Vraag 127: Wat is die sesde bede?
Antwoord: En lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Dit is: Ons is in onsself so swak dat ons nie een oomblik staande kan bly nie. Daarby hou ons doodsvyande, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur, nie op om ons aan te val nie. Wil U ons tog deur die krag van u Heilige Gees staande hou en versterk, sodat ons teen hulle sterk teenstand kan bied en in hierdie geestelik stryd nie beswyk nie, totdat ons eindelik die oorwinning volkome behaal.
Inleiding
Gelowiges is gewikkel in geestelike oorlogvoering. Dit is duidelik in die Bybel dat ons daagliks voor keuses te staan gaan kom wat die uiteinde van jou eie en soms ook die van ander se lewens gaan beїnvloed. Om hierdie oorlog te voer moet jy eerstens weet waarvoor en waarteen jy veg. Jy moet weet wat jou swak en sterk punte is. Hoe sterk is jy op jou eie? Hoe lank sal jy geestelik staande kan bly? Die Bybel leer ons dat ons as gelowiges totaal afhanklik is van God. Ons word gewaarsku dat ons moet oppas as ons staan dat ons nie val nie. 1Korintiers 10:12 Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Dit is baie keer diegene wat babas in geloof is wat dink dat hulle sterker is en makliker sonde kan oorwin as die volwassenes in die geloof. Baie keer dink mense wat pas tot bekering gekom het, dat alles nou net wonderlik gaan wees, maar dit is kinders van God wat al ‘n pad saam met die Here gestap het, wat maar te goed weet dat die oorlog al hoe feller raak hoe nader jy aan die Here kom. Wat egter ook vir elke gelowige duidelik raak is dat God jou in hierdie oorlog bystaan, want alleen sal jy dit nie maak nie.
Selfversekerd met die swaard
Sien ons dit nie duidelik in Petrus se lewe nie? Hy is so selfvoldaan en seker van homself dat as Jesus hulle waarsku dat almal Hom sal verlaat, hy dadelik antwoord dat hy dit nooit sal doen nie. Mattheus 26:31-33 Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. Net ’n paar ure later word Petrus se vleeslike swakheid ontbloot as hy nie eers ’n paar ure saam met Jesus kan wakker bly en bid nie. Jesus waarsku Petrus en die ander dan soos volg “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Die res van die nag word Petrus se swakheid net verder ontbloot as hy aanhou om in die vlees oorlog te voer. As Jesus gevange geneem word wil Petrus op sy eie manier die situasie hanteer en hy gryp na sy swaard. In Lukas 22:36 Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie ‘n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ‘n swaard koop. Hoekom was Jesus dan kwaad toe Petrus die swaard uitgetrek het om Hom te beskerm. Mattheus 26:52 Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.” Het Jesus homself dan die eerste keer weerspreek? In Lukas het Jesus vir hulle opgeroep om sy Woord te versprei. Sy verwysing na die sward bevestig dat hulle vervolg sou word en hulle lewens vir Hom sou verloor. Hoe meer jy die Nuwe Testament lees hoe meer kom jy agter dat Jesus vervolging en lyding herhaaldelik bevestig het. Hoe meer ons geestelik groei hoe meer besef ons hoe maklik ons vlees gedeeltes in Sy Woord wil aanpas sodat ons kan doen dit wat ons vlees wil. Petrus moes leer dat sy volg van Jesus nie op ’n afstand moes plaasvind nie en dat Hy God se wil bo sy eie moes soek.
Geestelike oorlog teen die vlees
Hoe meer jy geestelik groei hoe meer word jy bewus hoe belangrik hierdie bede is. Paulus skrywe in Romeine 7 hoe daar die hele tyd ’n stryd tussen my vlees en gees is. Romeine 7:18-19 Want ek weet dat in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want om te wil, is by my aanwesig, maar om goed te doen, dit vind ek nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Dit is die sondige natuur waarin ons gebore is. Dit is een van ons doodsvyande. Hierdie vlees kan alleen oorwin word deur die werking van die Heilige Gees. Romeine 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Dit is ’n daaglikse proses van vernuwing wat moet plaasvind in my lewe. Dit is ‘n geestelike stryd wat ek net deur die Heilige Gees kan voer en net in Hom kan ek die oorwinning behaal. Die Heilige Gees maak my bewus van sonde en help my om die sonde dood te maak in my lewe.
Geestelike oorlog teen die duiwel
Die duiwel is nog ’n doodsvyand. Petrus vertel dat hy soos ’n brullende leeu rondloop. 1Petrus 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Hy is die vader van die leuen, dus is alles wat hy belowe in stryd met wat God sê. Johannes 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. Hy wil alles van God verdraai en kleur dit so mooi in dat dit soos heuning by jou keel afrol sonder dat jy die gif proe wat saam afgesluk word. Ek het al die mooiste verskonings gehoor waarom mense in sonde geval het. Van: “Ek het dit opreg bedoel” tot “Dit was uit naasteliefde dat ek dit gedoen het.” Soms gebruik ons opdragte van die Here buite konteks om my sonde te verskoon. Soos : “Dit is belangrik om tyd saam met my familie te spandeer en daarom het ons nie kerk toe gekom nie”. Die Bybel het ‘n naam vir mense met sulke tipe verskonings – Huigelaars! In die Bybel lees ons van die Fariseërs wat God se opdrag om hul ouers te versorg verontagsaam met die verskoning dat hulle die geld vir God gee. Jy moet al twee doen! Ons vlees is swak en ons kan seker wees die duiwel sal daarop speel, dus kan ek nooit my eie verstand of emosies vertrou nie. Alles moet getoets word aan die Woord van God.
Geestelike oorlog teen die wêreld
Die laaste doodsvyand is die wêreld. Die wêreld se soldate bestaan uit goddelose mense en materiële dinge en versoekings. Die wêreldse mense sal in opstand wees teen enige persoon wat vir God lewe. Johannes 15:18-19 As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle. Die wêreld sal jou haat. Hier staan nie “miskien” nie, nee ’n definitiewe haat. Hulle wil hê jy moet stilbly oor wat jy glo. Hulle wil nie hê dat jy moet uitstaan as gelowige nie. Die wêreld sal jou die hele tyd druk om te konformeer na sy standaarde. Hulle lag oor dit wat jy glo. Hulle vertel jou dat jou liefde nie ware liefde is nie. “As jy werklik lief het, sal jy my liefhê net soos ek is, met my sonde en al.” Hoe meer jy groei in jou geestelike lewe hoe meer sal jy alleen staan en hoe kleiner sal jou vriendekring wees.
Die wêreld se versoekinge is die dinge wat jou oë sien en begeer. 1Johannes 2:15-16 Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. Die wêreld se begeerlikhede sê nooit “genoeg” nie. As jy het, wil jy net nog meer hê. Dit skep die illusie dat vreugde opgesluit is daarin. Dit is soos lugspieëling in ’n woestyn. Dit vertel jou dat daar water is en maak jou opgewonde, net om teleurgesteld te wees as jy nader kom en vind die lugspieëling het net vêrder weg beweeg.
Hierdie doodsvyande kan ek alleen oorwin deur die Heilige Gees wat die Woord in my hart oopbreek en Sy lig in my lewe inskyn. Hoe meer ek groei in Sy Woord hoe meer ontdek ek wat is waar en wat het waarde en wat gee geluk. Galasiërs 5:16 Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie. Saam met die vervulling van die Heilige Gees kom ‘n wapenrusting om bogenoemde vyande te oorwin. Dit is belangrik om te weet dat die oorwinning alreeds in Christus behaal is, maar as Sy kinders leef ons nog in hierdie gebroke wêreld, en sal ons die finale oorwinning eers ervaar as Christus ons kom haal.
Slot
Die veiligste plek vir enige Christen is op sy knieë in afhanklikheid van God. Hier kry jy die wapenrusting om die vyand in jou daaglikse handel en wandel te verslaan. Hier kry jy die vreugde en geluk wat geen wêreldse versoeking of begeerlikheid jou kan bied nie. As jy in hierdie liefdes verhouding met God staan, sal jy weet wie jy is, waar jou krag lê, waarvoor en teen wie en wat jy veg. Hierdie gebed is die belangrikste wapen in jou geestelike stryd. Bid dit daagliks en wees verseker van die finale oorwinning in Christus.
