Vraag 126: Wat is die vyfde bede?
Antwoord: Vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Dit is: Reken ons, arme sondaars, al ons misdade asook die boosheid wat ons nog aankleef, ter wille van die bloed van Christus, nie toe nie. Ons bid dit van U omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe.
Inleiding
In die finansiële wêreld is skuld ‘n verpligting; ‘n las. Dit is iets wat jy moet betaal, maar nie nou kan nie. Om te hoop dat jy dit eendag sal kan betaal is gewoonlik nie goed genoeg vir die skuldeiser nie. Skuld is ’n dief wat jou vryheid steel deurdat dit jou negatief verbind aan die skuldeiser. Mense raak desperaat en paniekerig wanneer hulle besef hulle kan hul skuld nie betaal nie en wanneer hulle besef die skuldeiser staan by die deur.
Sondeskuld
Sondeskuld is dieselfde. Met God se morele kode in die mens se hart, het die meeste mense ’n wete van reg en verkeerd. Ja, dit word deur die wêreld met allerhande verskonings onderdruk, maar uiteindelik weet elkeen as hy/sy stil word of dit wat hy doen reg of verkeerd is. Ongelukkig is daar geen manier om hierdie skuld te betaal nie. Baie probeer op allerhande humanitêre maniere om deur hulle dade een of ander morele weegskaal in hul guns te laat weeg, maar dit sal nooit kan opweeg teen jou sonde nie. Ander weer weeg hulself teen die wêreld en voel hulself ligter. Hul weeg hulself teen die moordenaars en diewe, prostitute en pedofiele en voel “Ek is darem nie so sleg nie.” Die wêreld waarin ons leef en beweeg se skaal is so skeef en elke sonde het ’n verskoning, sodanig dat alles geregverdig kan word.
Ware sondebesef
Wanneer die wêreld sy sonde besef, soek dit ’n verskoning. Dit vermy die skuldeiser en probeer hom ontvlug op allerhande maniere soos Judas. Ware sondebesef bring jou egter na God, soos Petrus. Wanneer die individu bewus word van sy sonde, wat alleen kan plaasvind deur die werking van die Heilige Gees, is sy/haar grootste begeerte om vry te kom van hierdie aanklag. Die aanklag word nog groter as ons besef wie God is en hoe vêr ons te kort skiet voor Sy heiligheid. As Jesaja voor God staan hoor hy die engele voor God se troon een van God se karaktertrekke drie keer herhaal. Wat sou so belangrik wees dat dit drie keer herhaal word? Sy liefde? Sy genade? Sy barmhartigheid? Nee die engele roep uit “Heilig, Heilig, Heilig.” Jesaja 6:3 En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Jesaja se eerste woorde as Hy voor God staan is ” Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!” Jesaja6:5. Iemand wat ’n ontmoeting met God gehad het is iemand wat ’n ware, berouvolle sondebesef het. Geen gelowige kan ligtelik kyk na hulle sonde nie. Geen gelowige kyk terug na hulle verlede met ’n nostalgie rakende hulle sonde nie.
Vergifnis op grond van God se karakter
“Ek belowe ek sal dit nooit weer doen nie!” As ons na God toe kom om vergifnis te vra is dit dikwels met allerhande beloftes oor hoe jy jou lewe gaan verander en van nou af “soet” gaan wees. God se vergifnis is egter nie op grond van jou beloftes nie, maar op grond van jou opregte berou en sy barmhartigheid. As Dawid gekonfronteer word deur Natan aangaande sy sonde met Batseba is sy gebed aan God om genadig te wees. Psalm 51:3 Wees my genadig, o God, na u goedertierenheid; delg my oortredinge uit na die grootheid van u barmhartigheid. Hy smeek God om hom te vergewe nie a.g.v. enige iets wat hy in sy verlede gedoen het nie, maar hy vra God om hom te vergewe op grond van God se groot barmhartigheid. Die gelowige besef dat daar niks is wat hy/sy na die tafel kan bring nie. Daar is niks wat sal maak dat ons verdien om vergewe te word nie. Vergifnis is alleen moontlik gemaak deur God se Barmhartigheid wat sigbaar is aan die kruis van Golgota. Op Golgota is die prys betaal. Aan die kruis het Christus al die sonde van die gelowige van die verlede en hede en toekoms ten volle betaal. Hebreërs 9:12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring. ’n Ewige verlossing is bewerkstellig vir Sy kinders. Die vraag kan dan maklik gevra word waarom moet ek dan my sonde nog bely as hy alles vergewe het? Met sondebelydenis erken ek nie net voor God my sonde nie, maar dank Hom ook vir Sy vergifnis. Ek verneder myself dus elke keer voor die kruis waar ek in Hom geregverdig is en sy geregtigheid ontvang het. 2Korintiers 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
’n Lewe van dankbaarheid
Sondevergifnis maak die gelowige ’n man en vrou wat uit dankbaarheid leef. As ek aan dankbaarheid dink kan ek nie anders as om aan Maria Magdalena te dink nie. ’n Vrou wat haarself blootstel om geoordeel en aangekyk te word as sy instap in die fariseër se huis. Van die salf tot haar trane spreek van ’n vrou wie se dankbaarheid onmeetlik groot is. Die mense rondom Jesus sien net ’n slegte vrou en baie geld wat gemors word. Dan vra Jesus ’n vraag wat vir Simon, die fariseër, ontbloot. Hy vertel van twee persone, een wat baie vergewe word en een wat min vergewe word en dan Sy vraag: “Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?” Lukas 7:42. Simon antwoord tereg die een wat die meeste geskenk is. Nadat Jesus Simon se ontvangs van Hom vergelyk met die van die vrou sê Jesus aan haar dat haar sondes vergewe is. Wat is dit wat Jesus ons wil leer? Is daar mense wat meer vergewe is as ander? Glad nie. Jesus wil ons leer dat as ons verstaan hoe groot ons sonde is, sal ons verstaan hoe groot die geskenk is wat aan ons gegee is. Paulus het dit verstaan. Paulus was ’n fariseër wat kon getuig dat hy sy lewe gelei het met ’n goeie gewete. Handelinge 23:1 En Paulus het die oë op die Raad gehou en gesê: Broeders, ek het met ‘n volkome goeie gewete voor God gewandel tot op hierdie dag. Iemand wat so getrou aan die wet probeer lewe het, kon seker nie skuldig wees aan te veel sonde nie of hoe? Luister wat Paulus van homself sê “Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red, van wie ek die vernaamste is.” 1Timotheus 1:15. Kan jy van jouself ook dit sê? As dit waar is en jy die prys van jou vergifnis verstaan, sal jy nooit ligtelik met sonde omgaan nie en sal jou lewe van dankbaarheid oorspoel in jou handeling met jou naaste en enige sonde teenoor jou.
Vergewe soos jy vergewe is
Het jy al ooit iemand te nagekom? Het jy al ooit iets gedoen wat ’n ander persoon pyn veroorsaak het? Het jy al ooit in ’n vriend/vriendin se oë gekyk en gesmeek vir vergifnis? Ek het. Soms wetend soms onwetend, maak ons mense seer. Wanneer jy besef dat jy nie perfek is nie, dat jy sondig teenoor ’n lewende God en dat Hy jou vergewe, verander dit jou self geregverdigde bril waarmee jy soms na ander kyk. ’n Dankbare persoon wat baie vergewe is, is ’n persoon wat maklik ander ook kan vergewe. Die Onse Vader roep ons op om ander te vergewe soos God ons vergewe. Psalm 103:12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Sy vergifnis is ten volle. Vergewe jy ander ook so? Wat moet mense doen voor hulle jou vergifnis kan ontvang? Dink net as God ook so met jou moes werk. Dink as Hy sou sê: “Ek sal jou vergewe, maar jy moet eers wys dat jy dit verdien. Ek sal vergewe, maar as jy dit weer doen, is dit verby.” Petrus het vir Jesus juis hieromtrent ’n vraag gevra. Hy wou weet hoeveel keer jy ’n ander persoon moes vergewe. Die Jode het geglo dat as jy iemand drie keer vergewe, het jy baie goed gedoen. Petrus wys dat hy baie meer vrygewig is as wat die Joodse wette van Hom gevra het as hy sê: “Tot sewe maal toe?” Mattheus 18:21. Ek kan myself net indink dat Petrus selfvoldaan geglimlag en gedink het dat Jesus baie trots op sy vrygewigheid moes wees. Jesus se antwoord het hulle almal geskok. Mattheus 18:22 Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe. Jesus volg sy antwoord op met ’n gelykenis waarin Hy illustreer dat as jy nie bereid is om iemand se klein oortreding teen jou te vergewe nie, jou Hemelse Vader jou ook nie jou groot skuld sal vergewe nie. Dit is altyd so dat ander se sonde teenoor jou, maak nie saak wat dit is nie, mikroskopies is in vergelyking met ons skuld voor ’n Heilige God.
As jy nie bereid is om mense te vergewe nie het die Woord ’n waarskuwing vir jou. Mattheus 6:15 “…Maar as julle mense hul oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie” Geen gelowige wil dit ervaar nie. Kan jy jouself indink om eendag voor God te staan en te hoor dat Hy jou nie vergewe het vir ’n sonde wat jy gedoen het nie, omdat jy nie bereid was om ’n persoon in jou lewe te vergewe nie? Dit is belangrik om te besef dat die feit dat jy nie kan vergewe nie, net die simptoom van die onderliggende probleem is, nl. ‘n verwaande, self geregverdigde houding, vol van die eie ek. Jy het genade nodig, maar is nie bereid om dit aan ander te bied nie.
Vergifnis is persoonlik
Daar is sekerlik ’n hele inskrywing wat gemaak kan word oor wat vergifnis is en wat dit nie is nie, maar ek wil net kortliks ‘n paar punte uitlig. Dit is nie iets wat ek aan iemand gee, wat nie met berou daarvoor vra nie. Jesus ken mense se harte en kon sien of hulle opreg is of nie. Ek en jy, daarenteen, kan nie en daarom gee ek dit aan elkeen wat daarvoor vra. Alhoewel mense se dade agterna mag blyk dat hul berou nie opreg was nie, moet jy onthou dat jy ook al dieselfde sonde teenoor God herhaal het. Beteken dit nou dat jy die eerste keer nie ware berou gehad het nie? Sekerlik nie. Verder is dit nie iets wat ek kan aanbied namens iemand anders of namens ’n volk nie. Ek kan ook nie om vergifnis vra namens iemand anders nie. Vergifnis is persoonlik. Indien jy soos Dawid verstaan dat alle sonde uiteindelik teenoor God is, sal hierdie konsep nie moeilik wees om te verstaan nie. Vergifnis is nie iets wat uit jouself kom nie, maar is ’n bewys van God se genade in jou lewe, soos wat die kategismus sê “omdat ons hierdie bewys van u genade in ons vind: dat ons die ernstige voorneme het om ons naaste van harte te vergewe.” Jy het Goddelike krag daarvoor nodig.
Slot
God is barmhartig en genadig. Hy vergewe ons as ons met opregte berou na Hom te kom. Hy het die skuldlas kom betaal met Sy bloed. Nou is ons aan Hom gebind nie meer omdat Hy ons skuldeiser is nie, maar omdat Hy ons Verlosser is. Geen sonde is groter as die krag van Jesus se offer nie. “Arme sondaar, vol misdade en boosheid”, bring jou skuld na die kruis en lewe as vrygekoopte kind van God in oorwinning, vry van skuld.
