Vraag 128: Hoe sluit jy jou gebed af?
Antwoord: Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Dit is: Ons bid dit alles van U omdat U as ons Koning, wat mag oor alles het, ons alle goeie dinge wil en kan gee sodat daardeur nie ons nie, maar u heilige Naam ewig geprys sal word.
Vraag 129: Wat beteken die woord Amen?
Antwoord: Amen wil sê: Dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer.
Inleiding
Die laaste vraag van die Heidelbergse kategismus kan amper as opsommend van die hele belydenis gesien word as dit weereens gelowiges oproep om te bely dat alles oor God gaan.
’n Persoonlike God
God moedig ons aan om tot Hom te nader. Hy is ’n persoonlike God wat ons lief het en ’n verhouding met ons wil hê. Hy wil hê dat in hierdie lewe elke probleem, elke vreugde, elke lofprysing en dank tot Hom gerig moet word. Hy wil ons deur sy nabyheid bemoedig. Dat ons as sondige, nietige mense, die voorreg het om tot ’n heilige, almagtige God te nader, vertel ons wie God is. Ps. 8:3-4 “As ek die hemel aanskou, die werk van U vingers, die maan, die sterre wat U toeberei het – wat is die mens dat U aan hom dink en die mensekind dat U hom besoek?” Dit gaan nie oor wie ons is nie, maar wie Hy is. Die vertroue wat ons plaas in gebed is in die Een wat na ons luister, wat in beheer is van alles en wat beslis beter as ek weet.
Die gelowiges in die Ou Testament het in hulle gebede melding gemaak van die God waarop ons kan vertrou, omdat Hy nie verander nie en getrou bly aan Sy beloftes. As Daniel besef dat die tydperk van sewentig jaar, wat God belowe het dat Israel in ballingskap in Babel sal wees, verby is, hou Hy in sy gebed vas aan God se beloftes. Daniel 9:4 En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou. En dan vêrder in Daniel 9:18 Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid. ’n Man en vrou van God kan met vertroue na God gaan in gebed, wetende dat Hy in beheer is van alles en daarom kan ek my hart uitstort voor Hom wat heers.
In die Nuwe Testament vertel Jesus ’n gelykenis om ons aan te moedig om nie moedeloos in gebed te word nie. Dit gaan oor ’n weduwee wat pleit by ’n regter om aan haar reg te doen teenoor haar teëparty. Sy verteenwoordig die gelowige wat in afwagting lewe dat God weer gaan terugkeer en gaan oordeel oor die wêreld wat die vervolgers van die gelowiges is. Ons vind dieselfde pleidooi by die siele in Openbaring wat uit die groot verdrukking kom. Openbaring 6:10 En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? Die gelowige lewe dus in afwagting en pleit dat Christus weer sal terugkeer. Jesus sluit dan die gelykenis af deur te vra of Hy nog geloof sal vind as Hy terugkeer. Sal gelowiges lewe met ’n vertroue dat God in beheer is en dat hulle niemand hoef te vrees of self wraak hoef te neem nie? Sal hulle lewe met die vaste vertroue dat hul God en Verlosser in beheer is en terug sal kom om te oordeel?
Loof Hom, prys Hom, aanbid Hom
Ons gebedslewe is opgebou uit lofprysing en aanbidding teenoor God. As Dawid God voor die volk aanbid, begin hy deur God se naam groot te maak. 1Kronieke 29:10-12 En Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. Hoe verander ons lofprysing nie ons gedagtes oor die wêreld en alles rondom ons nie? Ons word herinner dat dit oor Hom gaan, hoe groot Hy is en hoe Hy nou alreeds regeer ten spyte van ons ervarings in hierdie wêreld. Die mens het nodig om gereeld herinner te word dat hierdie wêreld oor God gaan. So baie mense kyk in hulself en hul probleme vas asof dit die begin en einde van die wêreld is. Kyk weg van jouself en fokus op die heerlikheid en wonder van God. Enige moedelose en terneergedrukte persoon wat so in gebed na God gaan kan nie anders as om met vrolikheid en opgeruimdheid vernuwe te word nie, met ware vreugde en vrede. As Hy die blomme so mooi maak wat net vir ’n kort tyd daar is, as Hy vir die voëls sorg hoeveel te meer vir my? Hy wat die sterre vashou, hoeveel te meer vir my? Die God, wat in ses dae, uit niks, alles geskep het deur die krag van Sy Woord – is my God. Hoe kan ek vrees!? Hoe kan ek op moed verloor se vlakte sit? Psalm 18:30 Want met U loop ek ‘n bende storm, en met my God spring ek oor ‘n muur. Gebruik die Psalms in jou gebedslewe om jou te help om God groot te maak, nie omdat Hy dit nodig het nie, maar omdat jy nodig het om daaraan herinner te word. Hy is Groot, Hy is Magtig, Hy is die Heerser – en dan die belofte: Hy is met jou!
Hierdie God wat ons aanbid word ook aanbid in die Hemel. Sy lof word elke oomblik besing. Openbaring 4:8 En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom! Net soos ons, is elke hemel wese gemaak om Hom te eer en te aanbid. Kan jy jou indink, om nou alreeds as deel van hierdie hemelkoor te leef! Dit is om deel te wees van die koninkryk van God wat nou reeds hier is. Sy kind, wat ten spyte van enige tragedie, verlies of hartseer in lofprysing kan gaan, omdat hierdie groot en almagtige God my ken en bemoeienis met my wil maak. Ons vind ons vreugde as ons begin doen dit waarvoor ons gemaak is. Hierin lê ons geluk en vreugde.
Slot
Daar is vrae wat nie deur die wetenskap beantwoord kan word nie. Die “Waar kom ons vandaan?” en “Hoekom is ons hier vrae?” Elke mens se pad op aarde eindig met die fisiese dood – wat is dan die sin? God is! Om Hom te ken en vir Hom te leef is ALLES. Die Heidelbergse kategismus sluit af met hierdie bevestiging. Ons begin is in Hom. Ons lewe tussenin is in Hom. Alles is in Sy hand – elke belofte in Sy Woord is waar. Sy Verlossing is seker en ewig. Sy liefde vir sy kinders onwankelbaar verseël. Aan Hom behoort die ewige koninkryk, die krag en die heerlikheid. Dit is waar. Dit is seker. Amen en Amen
