Artikel 10 Jesus is waarlik God?!

DIE GODHEID VAN JESUS CHRISTUS Ons glo dat Jesus Christus ten opsigte van sy Goddelike natuur die eniggebore Seun van God is. Hy is van ewigheid af gebore; Hy is nie gemaak nie en nie geskep nie, want dan sou Hy ‘n skepsel wees; Hy is een wese met die Vader, ewig saam met Hom, die ewebeeld van die Persoon van die Vader en die afskynsel van sy heerlikheid (Heb. 1:3) en in alles aan Hom gelyk (Fil. 2:6). Hy is van ewigheid die Seun van God en nie slegs sedert Hy ons natuur aangeneem het nie; so leer die volgende getuienisse ons as hulle met mekaar vergelyk word: Moses sê dat God die wêreld geskep het, en die heilige Johannes sê dat alle dinge ontstaan het deur die Woord, wat hy God noem (Gen. 1:1 en Joh. 1:3). Die apostel sê dat God die wêreld deur sy Seun gemaak het en ook dat God alle dinge deur Jesus Christus geskep het (Heb. 1:2 en Kol. 1:16). So moet Hy wat God, die Woord, die Seun en Jesus Christus genoem word, dus reeds bestaan het toe alles deur Hom geskep is. En daarom sê die profeet Miga: ‘Sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid’ (Miga 5:1), en sê die apostel: ‘Hy is sonder begin van dae of lewenseinde’ (Heb. 7:3). Hy is dus die ware, ewige God, die Almagtige, wat ons aanroep, aanbid en dien.

Inleiding

Ons weet dat ons redding slegs deur Christus is. Hy kon hierdie redding egter slegs bewerk indien hy Waarlik God en waarlik mens was. Deur die geskiedenis was daar mense wat of die goddelikheid of die menslikheid van Christus probeer wegredeneer het. Sonder Sy Goddelike natuur aanbid ons ‘n mens en is ons Godsdiens sonder krag. Daar is egter meer as genoeg getuienis vanuit die Skrif dat Jesus God is, sodat jy enige iemand wat jou wil laat twyfel kan beantwoord.

Hoe mense teenoor Hom reageer het

’n Goeie plek om te begin om te bewys dat Jesus Christus God is, is om te gaan kyk hoe goddelike manne en vroue in die Bybel teenoor Hom opgetree het. Het hulle Hom bloot as ‘n profeet beskou of het hulle Hom gesien as God?  

Hulle het Hom aanbid

Vanuit die Skrif is dit baie duidelik dat net God aanbid mag word. As Johannes in Openbaring die engel wil aanbid wat aan hom die bruilofsmaal van die Lam wys sê die engel aan hom: … Moenie! Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie. Openbaring 19:10. Net God mag aanbid word. Dus as ons in die Bybel bewyse kan vind dat Jesus aanbid is, sou ons kan bevestig dat Hy werklik God is. Hier kan ons aan gedeeltes dink soos Thomas wat die opgestaande Here sien, wat aan hom sê om na sy vinger in sy hande te druk en sy hand in sy sy te steek, waarop Thomas aan Jesus sê …My Here en my God! Johannes 20:28. Ons vind ook dat by Jesus se Hemelvaart ’n aantal van Sy dissipels Hom aanbid al het van hulle nogsteeds getwyfel. Mattheus 28:17  En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel. Ons het ook voorbeelde waar Jesus vanuit die Ou Testament aanhalings neem om te bewys dat Hy God is. Die mense het uitgekom om Hom te prys toe Hy in Jerusalem inkom ’n paar dae voor Sy kruisiging. Ons weet dat hulle nie werklik besef het wie Hy is nie. Hulle besing Hom as die Seun van Dawid. Die owerpriesters en die wetgeleerdes is baie ontsteld hieroor en vestig sy aandag daarop. Mattheus 21:15  En toe die owerpriesters en skrifgeleerdes die wonderwerke sien wat Hy gedoen het, en die kinders wat in die tempel uitroep en sê: Hosanna vir die Seun van Dawid! was hulle verontwaardig.” Jesus antwoord hulle of hulle nie die Skrif gelees het wat sê Uit die mond van kinders en suigelinge het U vir U lof berei nie? Mattheus 21:16. Hierdie aanhaling kom uit Psalm 8.  o HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde! U wat u majesteit gelê het op die hemele. Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak. Psalm8:2-3. In hierdie Psalm wat Jesus aanhaal, word God dus geprys deur die kinders en suigelinge. Jesus bevestig dus dat Hy werklik God is. Die Nuwe Testament is daar ook ’n hele aantal gedeeltes waar die aanbidding van Jesus bevestig word. Hiervan is Hebreërs 1:6 ’n voorbeeld waar al die engele opgeroep word om Christus te aanbid. En wanneer Hy weer die Eersgeborene in die wêreld inbring, sê Hy: En al die engele van God moet Hom aanbid. Paulus vertel ook aan die Filippense gemeente dat daar ’n dag gaan kom waarop almal die knie voor Hom sal moet buig. Filippense 2:10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is. As Jesus as die Lam van God in Openbaring verskyn sien ons dat almal in die Hemel Hom aanbid. Openbaring 5:12-14  en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof. En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier en twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid. 

Hy het hul sondes vergewe

Nog n eienskap wat net aan God toegedig kan word, is die vergewing van sondes. Hierop wil ek net ’n opmerking maak. Daar is teoloë wat van mening is dat die idee dat Jesus werklik God is, nie die deur die Evangelie skrywers ondersteun word nie. Hulle glo ook dat Jesus self nie hierdie siening van Homself gehad het nie. Tog sal ons sien dat die skrywers van die evangelies duidelik wys dat Jesus Homself as God sien. Ons sien dit duidelik in die manier waarop Hy sonde aanspreek en hanteer.

Niemand anders as God mag sondes vergewe nie. Dit het die Joodse leiers maar al te goed verstaan. Markus 2:7  Waarom praat hierdie man so godslasterlik? Wie kan sondes vergewe behalwe Een, naamlik God?  As Jesus net ’n mens was, sou sy aanspraak om sonde te vergewe tereg as godslasterlik beskou word. Tog sê Jesus aan die man wat deur sy vriende deur die dak van die huis laat sak is: Seun, jou sondes is jou vergewe! Markus 2:5. As Hulle dan vir Hom vra hoe Hy dit kan doen, antwoord Hy hulle met ‘n teenvraag, nl. wat is makliker om te sê:  “jou sonde is vergewe” of om te sê: “Staan op en loop.” Die argument hier is dat om te sê jou sonde is vergewe is iets maklik om te sê, aangesien geen mens dit kan verifieer nie. Hoe sal mens nou weet of iemand se sonde vergewe is of nie? Dit is mos nie iets wat jy kan sien nie. Om iemand te genees is nie so maklik nie, want almal sal sien as die persoon nie werklik genees word nie. Tog, hoe kan jy genees as dit nie uit die hand van God kom nie en hoe sal dit uit Sy hand wees as jy godslasterlik praat. God luister tog net na die gebede van die regverdige! 1Petrus 3:12  Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners. Elke keer in die Evangelies waar Jesus dus sonde vergewe, was en is ’n duidelike uitspraak aan almal dat Jesus God is.

Hy het wonderwerke gedoen

Jesus bewys verder dat Hy God is as Hy aan Sy dissipels die mag gee om siekes gesond te maak en onrein geeste uit te dryf. Mattheus 10:1  En Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees.

Ander dade wat Jesus gedoen het wat aan ons bewys dat Hy God is:

Net God het mag oor die natuur. Jesus wys dat Hy God is as Hy die storm in een oomblik tot bedaring bring net deur sy woorde. Die dissipels is vreesbevange as hulle die storm op die see beleef, terwyl Jesus vas aan die slaap is. Hulle maak Hom wakker en roep Hom aan om hulle te red. Hy staan op en bestraf die winde en die see en daar kom ’n groot stilte. Mattheus 8:26 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het ‘n groot stilte gekom. Jesus is ook die een wat op die golwe kan loop. Hier kom Job se beskrywing van wie God is onmiddellik in ons gedagtes. Job 9:8 wat alleen die hemel uitspan en stap op die golwe van die see. Hy is ook die een wat mag het om die bose geeste uit te dryf. As Hy die duiwels wil uitdryf uit die man wat duiwels in hom gehad het maak die duiwels drie aanmerkings wat aan ons wys dat hulle weet dat Hy God is. Eerstens noem hulle Hom Seun van die Allerhoogste God. Mattheus 8:29 En meteens skreeu hulle en sê: Wat het ons met U te doen, Jesus, Seun van God? Die tweede aanmerking is in dieselfde vers waar hulle Hom vra of Hy gekom het om hulle voor die tyd te pynig. Het U hier gekom om ons voor die tyd te pynig? Mattheus 8:29. Kyk na die bevestiging dat God die pyniging sal doen in Openbaring 14. Openbaring 14:10 sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. Die derde aanmerking is dat Hy mag het om hulle uit te dryf en te beveel waar hulle moet gaan, die mag wat geen mens het nie. Mattheus 8:32 En Hy sê vir hulle: Gaan! Toe gaan hulle uit en vaar in die trop varke in; en daar storm die hele trop varke van die krans af die see in en kom in die water om.

Hy verklaar Sy Goddelikheid

Jesus toon duidelik in Johannes aan dat God, hoewel een God, uit meer as een persoon bestaan as Hy verklaar: Johannes 10:30  Ek en die Vader is een. Nie net sê Jesus dat Hy en die Vader een is nie, maar die Grieks gebruik die meervoud vir “is”. Dus word aangetoon deur die skrywer dat Jesus nie wil sê dat hy ook die Vader is nie, maar dat Hy en die Vader albei God is en hulle saam een is.

Die Woord verklaar Sy Goddelikheid

Ander bewyse van Jesus se Godheid is dat beskrywings wat alleen aan God toegedig word, ook aan Hom gegee word. In die Ou Testament, waar Jesus se geboorte geprofeteer word, word Hy beskryf met woorde wat alleen aan God behoort. Jesaja 9:5 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—. Hy is die sterke God. ‘n Beskrywing wat alleen aan God behoort. Hy word ook “Ewige Vader” genoem. ’n Beter vertaling sou wees, “Vader van die toekoms” of “Die Een wat in beheer is van die toekoms”, wat ’n eienskap is wat ook alleenlik aan God toegedig mag word. Die Bybel maak dit verder duidelik dat Jesus die Alfa en Omega is. In Hoofstuk 1 van Openbaring word Jesus beskryf as die Een wat weer sal kom op die wolke en dat Hy die Alfa en Omega is. Openbaring 1:7-8 Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf; ja, amen! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige. Hierdie is dieselfde beskrywing van wie God is in Jesaja. Jesaja 44:6 So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.

Slot

Hierdie is maar enkele gedeeltes wat as onteenseglike bewys dien dat Jesus God is. Daar is nog baie ander gedeeltes wat aangehaal kan word, maar ek is verseker, na net hierdie paar verse, dat daar geen twyfel by enige soekende persoon sal wees, dat Jesus werklik God is nie.