Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ‘n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (2 Pet. 1:21). Daarna het God deur sy besondere sorg vir ons en ons saligheid sy knegte (die profete en apostels) beveel om sy geopenbaarde Woord op skrif te stel, en Hy self het met sy vinger die twee tafels van die wet geskrywe. Daarom noem ons sulke geskrifte die heilige en Goddelike Skrif.
Inleiding
Soveel dae, soveel dinge, soveel opinies, soveel boeke… “Wat maak jou godsdiens se boek dan nou so besonders?” Dit is die vraag van menige skeptici. Daar is honderde bewyse en bronne dat die Bybel outentiek is. Daar is baie boeke daaroor geskryf. Dit is egter nie waaroor hierdie blog inskrywing gaan nie. Dit gaan oor gelowiges wat na die Bybel kyk as ‘n goeie boek, met fantastiese riglyne oor hoe om moreel reg te leef – maar geskryf deur mense. Mense maak egter foute en as sodanig kan ons opinies en “waarhede” in die Bybel betwyfel en bevraagteken, want tye en kulture verander. Wie sê dit wat duisende jare gelede vir die mens goed was, is nog steeds van toepassing? Wie sê?
God sê.
As gelowiges glo en bely ons dat hoewel die Bybel deur mense neergeskryf is, was dit nie hulle eie denke wat hulle oorgedra het nie, maar die woorde van God. 2Pet 1:21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. Die Griekse woord vir drywe het te make met “om gedra” te word. Die Heilige Gees was die aktiewe persoon in die daarstel van die Skrif. Dit was dus nie die intellek van die mens wat hierdie geskrif voortgebring het nie, maar wel God self. Wanneer ’n deskundige op enige gebied na die onderwerp van sy kennis kom, kom hy om te leer. Jy weet nooit beter as dit wat jy besig is om te ondersoek nie, tensy jy nie regtig opsoek is na kennis en antwoorde nie, maar jou eie opinie wil propageer. Dit is die fout wat baie teoloë maak. Hulle dink dat hulle terugkyk vanuit ‘n meer gevorderde intellektuele ontwikkeling en een of ander historiese manuskrip ontleed. Hulle dink hulle is op hoër grond.
Elke persoon wat na die Skrif kom, moet weet dat jý ondersoek en blootgelê gaan word voor God se Woord en nooit anders om nie. In Psalm 139 stel die psalmdigter die begeerte van elke gelowige onomwonde. Psalm 139:23–24 Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg! Nie net wil ek hê dat God my moet deursoek nie, maar ook dat Hy die weg moet wys. “Ek volg Hom” is die slagspreuk van elke gelowige. Die Christene in die eerste eeu het bekend gestaan as die “Mense van die Weg”. As Paulus voor Felix staan maak hy duidelik dat hy aan die groep wat “Die Weg” genoem word behoort. Handelinge 24:14 Maar dit erken ek voor u dat ek volgens die Weg, wat hulle sekte noem, so die God van my vaders dien, terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is. Daarom is die kom na God se Woord altyd vanuit ’n nederige posisie en nooit vanuit ’n voortvarende posisie nie. Psalm 102 stel dit baie goed. Psalm 102:18 Hom gewend het tot die gebed van wie ontbloot is, en hulle gebed nie verag het nie. “Ontbloot” beteken iemand wat totaal afhanklik is. Die Siriese en Arabiese vertalings vertaal die Hebreeus woord as “nederig.” Hy luister na die gebed van die nederige sal ’n goeie vertaling van hierdie teks wees. Daarna volg vers 19 wat ons inlig dat dit opgeskryf sal word vir die geslag wat sal kom sodat hulle die Here kan loof. Psalm 102:19 Dit sal vir die volgende geslag opgeskrywe word, en die volk wat geskape gaan word, sal die HERE loof.
Akkuraat en onfeilbaar
God het die profete en apostels aangestel om Sy Woord aan te teken. Die Bybel is geskrywe oor ’n tydperk van 1600 jaar deur ongeveer 40 skrywers. Hoe meer jy die Woord lees hoe meer kom jy agter hoe die hele Skrif in mekaar geweef is en elke vers onlosmaaklik deel is van die totale Woord. Ons, as Christus se volgelinge, moet dieselfde hoë denke van die Skrif hê as wat Hy het. Mattheus 5:18 Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Ek het al na hoogs intellektuele akademici geluister wat op ’n intellektuele manier die Skrif wil afmaak as mens geskrewe en ’n boek met baie foute. Een so ’n figuur is ’n bekende Nuwe-Testamentikus wat in een van sy praatjies daarop gewys het dat die Bybel op baie plekke homself weerspreek. Een van die voorbeelde wat hy gebruik het, is die selfmoord van Judas. Hy wys daarop dat die gedeelte in Mattheus en Handelinge mekaar weerspreek. Hier volg die twee aanhalings: Mattheus 27:5 En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang. Handelinge 1:18 Hy het dan ‘n stuk grond gekoop met die loon van ongeregtigheid en het vooroor geval en oopgebars, en al sy ingewande het uitgestort. Sy argument was dat hy nie homself kon ophang én vooroor kon val en oopbars nie. Een van die weergawes moet dus verkeerd wees. Kom ek probeer om ’n baie eenvoudige antwoord te gee op hierdie sogenaamde “groot dilemma”. As Judas in ’n boom klim, die tou om ’n tak vasmaak en dan die tou om sy nek vasmaak en uit die boom spring sou hy vooroor val soos Handelinge sê én Hy sou homself ophang soos wat Mattheus se weergawe is. Hoekom moet die een weergawe die moontlikheid van die ander een uitsluit? In die proses om homself op te hang kan baie verskillende scenario’s afspeel – die tak kon breek sodat hy op die grond val en oopbars. Dit voel asof die persoon wil hê die twee verduidelikings moet wedersyds eksklusief wees om sy punt te bewys.
As dit Goddelik is, moet jy die gehoorsaam
Nadat jy baie sulke aanvalle teen die Bybel beleef het, raak jy meer en meer bewus dat die eintlike rede nie lê in die Bybel wat onbetroubaar is nie, maar die mens wat enige verskoning wil hê om nie gehoorsaam aan God te leef nie. Verder het jy die probleem dat elke woord in die Skrif onlosmaaklik deel is van die hele Skrif. Jy kan nie na die Skrif kom en kies wat jy wil glo en wat jy nie gaan glo nie. Neem maar net hoe Genesis die tydperk en die manier van God se Skepping en die sondeval aan ons openbaar. Kom ons veronderstel dat jy, soos baie vandag, nie glo dat God alles in ses dae geskep het nie. Is dit werklik belangrik om te glo dat dit ses dae was? Wel, die antwoord hierop is dat as ons sê dat dit miljoene en selfs biljoene jare geneem het om van die begin van die skepping tot by die skepping van die mens te kom, moet ons daarmee van die veronderstelling uitgaan dat daar dood in die wêreld was voor die mens op die toneel verskyn het. Dit sal jou onmiddellik in ’n geestelike konundrum laat beland. Romeine 5 leer ons dat die dood in die wêreld gekom het a.g.v. die sonde van die mens. Romeine 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Die oomblik as jy aan iets in God se Woord wil torring kom jy agter dat die garinkie, hoe klein ook al, veroorsaak dat die hele Skrif ontrafel word.
Die Woord is genoegsaam
Die ander kant van hierdie muntstuk is mense wat deur die manier waarop hulle die Skrif hanteer, wys dat hulle nie glo dat dit genoegsaam is nie. Hulle is die hele tyd op soek na nuwe openbarings en vertel van persoonlike boodskappe van God aan hulle, waar die eie ek sterk na vore kom. Die Bybel is duidelik dat die Woord genoeg is en dat ons niks by die Woord nodig het vir ons geestelike groei nie. 2Timoteus 3:16-17 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Hierdie teks gedeelte wys ook duidelik daarop dat die Skrif sy oorsprong in God het. Die woord in die Grieks vir God ingegee beteken, “God geblaas”. Ons het niks bykomstig tot die Woord nodig nie. As ek met ander oor Christus wil praat kan ek hulle elke keer na die Skrif toe neem. Wat moet jy maak as hulle nie die Skrif wil glo nie? Onthou jy die verhaal van Lasarus en die Ryk man? Die Ryk man beland in Hades, die plek waar ongelowiges beland voordat dit saam met Doderyk in die hel gegooi sal word. (Openbaring 20:14 En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.) Hier pleit hy dat Lasarus na sy broers gestuur moet word om hulle te waarsku, sodat hulle nie ook in die plek van pyniging beland nie. Abraham vertel hom dan dat hulle Moses en die profete het, waarop die Ryk man, net soos baie vandag, redeneer dat as iemand uit die dood uit opstaan hulle eerder na so ’n persoon sal luister. Klink dit bekend? Abraham antwoord dan die Ryk man soos volg: “As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan”.
Slot
Vir enige gelowige is die Woord lewend. Die Woord is die brood van die Lewe. Net soos wat Jesus die skare gevoed het en daar elke keer mandjies vol oorgebly het, so sal jy elke dag net weer en weer gevoed word. Nie jy, of enige van die geslagte na of voor jou, sal ooit die bron van voeding kan uitput nie. Dit is God se Woord en nie die van ’n mens nie. Lees dit. Oordink dit. Leef dit.
