Artikel 9 Sien jy die Drie-Eenheid?

SKRIFGETUIENIS OOR DIE LEER VAN DIE DRIE-EENHEID Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie-eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie. Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en 27: ‘En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis… En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape’; Genesis 3:22: ‘Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons’. Wanneer God sê: Laat Ons mense maak na ons beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Weliswaar sê Hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor, wat sê: ‘Dit is my geliefde Seun’ (Matt. 3:17). Die Seun is in die water gesien, en die Heilige Gees het Hom in die vorm van ‘n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: ‘Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees’ (Matt. 28:19). In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: ‘Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word’ (Luk. 1:35); eweneens: ‘Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal’ (2 Kor. 13: 13), en: ‘Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig’ (1 Joh. 5:7-8). Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie Persone in een, enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet. Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart. Hierdie leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en dergelike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is. Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicéa en Atanasius, en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.

Inleiding

Ons begin hierdie week se inskrywing met ‘n lang uittreksel uit die Nederlandse Geloofsbelydenis, omdat dit eintlik die hele lering aangaande die Drie-eenheid baie mooi verwoord, al is die taal dalk bietjie moeilik.

Verdediging van die Drie-Eenheid

Een van die tekste wat in die uittreksel ter verdediging van die leer van die Drie-Eenheid gegee word, is 1 Johannes 5: Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een. Indien jy egter hierdie teksvers in enige Nuwe Vertaling gaan opsoek sal jy net vind: “Daar is dus drie wat getuig”. Hierdie langer weergawe kom voor in die Textus Receptus van die 15de eeu, wat die Griekse teks was vir die meeste vertalings vir die volgende 250 jaar. Hiervan is die King James Version sekerlik vandag nog die bekendste. In die meeste nuwe vertalings sal u vind dat die verkorte vers aangehaal word. Die rede hiervoor is dat in die oudste tekste tot ons beskikking, net die verkorte weergawe gevind word. ’n Verdere rede waarom ons seker was dat hierdie langer weergawe nie bekend was aan die vroeë kerk nie is omdat dit nie in debatte aangaande die Drie-eenheid in die kerk ter verdediging van die Drie-eenheid aangehaal word nie. As gelowiges is ons altyd op soek na die oudste teks van die Bybel en daarom het die nuwe vertalers geen probleem om die regstelling ten gunste van die ouer weergawe te maak nie. Ons as gelowiges moet nooit bang wees in ons soeke na die oorspronklike tekste as die mees akkurate teks nie, want ons glo dat die skrywers van die Bybel deur God geïnspireer was. Hier kan verder genoem word dat al is daar sulke verskille, nie een van die verskille ‘n wesenlike verskil aan die teologie van die Bybel maak nie. Dit is wonderlik as jy daaraan dink dat ons, net in terme van Griekse bronne, meer as 5500 geskrifte het en saam met die Latynse en Koptiese bronne naby aan 19000 geskrifte het. Die rykdom van geskrifte is verstommend as ons dink hoe die kerk deur die eeue vervolg is en hoe die vyande van die kerk probeer het om alle Bybelse geskrifte te konfiskeer en verbrand.

Verwysings na Jesus en die Heilig Gees in die Ou sowel as Nuwe Testament

Dit is baie duidelik vanuit die Ou Testament openbarings aan die mens, dat ons in God meer as een persoon het. Hier noem die Nederlandse geloofsbelydenis ’n paar voorbeelde. Dit is vir almal baie duidelik dat die Vader teenwoordig is in die Ou Testament. Die meeste sektes en ketters bevraagteken die Seun en/of die Heilige Gees se aandeel aan die Drie-eenheid. Daarom wil ek spesifiek aan die verwysings na die Seun en die Heilige Gees in sowel die Ou en Nuwe Testament  aandag geen. In Artikel 10 en 11 sal daar aangetoon word dat Jesus Christus en die Heilige Gees God is, so hier sal ek nie aandag gee aan die bewyse hiervan nie, maar slegs aantoon dat die Drie-eenheid oral sigbaar is deur die hele Skrif.

Die Heilige Gees

In Jesaja 42 word aan ons ’n profesie geopenbaar wat vervul is met Jesus Christus se koms na die wêreld. In hierdie gedeelte word ook aangetoon dat die Heilige Gees op Hom sal kom. Jesaja 42:1  Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel ‘n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Dit word natuurlik vervul by die doop van Jesus deur Johannes, toe die Heilige Gees op Hom neerdaal in die vorm van ’n duif. Mattheus 3:16  En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ‘n duif neerdaal en op Hom kom. Die Psalmdigter maak dit duidelik dat die Heilige Gees die Een is wat lewe gee aan die wat geskep word. Psalm 104:29-30  U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut. Hy is dus die Een wat lewe gee. Ons sien in die gesig wat Esegiël sien, dat dit die Heilige Gees is wat die doodsbeendere wat spiere, senings en vlees kry laat lewe as Hy soos ’n wind oor hulle kom. Esegiël 37:9  Daarop sê Hy vir my: Profeteer tot die gees, profeteer, mensekind, en sê aan die gees: So spreek die Here HERE: Kom aan uit die vier windstreke, o gees, en blaas in hierdie dooies, dat hulle lewendig kan word. Waaraan laat dit jou onmiddellik dink? Ja, Jesus wat vir Nikodemus sê dat jy nodig het om gebore te word van bo deur die werking van die Heilige Gees en dan volg hierdie vers: Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Johannes 3:8.

Die Heilige Gees kom oor mense in die Ou Testament en stel hulle in staat om te doen dit waarvoor God hulle geroep het. Hier kan ons kyk na die sewentig leiers wat oor die volk aangestel sou word deur Moses. Numeri 11:25  Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer; maar daarna nie meer nie. Nie net kom die Gees op hulle rus nie, maar Hy toon ook aan wie hulle is. Dit vind dan ook op ’n bonatuurlike wyse plaas op Pinksterdag as die Heilige Gees op diegene wat bymekaar was neerkom. Die Ou Testament leer ons ook dat die Heilige Gees die Ou-Testamentiese gelowiges geïnspireer het tot heilige lewens. Psalm 143:10  Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ‘n gelyk land. Dit word dan ook bevestig in die Nuwe Testament dat die Heilige Gees ons sal lei in Heiligheid en ons in staat sal stel om heilige lewens te wil lei. Nie net word die Gees aangetoon in die Ou Testament nie, maar die werking van die Heilige Gees stem ook ooreen met die werking van die Heilige Gees in die Nuwe Testament.

Sommige sal wel erken dat die Heilige Gees in die Ou en Nuwe Testament aangetoon word, maar glo nie dat Hy werklik ’n persoon is nie. Dat dit Heilige Gees ’n persoon is, is egter duidelik uit die volgende teksverse:

  • Dawid sê in 2 Samuel dat die Heilige Gees deur my gespreek het. 2Samuel 23:2  Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong. 
  • Die Ou en Nuwe Testament leer ons ook dat ons Hom kan bedroef. Jesaja 63:10  Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry.
  • Efesiërs 4:30  En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Dit is tog interessant om hier te noem dat die dinge wat ons hoor die Heilige Gees bedroef ook dieselfde dinge is wat God bedroef. Genesis 6:6  het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart.

Jesus, die Seun

Jesus word baie duidelik in die Nuwe Testament as een van die Drie-eenheid bevestig. Hier is die formule vir die doop ’n onteenseglike bewys, as Hy nie net as een van die Drie-eenheid genoem word nie, maar ook saam met die Heilige Gees op gelyke vlak met die Vader geplaas word. Dit is baie duidelik vanuit die Skrif dat niemand gelyk aan God is en niemand anders as God aanbid moet word nie. Die Nuwe Testament wys ons baie duidelik daarop dat Jesus in die Ou Testament alreeds daar was en God is. Jesus wys in Johannes 12 dat die Een wat Jesaja in Sy heerlikheid in Jesaja 6 gesien het, Hyself was. Ons weet dat die verskyning van God aan mense in die Ou Testament nie God die Vader kon wees nie, want dan sou hulle nie bly lewe het nie. Hulle bely egter dat hulle God gesien het en dit word vanuit die bril van die Nuwe Testament duidelik dat dit Jesus, die tweede persoon van die Drie-Eenheid was, wat hulle gesien het. Voorbeelde van Goddelike verskynings is aan Simson se ouers en aan Hagar.

Slot

Die Drie-Eenheid is duidelik sigbaar deur die hele Skrif al kom die woord nie eenkeer in die Skrif voor nie. Dalk is dit goed om ’n aantekening te maak elke keer as jy dit raaklees. Die oomblik as jy daarop fokus, sien jy dit oral. Miskien is dit omdat dit moeilik is om te verstaan of selfs te verduidelik dat mense probeer om dit te misken, of net omdat dit ’n manier is om mense te laat twyfel in die Woord en die Christelike geloof. Dit is dus belangrik om vir mekaar te sê dat ons dit alleenlik kan glo as God ons geestelike oë oopmaak. Geen mens, hoe wonderlik sy oorredings vermoë ook al is, kan iemand hierdie openbaring laat glo nie. Dit kan slegs aanvaar word in geloof deur die Openbaring van die Skrif deur die lewendmakende Gees. Mattheus 16:17  Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is. 

Dit word geopenbaar deur God – God-Drie-Enig.