Sondag 49 Net U wil?!

Vraag 124: Wat is die derde bede?

Antwoord: Laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. Dit is: Gee dat ons en alle mense ons eie wil prysgee om aan u wil, wat alleen goed is, sonder enige teëpratery gehoorsaam te wees, sodat elkeen sy amp en beroep net so gewillig en getrou kan beoefen en uitvoer soos die engele in die hemel.

Inleiding

Met hierdie gebed bevestig elke gelowige dat God se wil die beste is. Indien jy nog nie by daardie punt is nie, en jy nog die god van jou eie lewe is, met die gedagte dat jy in beheer is en die beste weet, met jou sogenaamde “gesonde” verstand, sal hierdie gebed leeg wees. Net soos wat ons in die vorige inskrywing bevestig het, dat God se koninkryk SAL kom, so bevestig ons dat God se wil SAL geskied. Hierdie gebed is dus nie om die moontlikheid van die teendeel te verhoed nie, maar om myself sodanig te rig en verander dat Sy WIL ook my wil sal wees. Dit is dus ‘n onderwerping van my wil aan God se wil. Ek buig my knie.

Ware geluk

Ware geluk word gevind slegs op een plek en dit is binne die Wil van God. Geen mens sal gelukkig wees buite Sy Wil nie. Die mens het die idee dat hy/sy alleen waarlik gelukkig sal wees indien hy/sy toegelaat word om hul eie wil uit te voer. Ons het motiverings gesegdes soos: “Dans op die ritme van jou eie musiek”, “volg jou hart”, “brand jou eie pad.” Die Bybel is egter duidelik dat ons hart bedrieglik is en ons dikwels mislei. Geluk word die goud aan die einde van die reënboog en terwyl ons naarstiglik daarna op soek is, bly dit buite ons bereik solank ons buite God se wil is.  Van Adam en Eva en deur die geskiedenis wil die mens sy eie god wees. Sy gebed is: “Laat my eie wil geskied.” Dit is deel van menswees, vanaf die eerste skree uit die moederskoot tot by ons testament. Jesus weet dit is wat die mens se grootste begeerte is en daarom roep Hy sy volgelinge op om te sterwe in hulleself. Mattheus 16:24  Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. As jy nie jou lewe kruisig nie sal jy Hom nooit kan volg nie. Elke tree saam met Christus is ’n pad van verloëning van die eie ek en daarmee my eie wil. Die Woord leer ons dat wat die vlees begeer altyd in stryd is met wat God begeer. Romeine 8:7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. As ek dus na my eie begeertes gaan luister gaan ek altyd in vyandskap met God lewe.

Waarvoor vra ek in gebed

Die meeste mense wat bely dat hulle gelowiges is se gebedslewe is deurtrek van hulle eie begeertes. Die gebed is ’n lys van wat jy wil hê. Daar is so min gelowiges wat worstel met wat dit is wat God van hulle wil hê te midde van moeilike omstandighede. Jesus is ons voorbeeld in die tuin van Getsémané as Hy bid dat Sy Vader se wil, sal geskied. Lukas 22:42  en gesê: Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! As volledig mens is Jesus se begeerte om nie hierdie beker te drink wat Sy vader van Hom wou hê nie. Hy wat volledig God en mens is, sou die sonde van die mens aan die kruis moes dra. 2Korintiers 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Watter vreesaanjaende gedagte moes dit nie vir Hom gewees het nie. Sal ons ooit hierdie prys wat Hy vir ons betaal het verstaan? Met die vooruitsig is Sy gebed nogsteeds dat Sy Vader se wil sal geskied bo sy eie. Hoe kan ons as Sy volgelinge enige iets anders bid as “Here laat U wil geskied.”

In ons lewens gaan die Here ons speen van al ons eie begeertes sodat ons Sy begeertes kan najaag. Titus 2:11  Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe. My gebedslewe vra dus: “Here ek soek meer van U en minder van myself.” Indien jy egter nie ‘n verhouding met God het nie, as jy nie Sy liefde vir jou besef en Hom nie vertrou en glo dat Sy wil die beste is nie, kan jy nie hierdie gebed bid nie. Jou lippe mag dit dalk sê, maar jou hart en lewe sal die teendeel leef. Jesus het Sy Vader intiem geken, was verseker van Sy liefde vir Hom en kon homself oorgee aan Sy almag. Kan jy?

My eie wil – my grootste vrees

Die grootste vrees van die gelowige is dat God hom/haar sy eie wil, sal gee. Ons leer in die Bybel van die Israeliete wat gedurende hulle deurtog in die woestyn male sonder tal voor God gekla het oor hulle lot. God gee hulle dan hulle begeertes, maar in hulle geestelike lewens ’n armoede. Psalm 106:15  Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur. Is dit wat jy wil hê? “Gee my net wêreldse vrede en vreugde hier en nou en dit is vir my genoeg.” Jy is nooit gelukkig nie? Jy kla oor alles? Net soos Israel is dit nie genoeg dat God net manna gee nie, jy soek ook vleis. Jy weet waarvan ek praat. Jy honger en dors na die wêreldse dinge terwyl God jou oproep om te honger en dors na Sy geregtigheid. Mattheus 5:6  Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.  Watter pragtige belofte is daar nie vir ons wat honger en dors na geregtigheid nie? Geregtigheid is om te doen wat Sy Woord van ons vra. Sulke mense sal in hulle lewens versadig wees, ongeag hulle fisiese omstandighede. Of ons kan kyk na Hiskia aan wie God ’n opdrag stuur dat hy sy lewe in orde moet kry, want hy gaan sterf. Hiskia is ongelukkig oor God se wil. 2Konings 20:2-3  Toe draai hy sy gesig na die muur, en hy het gebid tot die HERE en gesê: Ag, HERE, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met ‘n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween. God gee dan vir Hiskia 15 jaar by sy lewe en watter hartseer laaste vyftien jaar is dit nie? Wat baie dalk nie weet nie is dat Hiskia se seun Manasse in daardie vyftien jaar gebore is. Manasse was 12 jaar oud toe Hiskia dood is. Manasse was een van die wreedste konings van Juda. Hy het afgode aanbid en tot sy seun aan ’n afgod geoffer. 2Konings 21:5-6  En hy het altare gebou vir die hele leër van die hemel in altwee die voorhowe van die huis van die HERE; ook sy seun deur die vuur laat deurgaan en met goëlery en verklarings van voortekens omgegaan en dodebesweerders en waarsêers aangestel; hy het baie gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE om Hom te terg. So lyk die kinders van ’n man wat sy eie wil bo God se wil soek en nooit gelukkig is met God se wil vir sy/haar lewe nie. Wat sien jou kinders as hulle na jou lewe kyk? God se wil of jou wil ten alle koste? Offer jy dalk jou kinders voor die afgod van jou “Eie wil” ?

Met vreugde

God roep ons op om Sy wil vir ons lewens uit te leef en dit te doen met vreugde. Paulus skrywe aan die gemeente in Korintiërs en beveel hulle om te wandel in omstandighede waarin God hulle geroep het. 1Korintiers 7:17  Maar elkeen moet wandel net soos God hom dit toebedeel het, soos die Here elkeen geroep het. En so bepaal ek in al die gemeentes. Hy verduidelik dan vir hulle dat party geroep is as slawe en ander vrymanne, party as Besnydenis en ander Onbesnedenes, maar dat elkeen moet bly in die roeping waarin God hom/haar geroep het. Dit beteken nie dat ‘n slaaf nie die geleentheid om vrygelaat te word mag aanvaar nie. Nee, wat dit vra is dat ek, as gelowige, gelukkig en tevrede moet wees in die omstandighede waarin God my geplaas het. 1Korintiers 7:21-24  Is jy as slaaf geroep, laat dit jou nie kwel nie; maar as jy ook vry kan word, maak daar des te meer gebruik van. Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ‘n slaaf van Christus. Julle is duur gekoop; moenie slawe van mense word nie. Laat elkeen, broeders, in die staat waarin hy geroep is, daarin bly voor God. Binne die omstandighede waarin God my geplaas het, werk ek asof ek vir God werk en nie vir ’n mens nie. Ek doen alles asof vir Hom. Ek aanvaar Sy wil vir my lewe. Hy weet die beste. Hy het my lief.

Slot

So  is die lewe van ‘n gelowige een groot stryd, waar ek nooit mag doen wat ek wil of kry wat ek graag wil hê nie? Is ek soos iemand wat die heeltyd dit wat ek graag wil hê teësinnig moet opoffer, sodat ek eendag die Ewige Lewe kan beërwe? Dank die Here, nee! Hy het die Heilige Gees vir ons gegee om ons wil te verander, om ons te denke te vernuwe en ons nie net te help nie, maar ook gewillig te maak om Sy wil te doen. Soos wat ons groei in Christus verander ons wil en word dit al hoe meer soos God se Wil. Die Bybel sê ons kan met al ons begeertes en behoeftes na Hom toe gaan en dit in gebed en smeking aan Hom bekend maak. Wat egter gebeur, is dat, soos ons groei in ons Geestelike lewe, ons begeertes en behoeftes verander. Ons gebede verander na “Onse Vader, Laat U koninkryk kom, laat U wil geskied…”

Ons gebed is dat ons Sy wil op aarde net so sal uitvoer soos wat die engele dit in die hemel doen. Die engele lewe in afhanklikheid van Hom en wag vir sy opdrag, net so moet  die gelowige in afhanklikheid van God op aarde leef met die Woord as ons maatstaf vir die uitleef van God se opdragte. Psalm103:20-21  Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy            dienaars wat sy welbehae doen! Met hierdie lied in my hart, bid ek dit, want God se wil is die beste!