Artikel 6-7. Die Woord is ons Gesag!

ONDERSKEID TUSSEN DIE KANONIEKE EN APOKRIEWE BOEKE Ons onderskei hierdie heilige boeke van die apokriewe boeke: die derde en vierde boek van Esra, die boek van Tobias, Judit, die Wysheid, Jesus Sirag, Barug, die byvoegsel by die geskiedenis van Ester, die Gebed van die drie manne in die vuur, die Geskiedenis van Susanna, die Beeld van Bel en van die Draak, die Gebed van Manasse en die twee boeke van die Makkabeërs. Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.

DIE VOLKOMENHEID VAN DIE HEILIGE SKRIF Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ‘n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê. En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat, blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietig. Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: ‘…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is’, en: ‘As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…’

Agtergrond

Hierdie artikel is tydgebonde in die sin dat dit spesifiek na die Apokriewe boeke wat die Katolieke kerk aanvaar het verwys. Hierdie boeke gee ons insig in die tydperk na die laaste boek van die Ou Testament, Maleagi, geskrywe is. Dit gee ons insig in die kulturele, ideologiese en politieke agtergrond in die tydperk voor Jesus se geboorte. Die boeke bestaan uit verhale, lesse, verootmoediging, liturgie, briewe en apokaliptiese voorspellings (soos Openbaring). Baie protestante het dit deel gemaak van spesifieke Bybel publikasies, maar duidelik daarop gewys dat dit apokriewe boeke is. Ons vind hierdie apokriewe bv. In Luther se 1534 Duitse vertaling en tot die King James Version in die 19 de eeuse uitgawe. Dit is baie belangrik op daarop te wys dat dit nooit met dieselfde gesag as die ander kanonieke boeke bejeën is nie.

Daar was twee redes hoekom die protestante nie hierdie boeke op dieselfde vlak as die kanonieke boeke geplaas het nie. Die eerste was dat die Nuwe Testament meer as 300 keer na die Ou Testament verwys en tog word daar nie eenkeer na hierdie apokriewe boeke verwys nie. Tweedens het die protestante gevolg in die spoor van die vroeë Kerk wat ook nie hierdie boeke as deel van die kanon aanvaar het nie. Calvyn wys daarop dat die kerkvaders na hierdie boeke as kerklike en nie kanonieke boeke verwys wat aan die mense gelees mag word, maar nooit die doktrine mag bepaal nie. Melito van Sardis (oorlede 180n.C.) en Athanasius (geleef van 296-373 n.C.) het nie hierdie boeke genoem in hulle geskrifte nie. Jerome, wat in die vierde eeu gevra is om die Latynse Vulgaat saam te stel, het ook nie die Apokriewe deel van die res van die Bybel gemaak nie. Ander wat voor die Reformasie geleef het, het duidelik daarop gewys dat daar ’n onderskeid was tussen hierdie boeke en kanonieke boeke. Onder hulle kan genoem word Justin Martyr(100 -160n.C.), Gregorius die Grote(540-404n.C.) en John Wycliffe(1330-1384 n.C.)

Inleiding

Die Apokriewe boeke het veral in die laaste eeu populariteit gewen in veral die Katolieke Kerk en sommige Charismatiese kerke. Die vraag ontstaan dadelik wat hierdie boeke ons dan leer wat verskillend is van die Skrif soos wat ons dit leer ken en aanvaar het. Hoekom is dit dat so baie mense hierna neig?

Waar daar ‘n wil is, is daar n weg

Die opskrif van hierdie paragraaf is geskryf in ‘n negatiewe konteks. Soms wanneer ons iets wil glo en wil regverdig sal ons op een of ander manier iemand of iets kry wat ons geloof bevestig.  Die redes waarom hierdie boeke in die 16de eeu deur die Rooms-Katolieke kerk aanvaar is, het meer te make gehad met die feit dat van hulle doktrines alleen bewys kon word vanuit die Apokriewe boeke. Hier kan ons die dogma van die vagevuur en die gebede vir die dooies noem. Die vagevuur is ’n plek waar ’n mens vertoef na jou dood totdat jy die heiligheid bereik het deur lyding sodat jy aan kan beweeg na die Hemel. Hier kan ons sien dat hulle nie glo dat Jesus se volmaakte offer vir die sonde oorgedra word op die gelowige en ’n volkome versoening is nie. Die gevaar is altyd as ek met my eie idees na die Skrif gaan om te bevestig wat ek alreeds as die waarheid aanvaar, i.p.v. dat die Skrif my rig in my verstaan van wie God is. Ons doen dieselfde as ons vir ons predikante soek wat sal bevestig dit wat ek graag WIL glo, en nie dit leer wat die Skrif duidelik sê nie.Paulus waarsku ons dat daar sal ‘n tyd sal kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat  hulle graag wil hoor.2 Timotheus 4:3

Die Skrif is genoegsaam

Ons moet altyd weet en glo dat die Skrif vir ons genoeg is en dat ons geen nuwe lering nodig het om die Skrif te verstaan of beter te openbaar nie. 2Timoteus 3:16-17  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Geen boek of lering wat dinge van God leer wat nie in die Skrif staan moet deur die gelowige aanvaar word nie. Paulus was baie sterk hieroor en ons sien dit duidelik wanneer hy aan die Galasiërs skrywe. Galasiërs 1:8  Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! Individue in die Galasiër gemeente het geleer dat jy nie net Christus moes hê nie, maar ook besny moes word. Alreeds in die Ou Testament het God dit baie duidelik gemaak dat dit nie die besnydenis was wat jou gered het nie en dat baie wat besnede was verlore sou gaan. Deuteronomium10:16  Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie. Dit is dus duidelik dat God wou hê hulle harte aan Hom moes behoort en nie ’n uitwendige teken nie. Jeremia waarsku die volk dat God hulle gaan oordeel omdat al is hulle besny hulle lewe soos onbesnedenes, d.w.s. soos heidene. Jeremia 9:25  Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek besoeking sal doen oor almal wat besny is, wat nogtans onbesnede is.

Hoekom is hierdie beginsels so belangrik? Vandag is daar meer en meer mense wat “openbarings” van God “gehoor” het en dit aan ander as die waarheid openbaar. Hieroor is die Bybel baie duidelik. Spreuke 30:6  Voeg by sy woorde niks by nie, sodat Hy van jou nie rekenskap vorder en jy as ‘n leuenaar openbaar word nie. Dit word baie duidelik in die Ou en Nuwe Testament gestel dat God nie toelaat dat enige iemand iets by sy Woord byvoeg nie. Deuteronomium 4:2  Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel. Dit word ook bevestig deur die aanhaling uit Openbaring die laaste boek in die Bybel. Openbaring 22:18  Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.

Valse profete

Dit maak dus nie saak wie die persoon was of is nie, by ons as gelowiges is dit van geen belang nie, net Sy Woord word deur ons as gesaghebbend en onfeilbaar aanvaar. Dit is dus nie ligtelik as iemand sê dat Hy ’n boodskap van die Here ontvang het nie. Wat sê jy hierdeur? Wel, eerstens sê jy hierdeur dat die Bybel nie genoegsaam is nie. Dit is iets wat God verklaar het, so tweedens word God dan tot leuenaar gemaak.  Sê jy dat God gelieg het? Derdens sê jy dat jou woorde, as komende van God, by die Bybel gevoeg moet word.  Watter godslastering? Hoe vol moet jy nie van jouself wees om jou so aan te matig nie? Geen person, hoe opreg of toegewyd jy ook al dink dat hy/sy is, moet enigsins gevolg word nie. Ons moet nooit ons vertroue op mense plaas nie. Psalm 116:11  Ék het in my angs gesê: Alle mense is leuenaars of Romeine 3:13  Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Dit beteken die mens is van nature ’n leuenaar. Sal jy ’n mens se woord bo die van God se Woord vertrou? Ons moet ons vertroue plaas in iets wat bo of buite die mens is. God se Woord is “God geblaas” en is dus nie deur die mens veroorsaak of in ooreenstemming met die denke van ’n mens nie. Daarom moet alles wat mense sê, aan die hoogste gesag, die Woord getoets word. Daar was in die Bybelse tyd valse profete en daar sal valse profete wees totdat Christus weer kom. Jeremia 14:14  En die HERE het vir my gesê: Die profete profeteer vals in my Naam; Ek het hulle nie gestuur en hulle geen bevel gegee en met hulle nie gespreek nie; hulle profeteer vir julle ‘n leuengesig en nietige waarsêery en bedrieëry van hulle hart. Hulle spreek dinge wat hulle self opgemaak het en gee vir mense valse hoop. Jeremia 23:16  So sê die HERE van die leërskare: Luister nie na die woorde van die profete wat vir julle profeteer nie; hulle vervul julle met ydele verwagtinge; gesigte uit hul eie hart verkondig hulle, nie uit die mond van die HERE nie. Jy moet baie keer vir jouself afvra hoekom hou ek van hierdie boodskap. Is dit my vlees wat graag hierdie boodskap wil hoor. Die valse profeet gaan altyd spreek in ooreenstemming met wat die vlees van die mens wil hoor. God vertel deur Moses dat Hy die valse profeet gebruik om sy mense te toets of hulle werklik Hom lief het bo enige iets anders. Deuteronomium13:3  dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. Enige persoon wat iets leer in stryd met God se Woord moet vermy word ten alle koste. 2Johannes 1:10  As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie en groet hom nie. As die Here jou hoogste liefde is, sal dit wat die valse profete vir jou belowe geen aantrekkingskrag wees nie. 

Geestelike boeke en belydenis skrifte

Moet ons dan net die Bybel lees? Nee, ons kan en moet verseker ook ander geestelike boeke lees, die belydenis skrifte bestudeer – soos wat ons met hierdie blog inskrywings doen, en luister na predikante wat die Woord suiwer verkondig. Die klem is egter op die suiwerheid van die Woord. Die Here gebruik manne van God om die Woord vir ons uit te lê en soms prakties te maak in die wêreld waarin ons leef. Self het ek al baie baat gevind by ander se insig en kennis in die Skrif. Die bron is egter altyd die Skrif.  Ook die belydenis skrifte was ons bestudeer is wat  manne van God neergepen het aangaande hul verstaan van wat die Woord ons leer. Dit bind ons saam as ‘n eenheid om te kan verklaar dat ons dieselfde glo as wat in die belydenis skrifte verklaar word.

Hier is dit ook belangrik dat ons vir mekaar sê dat al bestudeer ons die belydenis skrifte ons dit nooit as gelyk of bo die Skrif mag sien nie. Dit is daar om ons daarop te wys wat die Kerk deur die eeue geglo het en hoe hulle gelei is deur die Heilige Gees. Tog kan die belydenis foute hê maar die Woord van God nooit.

Slot

Die Woord van God verklaar dat dit genoegsaam is om ons te leer en te lei in die Weg en die Waarheid na die Ewige Lewe. Dit is ‘n Lewende Woord. Lees dit elke dag en Leef!