy in orde die derde Persoon in die Drie-eenheid is; dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is; dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.
Inleiding
Die Heilige Gees word vandag in baie kerke totaal misken. Sommige kerke is so bang vir die werking van die Heilige Gees, dat Hy net eenvoudig geïgnoreer word. Die teenpool hiervan is weer kerke waar Hy totaal verkeerdelik verantwoordelik gehou word vir allerhande kragtoertjies en emosies. In albei gevalle word die feit dat die Heilige Gees een van die Drie-Eenheid en dus ook God is misken. Hy is nie net ‘n emosie of krag nie. Hy is God.
Hy is ‘n persoon
Net soos in die geval van die Tweede Persoon van die Drie-Eenheid (Jesus), probeer baie mense die Goddelikheid van die Heilige Gees, ontken. Sommige mense probeer die Heilige Gees ekwivalent maak aan iets soos die gees van die mens. Net so, redeneer hulle, is die Heilige Gees net die gees van God. Ons het alreeds in ‘n vorige inskrywing bewys dat die Heilige Gees ’n persoon is. Hy is nie ’n onpersoonlike gees nie. Hiermee bedoel ons dat hy bedroef kan word, Jesaja 63:10 Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef. Efesiërs 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing, en dat Hy intree by die Vader vir ons. Rom 8:26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. Die feit dat Hy ‘n persoon is kan nie duideliker as deur die volgende vers uitgebeeld word nie: Johannes 14:26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Hy is ook ons Trooster.
Verder het ons besef dat daar duidelik van drie Persone gepraat word wanneer daar na God verwys word in voorbeelde soos toe Jesus die dissipels uitgestuur het om mense in God se Naam te doop met die woorde: (Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees) en ook by die seëngroet aan die gemeente in Korintiërs sê Paulus “Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal”. 2 Korintiërs 13: 13.
Die Heilige Gees is God
Ons wil egter verder gaan en aantoon dat nie net is die Heilige Gees ‘n persoon nie, Hy is ook God. Hier kan ons al klaar noem dat die verse hierbo wys dat daar drie persone is wat gelyk gestel word aan mekaar. Hoe sou ons kon sê dat ons gedoop word in drie name as die drie nie God is nie? Hoe sou Paulus kon seëngroet en dit in elkeen van die Drie-Eenheid se name as hulle nie God is nie? Hierdie twee verse wys alreeds vir ons dat alhoewel die Persone in die Drie-Eenheid verskillende rolle het, hulle tog gelyk is.
Skepper Gees
Ons sien dat van die Skepping af duidelik gewys word dat die Gees daar is. In Genesis 1 word die Heilige Gees, die Gees van God genoem. Genesis 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. Hier kan ons net noem dat ons nie hier van die Vader praat nie, al is die Vader gees. Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Tog word hier van die Gees van God gepraat en dus van die persoon van die Drie-Eenheid. Hy is ook deel van die skeppingsproses en het ook geskep net soos wat die Seun geskep het. Jeremia 32:17 sê dat dit God is wat geskep het, Ag, Here HERE, kyk, U het die hemel en die aarde gemaak deur u grote krag en deur u uitgestrekte arm; geen ding is vir U te wonderbaar nie. As die Bybel ons dus leer dat die Seun of die Heilige Gees geskep het weet ons dus dat hulle God is. Kyk na die volgende psalms: “U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut”. Psalms 104:30. Die Gees gee dus lewe. Elkeen van die persone van die Drie-Eenheid het dus geskep, elkeen volgens Sy rol. Dit is verder duidelik dat dit God is wat geskep het en lewe gee. Hebreërs 11:3 Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie of wat van Psalm 33:6 Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.
Die Heilige Gees is ook die geestelike skepper wanneer Hy dooie geestelike mense, geestelik lewendig te maak.
Trooster, lewe en waarheid
Ons sien herhaaldelik in die Woord dat dieselfde eienskappe wat aan die Vader en die Seun gegee word, ook aan die Heilige Gees gegee word.
Ons word in die Bybel geleer dat as gelowiges die Gees in ons sal woon en ons sal lei. In Johannes word ons geleer dat die Gees gestuur word en dat Hy in ons sal woon. Johannes 14:16-17 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ons sien dus dat Hy, die Gees, in ons sal bly. ’n Paar verse later sê Jesus iets merkwaardigs. Johannes 14:23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak en in Johannes 17:26 En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle. Hoe moet ons hierdie vers verstaan? Omdat die Gees werklik God is en die Seun en die Vader God is, is dit dan nie vanselfsprekend dat as die Heilige Gees in my woon God dan in my woning gemaak het nie? Die “Ons” het dus woning in my kom maak.
Ons vind dieselfde as Jesus sê dat as julle my gesien het het julle die Vader gesien. Johannes 14:9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Johannes 14 sê ook verder dat die Heilige Gees die Gees van die waarheid is. Net Een kan beskryf word as waarheid en dit is God. Niemand anders kan waarheid genoem word nie. Jesus word ook die waarheid genoem. Johannes 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak. Jesus word dus die waarheid genoem, die Een wat ons deur sy kruisiging kom vrymaak het. Jesus sê ook vir sy volgelinge dat Hy die waarheid is. Johannes 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Dit is dus duidelik dat die term waarheid, wat verwys na God, Jesus en die Heilige Gees insluit.
Waarlik God
As ons verstaan dat die Heilige Gees ‘n persoon is, soos deur die vorige inskrywings bewys is, dan moet die volgende vers in Korintiërs sy Goddelikheid bevestig. 1Korintiers 2:11 Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Miskien mag jy vra hoe hierdie gedeelte vir ons onomwonde getuig dat die Heilige Gees God is? Daar is geen skepsel wat God kan verstaan nie. Niemand kan ons vertel wat in God is, behalwe God nie. Indien daar dus nou gesê word, dat die Heilige Gees weet wat in God is, en ons weet dat Hy nie net gees is nie, maar ‘n persoon, dan moet Hy ook God wees.
Slot
In die naam van die Heilige Gees word daar vandag allerhande dinge gesê en gedoen wat geensins ooreenstem met die feit dat Hy God is nie. Jesus is baie ernstig wanneer hy mense maan dat sonde teen die Heilige Gees nie vergewe kan word nie. Profete wat in die Ou-Testament gesê het dat God iets sê wat God nie gesê het nie, is met die dood gestraf. Ons moet dus baie versigtig wees hoe ons omgaan met die werking van die Heilige Gees en wat ons aan Hom toeskryf. Hy sal jou lei in waarheid en Sy inwoning in jou lewe sal jou totaal verander. Hy is God in ons en met ons en Hy moet gehoorsaam word.
