Artikel 8 GOD IS EEN IN WESE EN ONDERSKEIE IN DRIE PERSONE Ons glo volgens hierdie waarheid en hierdie Woord van God in ‘n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader en die Seun en die Heilige Gees, wat in werklikheid en in waarheid en van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie. Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die Seun is die Woord, die Wysheid en die Beeld van die Vader. Die Heilige Gees is die ewige Krag en Mag wat van die Vader en die Seun uitgaan. Nogtans volg uit hierdie onderskeiding nie dat God in drie gedeel is nie, aangesien die Heilige Skrif ons leer dat die Vader en die Seun en die Heilige Gees elkeen sy eie selfstandigheid het, deur sy eienskappe op so ‘n wyse onderskei dat hierdie drie Persone slegs een enige God is. Dit is dus duidelik dat die Vader nie die Seun en die Seun nie die Vader is nie; eweneens dat die Heilige Gees nie die Vader en ook nie die Seun is nie. Nogtans is hierdie Persone, wat so onderskeie is, nie gedeel nie en ook nie onderling vermeng nie. Want die Vader en die Heilige Gees het nie vlees aangeneem nie, maar slegs die Seun. Die Vader was nooit sonder sy Seun of sy Heilige Gees nie, want al drie is van gelyke ewigheid in een en dieselfde Wese. Daar is nie ‘n eerste of ‘n laaste nie, want al drie is een in waarheid, mag, goedheid en barmhartigheid.
Inleiding
In die Nederlandse geloofsbelydenis is vir ons bevestig dat die Woord van God betroubaar en deur God geïnspireer is (geblaas volgens die Grieks) en dat ons dit kan glo. Dit is belangrik dat dit vir ons bevestig word, want die Drie-eenheid kan ons alleen verstaan in soverre God dit deur Sy Woord aan ons geopenbaar het. Geen mens sou die Drie-eenheid begryp of begrip daarvan hê as God nie die inisiatief geneem het om dit aan ons te openbaar nie. Die Drie-eenheid kan nie vanuit die natuur geleer word nie, nee ons het ’n spesifieke openbaring nodig. Wat ons dus van God kan sê kan ons alleen sê op grond van God se openbaring in die Woord.
Wie is God?
Die Woord leer ons dat daar net een God is. Kom ons kyk na ’n paar verse wat hierdie waarheid aan ons openbaar:
- Deuteronomium 6:4 Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.
- Deuteronomium 32:39 Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie.
- 2Samuel 7:22 Daarom is U groot, HERE God! Want daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.
- Romeine 3:30 aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof.
- Galasiërs 3:20 En die middelaar is nie net vir een nie; maar God is een.
Hierdie verse, saam met baie ander in God se Woord, openbaar aan ons dat daar net een God is. Hy is ’n enige Wese. Die Vader is Heilig en die Seun is Heilig en die Heilige Gees is Heilig. Elkeen van die persone van God is genadig, is liefde, haat sonde, is soewerein en is regverdig. Omdat dit God se eienskappe is, kan ons nie die Vader identifiseer as meer liefdevol as die Seun of die Seun meer liefdevol as die Vader nie. ’n Voorbeeld hiervan is in Johannes waar Jesus dit duidelik maak dat niemand die Vader ooit gesien het nie. Johannes 6:46 Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien. Tog sê Jesus later in Johannes die volgende aan Thomas: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Johannes 14:9. Wat het Jesus bedoel? Jesus het aan hulle getoon dat die Woorde wat Hy aan hulle spreek Woorde is wat van die Vader kom. Daar is dus eenstemmigheid tussen die Vader en die Seun. Die Vader sê dus nie een ding en die Seun iets anders nie. As jy die Seun leer ken en weet wat Sy begeertes en wil is dan sal jy ter gelyke tyd ook die Vader se begeertes en wil leer ken. Dieselfde kan van die Heilige Gees gesê word.
Die Verlossingsplan
Die beeld van die Drie-Eenheid word pragtig uitgebeeld in die Verlossingsplan. God die Vader kies ons voor die grondlegging van die wêreld. Efesiërs 1:3-5 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil. Dus is dit duidelik wat God die Vader se plan is. Jesus kom na die wêreld en sterf vir die wat God die Vader uitverkies het. Johannes 10:15 Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape. Jesus maak dit baie duidelik dat die skape hulle is wat na Sy stem sal luister. Die Heilige Gees maak ons, vir wie God die Vader uitverkies het en die Seun gesterf het, lewendig. Johannes 3:3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodemus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Die woord in die Grieks vir wedergeboorte beteken eintlik gebore van bo. Hierdie geboorte van bo, sê Jesus vir Nikodemus, vind plaas deur die werking van die Heilige Gees wat soos die wind is en wat waai waar Hy wil. Uit hierdie kort voorbeeld word aangetoon dat daar oor eenstemmigheid tussen die drie persone van die Drie-eenheid is en dat elkeen se werk, begeerte en wil ooreenstem.
Die Vader, die Seun en die Gees
Die Vader is die oorsaak, oorsprong en begin van alle sigbare en onsigbare dinge. Die belydenisskrif wil aan ons kommunikeer dat alles hulle ontstaan in God die Vader gehad het. Tog het die Skepping nie los van die res van die Drie-eenheid ontstaan nie. Ons leer dat God in die begin die volgende gesê het “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip”. Genesis 1:26. Al drie persone was dus betrokke. Alles word geskep deur die Woord wat die Seun is. Johannes 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie. Alles is dus in wording gekom deur die Woord. Dit word ook bevestig in Kolossense. Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. Kolossense 1:15-16. Die Heilige Gees was ook dáárby betrokke. Daarom sien ons dat die Heilige Gees in die begin oor die waters sweef. Genesis 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. Hy bring dit in wording. Net soos Hy lewe in ons skep, bring Hy ook die Woord wat gespreek word tot uitvoering. Hoe mooi is die uitbeelding van die eenheid in die Drie-eenheid nie.
Elkeen van die Drie-eenheid is selfstandig al is hulle een God. Die Drie-eenheid se persone vermeng nie met mekaar nie. Dit is een God maar duidelik drie persone. Elkeen het sy eie wil, elkeen het ook Sy eie persoonlikheid. Die Vader en die Heilige Gees het nie vlees geword nie, maar wel die Seun. Tog was die Seun God al was Hy ook vlees. Die Drie-eenheid is deur alle eeue in die Kerk geleer en ek dink nie daar is ’n beter illustrasie van hierdie leer as elke keer wat iemand gedoop word nie. Die doop vin plaas in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Dus het die Kerk die Drie-Eenheid as waarheid bely. Elkeen van die drie persone van die Drie-eenheid kan langs mekaar op gelyke vlak geplaas word, omdat hulle drie Een God is. Dit is nie dat een van die Drie-eenheid hoër is of meer gesag as ’n ander een het nie. Nee, elkeen is God. Dit is een God. Die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God.
Slot
Dit is voorwaar nie ’n maklike begrip om te verstaan of aan iemand anders te verduidelik nie. Hier is dit nodig dat ons as gelowiges die Bybel sonder voorbehoud aanvaar as die waarheid en dit net glo soos wat dit aan ons geopenbaar word. Aanbid God soos wat Hy van ons vra, bid in die Naam van Jesus Christus tot God die Vader en laat dit aan die Heilige Gees oor om jou te lei en te onderrig in die Waarheid. Die perfekte plan is deur God (Vader, Seun en Gees) in werking gestel om jou aan te neem as kind van God. Prys Hom.
