Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom. 1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem. Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.
Inleiding
Ons kan God nie sien nie. Ons kan Hom nie met enige van ons fisiese sintuie waarneem nie. Tog weet ons dat dit moontlik is om God te ken. Nie net om ‘n vae begrip van ’n goddelike wese te hê nie, maar om Hom te ken. Hoe is dit moontlik? Vir ons is dit onmoontlik, tensy God die Een is wat na ons toe uitreik en ons sintuie sensitief maak vir Sy teenwoordigheid. Hy doen dit op twee spesifieke manier, nl. Sy Skepping en Sy Woord. Sy skepping reik uit na die ganse mensdom, Sy Woord na Sy kinders.
Die Skepping – algemene openbaring
Alles in die Skepping proklameer hard en duidelik “ons is gemaak”. Die woord “skepping” veronderstel dit. Psalm 19:2 Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Net die gedagte aan lewe is vir die mens onverklaarbaar. Waar kom lewe vandaan? Op hierdie stadium is daar ’n beloning van ’n miljoen dollar aan dié wetenskaplike wat hierop ’n antwoord het. Ons kan al die proteïene hê en hulle deur ’n intellektuele wese in die regte orde sit en nogsteeds nie lewe hê nie. As jy luister na baie wetenskaplikes se maklike antwoorde vir die ontstaan van alles sal jy dink dat hulle antwoorde op al die vrae het en tog as jy navraag doen kom jy vinnig agter dat daar geen verduideliking van hoe daar uit niks iets kan ontstaan nie. Partykeer is dit nogal humoristies om intelligente mense te hoor die woord “niks” verduidelik. Laat jou onwillekeurig dink aan Psalm 14. Psalm 14:1 Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Daar is geen manier dat iets spontaan ontstaan het uit niks nie en alles het ontstaan en is geskep deur die Een wat nie geskep is nie, die ewige en almagtige God. Hoe leer ons Hom nie ken deur sy skepping nie? Ek herinner my aan die tyd wat ons as gesin in Namibië gebly het. Daar was in die jaar wat ons daar aangekom het blomme wat geblom het wat vir jare nie gesien is nie. Die regte reën op die regte tyd het die ontkieming veroorsaak. Wat in die saadjie laat dit besluit om nie te ontkiem nie behalwe as dit reën op die spesifieke tyd van die jaar? Die orde van ’n God van Orde is oral sigbaar. Hy het bepaal wanneer watter gewas sou groei. Nie net het Hy alles gemaak nie, maar Hy onderhou dit ook. Nie net voorsien hy kos vir alles nie, maar Hy is ook die een wat die kleinste atoom vashou sodat alles wat plaasvind onder Sy almag en beheer is. Van die grootste tornado en aardbewing tot elke branders wat sy krag uitwoed op die strand is deur God gemaak en is onder Sy beheer. Die kleure in die natuur is geverf deur Hom. Elke sneeuvlokkie, net soos elke vingerafdruk, is uniek. Elke dier, insek en voël is geskep vir die habitat wat God daarvoor gemaak het.
Hierdie behoort elke mens op aarde se oë oop te maak. Tog weet ons dat dit nie waar is nie. Die ganse skepping is so groot en wonderlik dat ons dalk wonder: “Waar pas ek in? Is hierdie my tuiste? Hoe wil Hy hê moet ek leef?”
Die Woord – Spesifieke openbaring
Die natuur in al haar skoonheid kan nie vergelyk word met die belangrikste openbaring nie, nl. die Woord van God. Die Bybel vertel ons dat die natuur nie wil hê dat ons ons verwonder in hulle skoonheid nie, maar dat die natuur ons wil wys na die God wat hulle prys omdat Hy hulle gemaak het. Psalm148:3,7-10 Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre! Loof die HERE van die aarde af—groot seediere en alle dieptes! Vuur en hael, sneeu en damp, stormwind wat sy woord volbring; berge en alle heuwels, vrugtebome en alle sederbome, wilde diere en alle vee, kruipende diere en gevleuelde voëls. Dit roep dus die mens op om ook die Een wat hulle gemaak het te loof en te prys. Psalm 139:13-15 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. Elke mens is wonderlik deur God gemaak. Dit maak nie saak of jy gestremd is, of jy nie kan sien of hoor of miskien nie kan praat nie, jy is wonderlik gemaak om God te verheerlik. As Moses sy spraak as ’n verskoning wil gebruik waarom hy nie na die farao kan gaan nie, vertel God Hom dat Hy die Een is wat in beheer is daarvan. Eksodus 4:11 En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? As ons nie die Woord gehad het nie kon ons dalk gedink het dat enige gestremdheid ’n straf was of dalk deur ’n bose mag aan ’n persoon gegee is. Die Woord openbaar God aan ons sodat ons nie hoef te wonder wie Hy is nie. Hy is die skepper wat alles in ses dae geskep het, iets wat ondenkbaar vir die mens is.
Ons ontdek ’n God wat bemoeienis met die mens maak. ’n Skepper wat vir ’n blote skepsel omgee. Ons wil saam met die Psalmdigter vra wat die mens kan wees dat God met ons bemoeienis sou maak. Psalm 8:5 wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? Hy ontmoet vir Abram terwyl hy afgode in Babilon aanbid en bring Hom uit om van Hom ’n volk te maak. Hy vergewe mense soos Dawid, ’n moordenaar en egbreker. Hy bring ’n prostituut uit ’n vyandige stad, Jerigo en maak haar deel van die volk wat Hy gekies het. As dit te onverstaanbaar is, jy het nog net die helfte gehoor. Die Bybel leer ons dat God self kom om hierdie onverdiende groep mense te kom red van ’n ewige straf. Wie sou dit kon dink? Wie sou so ’n verhaal kon opmaak? Nie net betaal Hy vir hulle deur self die straf aan die kruis te dra nie, maar Hy oorwin die dood sodat sy kinders nooit weer die dood hoef te vrees nie. 1Korintiers 15:55-57 Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. Dink jy dit is al? O nee, die Bybel leer ons nog soveel meer. God, die Heilige Gees kom maak woning in ons lewens en maak ons nie net elke dag meer en meer soos Christus nie, maar gee ons die begeerte om soos Hy te lyk. Filippense 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Tydelike skepping, ewige skepsel
Die Bybel vertel ons ook dat hierdie nie ons tuiste is nie. Ons is bywoners en reisigers in hierdie wêreld wat ons sal haat en waar ons nooit sal inpas nie. Ons het ’n Vader wat op ons wag aan die ander kant van hierdie kort lewe. Die einde hier is die begin van ’n feesmaaltyd saam met God wat vir ewig sal voortduur en waaraan daar geen einde sal wees nie. Hierdie einde was ewig God se plan om ons deel te maak van die liefdevolle, ewige, volmaakte verhouding tussen die Drie-eenheid. Watter liefdevolle en genadige God wat ons as sy kinders deel wou maak van hierdie onbegryplike liefdesverhouding. Maak dit jou opgewonde? Ons het nog nie eers begin met alles wat die Woord ons van Hom vertel nie. Kan jy verstaan hoekom ons sê dat hierdie Woord die besondere openbaring is? Christene wat hierdie Woord begin bestudeer, ontdek dat die Woord mooier is as enige son opkoms of ondergang. Hulle sien die getuienis van Sy krag beter as wat enige aardbewing of orkaan kan getuig. Hulle sien Sy sorg beter as waarvan enige mossie of kraai kan getuig. Hulle sien groter liefde in Sy verhouding met hulle as wat enige huwelik van vyftig of meer jaar kan getuig.
Slot
Voel dit soms asof jy rondtas na God en Hom nie kan vind nie. Voel jy soms of Hy so vêr weg is dat jy wonder of Hy bestaan. Sy Skepping roep uit, Sy Woord gee lig. Word stil. Word rustig. Beleef God deur die wonder van die natuur, maar soveel meer, leer Hom ken as die God waarvan ons in die vorige inskrywing vertel het: God is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.
