Artikel 1 DIE ENIGE GOD

Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Inleiding

Hoe sou jy vir ’n wêreldling verduidelik in wie jy glo? Die Nederlandse geloofsbelydenis begin met ’n aanhaling wat sy oorsprong in Romeine het. Romeine 10:9  As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word. Dit is nie net goed genoeg om ’n klomp kennis op te doen nie, jy moet in die wêreld bely wát jy glo. Die skrywe van die Nederlandse Geloofsbelydenis het Guido de Bres, die skrywer, sy lewe gekos, ses jaar nadat hy dit geskryf het. Ons leef in ’n tyd waar baie mense op aanvraag sal bely dat hulle in een of ander vorm van ’n god glo. Daar is egter slegs een God en wát jy glo van God het ’n direkte invloed op hoe jy lewe. Jou dade sal al hoe meer ooreenstem met wat jy bely. Iemand het eenkeer gesê dat wat eerste in ons verstand opkom as ons aan God dink die beste beskryf wie ons is. Hoe beskryf dit jou?

Dit is interessant dat hierdie eerste artikel  nie veel verskil aangaande dit wat  Rooms-Katolieke en Protestantse kerke glo kragtens God as wese nie. Dit beteken dat die kerke van die dag sou saamgestem het oor wie God is. Soos wat ons deur die belydenis oor “wie God is” gaan werk, gaan ons egter duidelik sien dat daar vandag selfs sogenaamde “evangeliese” en onafhanklike kerke is wat eintlik nie eers meer hierdie eerste artikel sal kan onderskryf nie.

Skepper teenoor skepsels

Die belydenis begin om ’n báie duidelike onderskeid te maak tussen wie ons as skepsels is en wie God is. God is glad nie soos ons nie. Om te weet wie Hy is moes Hy homself aan ons kom openbaar. Ons sou nooit met ons beperkte intellek en sondige natuur tot by Hom kon kom nie. Hy is enig. Dit beteken dat Hy nie net een is en dat daar net een God is nie, maar ook dat Hy uniek is en niks en niemand kan met Hom vergelyk word nie. Deuteronomium 6:4  sê: “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n een Here”. Al die godsdienste is nie besig met dieselfde God nie en elkeen se verduideliking van wie God is, kan nie gelyktydig korrek wees nie. Ons belydenis dat Hy ’n drie-enige God is weerspreek nie Sy eenheid nie. Die Vader is God, die Seun is God en die Heilige Gees is God. Daar is net een Wese. God is uniek. Augustinus stel dit mooi: “Ons glo die Vader, Seun, en Heilige Gees is een God, die skepper en heerser oor alles wat geskep is, en die ‘Vader’ is nie die ‘Seun’ of die ‘Heilige Gees’ nie … maar ‘n Triniteit van onderlinge verwante persone, en ‘n eenheid van gelyke wese”.

Enkelvoudig

Hoe lyk God? Eerstens het God nie ‘n liggaam nie. God het nie ledemate nie. As die Bybel praat oor die regterhand van God verstaan ons nie daarmee dat Hy ’n regterhand soos ons het nie. As Jesus met die vrou by die put in Johannes 4 gesels maak Hy dit duidelik dat God nie vlees soos die mens is nie. Johannes 4:24 sê “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet hom in gees en waarheid aanbid”. Daarom is die God van die Bybel nie die God van Panteïsme waar alles goddelik is, of Panenteïsme waar alles in God bestaan nie. God is nie vasgevang binne Sy skepping nie, maar bestaan buite Sy skepping, alhoewel die Ou en Nuwe Testament wel leer dat God hom openbaar binne Sy skepping en tog apart daarvan bestaan. Ons lees ook in Romeine dat die bestaan van God duidelik gesien kan word uit sy Skepping, net soos wat ‘n skildery ‘n bewys is van ‘n skilder. Die skilder is egter nie sy/haar skildery nie. Net so is die skepping nie God nie.

Niks van Sy eienskappe kan van Hom geskei word nie. God se liefde kan nie geskei word van Sy heiligheid, geregtigheid en wraak nie. Jy kan nie een eienskap van God belangriker as ’n ander beskou of meer klem lê op een eerder as ’n ander nie. Elke eienskap van God is ook ewig soos Hy ewig is. Hy het nie in ’n stadium liefdevol of genadig geword nie. Hy is van ewigheid enkelvoudig en gelyktydig al Sy eienskappe.

Ewig

As God Homself aan Moses bekend stel sê Hy vir hom: “Ek is”. Eksodus 3:14  “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS”. Ook sê Hy: “So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur“. God het geen begin of einde nie. Selfs hierdie gedagte is vir ons, wat vasgevang is in tyd, onverstaanbaar. ’n God wat buite tyd is. ’n God wat tyd geskep het vir ons as wesens sodat ons daarin kan funksioneer. Alles aangaande Hom is ewig. Ons verstaan bitter min van alles wat daar is om te verstaan. Selfs al neem jy die mees intelligente persoon op aarde, sal jy besef dat hy/sy beperkte kennis het aangaande alles wat daar is om te verstaan. Ons God wat ewig is, het oneindige wysheid en kennis. Sou jy Hom iets kan leer? Jesaja 40:14  sê “Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?” Sou jy beter as Hy weet? Job het gedink dat Hy vir God kon vra vrae, totdat God Hom openbaar het deur met Job te praat. Aan die einde van die gesprek, wat nie baie lank was nie, moes Job erken hy was ’n dwaas. Job 42:3 “Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie”.

Onbegryplik

God moes homself aan ons bekend kom maak. Sal ’n blinde persoon wat die sonsopkoms of ondergang vir jare bestudeer presies weet hoe dit lyk? Sal die klei wat ‘n pot word ooit sy/haar pottebakker kan verstaan? Ons ken maar gedeeltelik. 1Korintiers 13:12 “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is”. Al het Hy homself in Sy Woord aan ons openbaar is ons kennis nog steeds beperk. Dit beteken nie dat God nie duidelik in Sy Woord gespreek het nie, nee Hy het duidelik en verstaanbaar gepraat en alles wat noodsaaklik vir ons verlossing en lewenswandel is geopenbaar. God het alles wat nodig is aan ons bekend gemaak, maar daar bly misteries wat ons ten volle sal verstaan in die ewigheid.

Onsienlik

Die Bybel is duidelik dat niemand God nog ooit gesien het nie. Johannes 1:18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. In Christus is God aan ons geopenbaar, maar om Hom te sien soos Hy is, sou veroorsaak dat ons onmiddellik sou sterf. Eksodus 33:20  Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie. Net soos die wind sien ons die bewyse van sy bestaan en ervaar ons die krag van sy teenwoordigheid, maar Hy is onsigbaar.

Onveranderlik

God verander nooit van gedagte nie. Jakobus 1:17  “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie”.  God leer ook nooit iets nuuts nie. Sommige kerke  het vandag die idee dat God in die gange van tyd afgekyk het, mense se optredes gesien het en daarvolgens besluit het om mense uit te verkies. Dit maak God reaksionêr en die groot skaakspeler wat elke keer net ’n beter skuif as die mens maak – Hy is net altyd so twee of drie skuiwe voor die mens. Hierdie gedagte is natuurlik nie te vinde in die Skrif nie. Baie keer bid ons tot God met die idee dat ons God iets gaan leer. “Het U daaraan gedink…..?” Hiermee wil ons seker maak hy is bewus van al die voordele en nadele indien Hy nee sou antwoord op jou gebed. Dink jy nie Hy weet nie en indien Hy nie weet nie, sou Hy nog die almagtige God wees wat enigsins waardig is om te aanbid? Numeri 23:19  “God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Hierdie gaan natuurlik saam met God wat volkome wys is wat in die artikel genoem word. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie? Vir die gelowige is dit wonderlik om te besef dat die God van die Ou Testament  ook die God van die Nuwe Testament is en al verander alles rondom my is daar Een wat nooit sal verander nie, God self. Hebreërs 13:8  Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Die Vader en die Seun en die Heilige Gees stem in alles ooreen en die plan van die grondlegging wat die Drie-eenheid gemaak het, sal dieselfde bly.

Oneindig

In Psalm 147 word die woord “oneindig” gebruik. Psalm 147:5  Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.  Die Hebreeuse woord beteken sonder ’n getal. Jy kan dit nie meet nie. Niks van sy karaktereienskappe kan gemeet word nie. Daar is nie ’n einde aan sy genade, aan sy liefde, sy wraak, sy geregtigheid, sy heiligheid, Sy denke en soveel meer kan genoem word, nie. Alles omtrent Hom is onmeetlik. Sy mag word ook beskryf as “almagtig.” Jy kan nie sy mag bepaal nie. As Sara lag as God vir haar sê dat Sy op negentig jarige ouderdom gaan swanger word, vra God haar “Toe sê die HERE vir Abraham: Waarom het Sara daar gelag en gedink: Sou ek ook werklik baar nou dat ek oud geword het?”  Genesis 18:13  Dit is natuurlik ook die belydenis van Job nadat God met Hom in gesprek tree. Job 42:2 Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.

Regverdig

Sy oordele is regverdig. Elke straf van God in die Ou en Nuwe Testament is reg. Niemand ontvang iets wat hulle nie verdien nie. Hy roep ook sy geregsdienaars op om te oordeel soos Hy oordeel, om niemand voor te trek of harder te oordeel as wat hy/sy verdien nie. Die wonderlike van die evangelie is dat Jesus  ons  regverdige straf ontvang en in Hom is Sy goedheid oorvloedig. Die wat Hy kies se straf word deur Sy Seun gedra en ons word geregverdig. Dit is Sy goedheid wat op ons oorgedra word en tog word niemand net vrygespreek nie, maar in regverdigheid geoordeel. Hy is die fontein van alles wat goed is. Daar is nie een goeie ding wat op aarde wat nie sy oorsprong in Hom het nie. Baie van sy goedheid vloei ook oor na die goddelose mense. Mattheus 5:45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Hulle ervaar ook die seën van ’n huwelik, kinders, vriende, ’n werk en nog baie meer goeie dinge. Alles het hulle oorsprong in God, maar in plaas van God aanbid en dank maak hulle hul eie afbeeldings wat hulle eer. Romeine 1:21  omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.

Slot

Hoe groot is die God wat jy aanbid? Het Hy al hierdie eienskappe of het Hy in jou oë so klein geword dat jy Hom volkome verstaan, met Hom kan redeneer, Hom kan voorskryf en Hom kan bevraagteken? Is Hy jou eerste toevlug en jou ewige vesting? Kyk jy nog na Sy werke in bewondering en laat Sy glorie jou sonder woorde? Buig jy jou knie in jou menslikheid en val jou voor Hom neer in absolute aanbidding? Voel dit of jou hart wil bars van dankbaarheid oor sy liefde en genade. Is Hy jou God – ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alles oorvloedigste fontein van alles wat goed is?