Vraag 125: Wat is die vierde bede?
Antwoord: Gee ons vandag ons daaglikse brood. Dit is: Versorg ons met alles wat vir die liggaam nodig is (a), sodat ons daardeur erken dat U die enigste Bron is van alles wat goed is, en dat al ons sorge en arbeid en ook u gawes sonder u seën ons nie kan baat nie. Gee daarom dat ons ons vertroue van alle skepsele aftrek, en op U alleen stel.
Inleiding
Een van die wonderlikste gevoelens van kalmte en rus is wanneer jy iets aan iemand anders kan oorlaat. Ons ken almal die gevoel – die bekommernis en die twyfel wanneer jy weet dinge moet gedoen word en jy het nie die tyd of vermoë om dit te doen nie. Die verligting wanneer iemand sê: “Los dit vir my, ek sal dit doen.” Die verligting is des te meer groter as jy die persoon vertrou en weet jy kan dit werklik aan daardie persoon oorlaat. Hierdie gebed is die gebed van oorgawe aan die sorg van God.
Hy voed
Die Psalmdigter vertel ons dat alles op aarde afhanklik is van God wat aan hulle voedsel gee. Psalm 104:27 Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. Lewe, is wat nodig is vir alles wat groei en voortplant. Lewe, wat ontstaan uit die Skepper van lewe. Het jy al ooit gedink hoeveel miljoene ton kos nodig is om alles op aarde te voed? In die Weskus is die duiker seevoël bekend en volop. Elke duiker eet enige iets van 35 gram tot 159 gram vis, afhangende van die temperatuur. Net as illustrasie het ek die gemiddeld op 100 gram geneem en dit gemaal met die hoeveelheid duikers, net in die Weskus (ongeveer 3miljoen). Navorsing beweer daar is ’n miljoen net in Namibië. As ons dus blikkies vis moes gaan koop om vir al die duikers in die Weskus elke dag kos te koop sou dit jou ongeveer R7 miljoen kos. Nou praat ons van een voël, in een area van Suid-Afrika, ’n klein land op die kontinent van Afrika. Het ons enige idee wat die koste sou wees om al die diere, voëls en visse vir een dag kos te gee, nie eers te praat van die insekte nie? Elke dag, sonder ons insette, sonder dat ons dit eers werklik besef, vind dit plaas.
Jesus demonstreer sy Godheid as Hy vir vyfduisend mans, sonder vroue en kinders, kos gee met vyf broodjies en twee vissies. As dit nie genoeg was nie tel die dissipels ook nog twaalf mandjies vol brokstukkies op. Hy is dieselfde God wat kos gegee het aan die ongeveer twee miljoen mense wat vir veertig jaar in die woestyn gewoon het. As God belowe om vir hulle van vleis te voorsien is Moses se vraag ’n openbaring van die hoeveelheid vleis waarvan daar gepraat word. Numeri 11:22 Sal daar vir hulle kleinvee en beeste geslag word, sodat daar vir hulle genoeg sal wees? Of sal al die visse van die see vir hulle versamel word, sodat daar vir hulle genoeg is? Omdat hulle gekla het en ontevrede was met die manna wat God voorsien het belowe God dat hulle so baie vleis sal eet dat dit hulle sal walg. Numeri 11:19-20 Julle sal nie een dag of twee dae eet nie, of vyf dae of tien dae of twintig dae nie— ‘n hele maand lank, totdat dit uit julle neus uitkom en julle daarvan walg; omdat julle die HERE wat in julle midde is, verwerp en voor sy aangesig gehuil en gesê het: Waarom het ons tog uit Egipte uitgetrek?
Hy voorsien in elke fisiese behoefte
Met ons vra vir ons daaglikse brood, erken ons dat ons elke dag volkome afhanklik van Hom is vir elke fisiese behoefte. Dit maak nie saak hoe die kos of die geld of die klere in my hand kom nie die oorsprong bly dieselfde, alleen van God. Jakobus 1:17 Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie. Hy is die Een wat aan elkeen, goed of sleg, voorsien van die goeie vir hulle daaglikse behoeftes en Hy doen soos HY wil. Mattheus 5:45 sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Paulus gebruik die voorsienigheid van God as ’n teregwysing vir die ongelowiges wat na Hom geluister het as hy hulle daarop wys dat God duidelik getuig dat Hy daar is uit die alledaagse dinge wat Hy gee. Handelinge 14:17 al het Hy Homself nie onbetuig gelaat nie, deur goed te doen, van die hemel vir ons reën en vrugbare tye te gee en ons harte met voedsel en vrolikheid te vervul. Niemand kan reën maak nie. Niemand kan uit niks kos voorsien nie. Niemand kan lewe skep nie. Dit bly, met al ons wetenskaplike vooruitgang, nog steeds ’n misterie. Vir die gelowige, daarenteen, is dit geen misterie nie. Die Bybel openbaar dat God die Skepper en die onderhouer van alle dinge is. As Hy Sy hand vir ’n millisekonde terugtrek sal alles in duie stort.
Hy voorsien in elke geestelike behoefte
Met die gebedsversoek erken ons ook dat ons nie net van brood alleen kan leef nie. Deuteronomium 8:3 En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. Dit is dan ook die vers wat Jesus kwoteer as Hy die duiwel se versoeking, nl. dat Hy van die klippe brood moet maak, teenstaan. Sal al die kos en besittings in die wêreld ooit die mens gelukkig maak? Gee meer besittings meer “lewe”? Met reg sê die Psalmdigter “‘n Klein bietjie is vir die regverdige beter as die rykdom van baie goddelose”. Psalm 37:16. Om hierdie rede word die gelowige opgeroep om tevrede of vergenoegd te wees met wat hy/sy het en ook met die omstandighede waarin hy/sy deur God geplaas is. Hierdie oproep is natuurlik vir die gelowige wat werk en sy/haar beste gee in die werk wat God voorsien het. Jy mag vra wanneer kan ek as gelowige sê dat ek genoeg het? Paulus skrywe aan Timotheus en gee God se antwoord op hierdie vraag. 1Timotheus 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Jesus sou dit ook duidelik maak aan sy volgelinge dat hulle nie hulleself moet bekommer oor kos en klere nie, want hulle hemelse Vader sal vir hulle sorg. Is jy tevrede? Is jy dankbaar? Het jy vreugde? Nog meer is nooit die antwoord nie, slegs meer van Hom is wat ons benodig.
Afhanklike van God nie van mense
As ek besef dat ek van Hom alleen afhanklik is besef ek dat ek nooit afhanklik hoef te wees van enige mens se guns of gawes nie. Baie Christene bely dat hulle afhanklik van die Here is en tog probeer hulle om die wêreld se guns te wen. “Ek kan nie opstaan vir die Here nie, want netnou verloor ek my werk,” of “As ek opstaan in hierdie situasie gaan daardie persoon my nie dalk gebruik vir hierdie projek nie.” Kompromieë word oral gemaak in werksplekke met gelowiges wat deur hulle dade bely dat hulle afhanklik is van mense. Hoe dwaas om jou hoop op ’n mens te plaas. Psalm 103:15-16 Die mens—soos die gras is sy dae; soos ‘n blom van die veld, so bloei hy. As die wind daaroor gaan, is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie. Nadat die Psalmdigter ons vertel dat die mens se lewe maar baie kortstondig is vertel hy in vers 17 op wie ons wel moet vertrou. Psalm 103:17 Maar die goedertierenheid van die HERE is van ewigheid tot ewigheid oor die wat Hom vrees, en sy geregtigheid vir kindskinders. Vrees geen mens nie, maar net God alleen. Kyk na Hom, want van Hom alleen ontvang ons alles wat ons nodig het. Hy gebruik selfs die vyandige Farao om te betaal vir die voedsel en onderrig van Moses.
Dalk dink jy dat dit jou harde werk of intellek is wat jou rykdom, sukses en fisiese welvaart verseker. Jy is dalk ‘n harde werker en baie slim, maar ook dit het jy van God ontvang. Wees dankbaar. Elke kans en geleentheid kom van Hom. Jy kan nooit na wat jy het kyk asof jy dit uit jou eie krag gedoen het nie. Elke breinsel en elke senuwee en spier is afhanklik van ons Hemelse Vader.
Slot
God sal sorg, dit is ‘n belofte waarop jy kan staan en waarmee jy elke nag rustig kan gaan slaap. Werp al jou sorge op Hom en weet dat Hy weet wat jy nodig het in alle omstandighede. Psalm 55:23 Werp jou sorg op die HERE, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie. In hierdie deurmekaar, finansieel onseker tye kan jy dit aan God oorlaat. Doen jou bes, werk hard, maar moet nooit bekommerd wees nie. Soos manna in die woestyn is Sy liefde vir jou nuut elke more. As die toekoms donker lyk en jy nie weet hoe jy vir jou geliefdes gaan voorsien nie, bid “Gee ons vandag ons daaglikse brood”, en onthou dit is nie jy wat in die eerste plek voorsien het nie, dit was nog altyd God en hy sal nie nou ophou nie.
