Artikel 4 en 5. Ek glo alles in U Woord!

Artikel 4 DIE KANONIEKE BOEKE VAN DIE HEILIGE SKRIF Ons vat die Heilige Skrif in twee dele saam: die Ou en die Nuwe Testament. Dit is die kanonieke boeke waarteen niks ingebring kan word nie. Hulle getal in die kerk van God is soos volg: Die boeke van die Ou Testament, nl. die vyf boeke van Moses: Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium, die boeke Josua, Rigters, Rut, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings, 1 en 2 Kronieke (genoem), Esra, Nehemia, Ester, Job, die Psalms van Dawid, drie boeke van Salomo: Spreuke, Prediker en Hooglied; die vier groot profete: Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël; en vervolgens die twaalf klein profete: Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk, Sefanja, Haggai, Sagaria en Maleagi; Die boeke van die Nuwe Testament, nl.: die vier evangeliste: Matteus, Markus, Lukas en Johannes; die Handelinge van die apostels; die veertien briewe van die apostel Paulus: aan die Romeine, twee aan die Korintiërs, aan die Galasiërs, die Efesiërs, die Filippense, die Kolossense, twee aan die Tessalonisense, twee aan Timoteus, aan Titus, Filemon en Hebreërs; die sewe briewe van die ander apostels: die brief van Jakobus, twee van Petrus, drie van Johannes en die brief van Judas en die Openbaring van die apostel Johannes.

Artikel 5 DIE GESAG VAN DIE HEILIGE SKRIF Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.

Inleiding

Artikel 4 en 5 sê vir ons uit watter boeke die Bybel bestaan en dat ons hierdie en hierdie boeke alleen beskou as die Woord van God. Waarom juis net hierdie boeke in die kanon ingesluit is, terwyl ons weet dat daar ook ander boeke (bekend as die Apokriewe boeke) rondom die Skrif geskryf is, sal met die volgende inskrywing bespreek word. Hierdie Artikel wil egter wegspring met ‘n stelling – Hierdie boeke is die Woord van God, niks minder nie en niks meer nie, en ons aanvaar alles daarin.

(Sommige mag dalk opmerk dat Artikel 4 die boek van Hebreërs aan Paulus toeken, terwyl ons egter weet dat daar vandag twyfel daaromtrent is. Ek wil dit net graag verduidelik.

In die Nederlandse geloofsbelydenis word die boek Hebreërs as deel van die boeke wat Paulus geskrywe het gehanteer. Interessant genoeg het meeste apostoliese vaders Paulus as die outeur van Hebreërs beskryf. Daar het eers baie later, a.g.v. die Grieks en die skryfstyl, twyfel ontstaan of hy werklik die outeur was. Tog is die interne getuienis van ’n teks moeilik om aan ’n spesifieke persoon toe te dig aangesien mense in verskillende omstandighede, verskillende maniere gebruik om hulleself uit te druk. Dink byvoorbeeld as jy ’n toespraak sou skrywe aan kollegas by die werk, teenoor ’n toespraak aan familie, teenoor brief vir ’n geliefde en/of ’n brief van teregwysing aan ’n vriend. Jou skryfstyl en taal sal definitief verskil. ’n Ander verduideliking vir die verskil in skryfstyl van dié van sy ander boeke, wat ek sterk oorweeg, is dat Lukas, die dokter en skrywer van Lukas-evangelie en Handelinge, heel moontlik ’n preek van Paulus neergeskryf het. Tog verander dit glad nie aan die outoriteit en die sekerheid dat God dit geïnspireer het nie.)

Geslote kanon

Elke boek in die Heilige Skrif word deur die Protestante en die Kerk deur die geskiedenis heilig en kanoniek beskou. Dit is tog skrikwekkend hoe min mense wat hulself as gelowiges beskryf dieselfde hoë denke van die Kanonieke boeke het. Baie mense het geen probleem om sekere boeke as onnodig te beskryf nie. As gelowiges moet ons aanvaar dat as ‘n boek in die Woord, soos wat ons dit vandag het, ingesluit is, dit ingesluit is met ’n Goddelike doel. Dit is so aanvaar deur alle gelowiges deur alle eeue. Kon die vroeë kerk hierin ’n fout gemaak het? Die Nederlandse geloofsbelydenis en ons wat hierdie belydenis onderskryf en aanvaar, sê onomwonde: “Nee.” Hierin het die Heilige Gees deur gees vervulde mense saamgestem en gewerk om die kanon (d.w.s. die volledige Woord) tot die boeke vervat in Artikel 4 te beperk en te sluit.

Ware verhale

Ons het die vorige keer na spesifiek die Skeppingsverhaal gekyk en hoe die Bybel ontrafel as jy dit nie meer glo nie, maar daar is ook ander wonderwerke en verhale, wat gereeld aangeval en betwyfel word. Kom ons gaan kyk na enkele voorbeelde.

 Die vloed wat die hele wêreld oorspoel het. Die Rooisee wat oopgekloof is. Wat van Jona in die vis se maag? Dit was nog altyd vir my interessant hoe baie mense hierdie verhaal betwyfel. Kan ’n mens werklik in ’n vis se maag vir drie dae bly? Die verhaal word vertel van ’n professor op Stellenbosch wat aan die teologie studente sarkasties gevra het of daar werklik nog iemand is wat hierdie verhaal glo, waarop ’n student geantwoord het: “Prof. as die Bybel gesê het dat Jona die vis ingesluk het, sou ek dit ook geglo het.” Sê die Woord nie dat niks onmoontlik is vir Hom nie? Die Engel verskyn aan Maria en vertel haar dat sy ’n kind in die wêreld gaan bring, maar dat dit gaan plaasvind sonder ’n man. As Maria dink dit is onmoontlik sê die engel: Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie. Lukas 1:37. As jy twyfel in die verhaal van Jona moet jy ook ’n probleem hê met Jesus, want Hy het beslis hierdie verhaal geglo. Eerstens vergelyk Jesus sy tydperk in die graf met die tydperk wat Jona in die vis se maag was. Net so werklikheid as wat Jona in die vis se maag was,  net so werklikheid sal Jesus se drie dae in die graf wees, waarna Hy sal opstaan uit die dood. Mattheus 12:40  Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees. Die tweede keer as Hy die verhaal van Jona gebruik is dit om die mense van sy dag te veroordeel omdat hulle nie na Sy boodskap wil luister nie, terwyl die mense van Nineve hulle bekeer het op die boodskap van Jona. Sy argument is dat Hy baie groter is as Jona en dus behoort hulle nog meer aandag te gee aan Sy boodskap.  Mattheus 12:41  Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en—meer as Jona is hier! Die derde keer wat Hy die verhaal van Jona aanhaal is wanneer die Fariseërs en Sadduseërs Hom versoek om vir hulle ’n teken uit die Hemel te gee. Hierop antwoord Jesus: “‘n Slegte en owerspelige geslag soek na ‘n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. En Hy het hulle verlaat en weggegaan. Mattheus 16:4.

Dit is dus duidelik dat indien Jesus dit verkeerd gehad het en Jona nie werklik in die vis se maag was nie, kon Jesus ook nie God wees nie, want God maak nie foute nie en Hy lieg nie. Die groot probleem is egter nooit die historisiteit van ’n verhaal nie, maar dat skeptici nie wil glo in wonderwerke of die God wat groter is as enige mens se denke nie.

Die Heilige Gees se getuienis

Die belangrikste rede hoekom gelowiges deur alle eeue die Bybel met al sy verhale geglo het, is omdat die Heilige Gees die getuienis daarvan bevestig het in die gelowige se hart. Dit is alleenlik wanneer die Heilige Gees die hart van klip uithaal en jou ’n hart van vlees gee dat jy verander van skeptici en vyand na gelowige en getuie van hierdie waarheid. Esegiël 11:19  En Ek sal hulle een hart gee, en ‘n nuwe gees in julle binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ‘n hart van vlees gee. Paulus se lewe was hiervan ’n getuie. ’n Man wat totaal oortuig was dat die mense van die Weg besig was met ’n valse godsdiens en dat Hy alles in sy vermoë moet doen om hulle te vernietig. Handelinge 22:4  Hierdie Weg het ek vervolg tot die dood toe, en manne en ook vroue geboei en in gevangenisse oorgegee. Het mense met goeie oorredingsvermoë of argumente vir Paulus oortuig? 1Korintiers 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. O nee, Paulus moes ’n ontmoeting hê met die lewende God. Argumente oor die korrektheid en outoriteit van die Skrif, waar die Bybel vandaan kom en alle bronne wat dit as waar en reg bevestig is belangrik, maar steeds slegs ’n instrument in God se hand. Die ware oortuiging lê in die lewend making van die Heilige Gees, waarsonder die Woord slegs nog ’n historiese boek in akademici se hande sal wees.

Slot

Baie mense dink hulle moet die Woord makliker maak sodat die wêreld sal glo. Daarom probeer hulle die wonderwerke en moeilike gedeeltes en skerp punte in die Bybel ligter stel, sodat die mens makliker sal kan glo. Om egter so aan God se Woord te verander is soos om ’n leuen te vertel. God is waarheid en daarsonder is dit onmoontlik om Hom te ken en te aanbid. Al wat jy gaan veroorsaak is dat baie in die kerk gaan sit met valse bekerings. Mense wat die idee het dat al wat hulle hoef te doen, is om ’n gebed op te sê, op te staan of hulle hande op te steek en dat hulle op grond daarvan gered sal wees. Moet nooit skaam wees oor die Bybel of enige van die 66 boeke van die Bybel nie. Moenie sleg voel as die wêreld vir jou lag omdat jy die onmoontlike glo of dinge glo wat hulle as oudmodies beskou nie. Ons kan saam met Paulus sê Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Romeine 1:16. Jesus waarsku ook sy volgelinge dat as hulle hul skaam vir Hom en Sy Woorde sal Hy Hom ook skaam vir ons eendag. Markus 8:38  Want elkeen wat hom vir My en my woorde skaam in hierdie owerspelige en sondige geslag, vir hom sal die Seun van die mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in die heerlikheid van sy Vader met die heilige engele.