Sondag 48 Here kom gou!

Vraag 123: Wat is die tweede bede?

Antwoord: Laat u koninkryk kom. Dit is: Regeer ons so deur u Woord en Gees dat ons ons hoe langer hoe meer aan U onderwerp. Bewaar u kerk en laat dit groei. Vernietig die werke van die duiwel, elke mag wat teen U opstaan, en alle kwaadwillige planne wat teen u heilige Woord bedink word, totdat die volkomenheid van u ryk kom, waarin U alles in almal sal wees.

Inleiding

Die Koninkryk van die Hemel word in Matteus 12 in verskeie gelykenisse vergelyk met beelde wat vir ons bekend is. ‘n Saailand, ‘n skat, ‘n waardevolle pêrel, suurdeeg, ‘n mosterdsaadjie, ‘n treknet.  Alhoewel die gelykenisse verseker verskillende eienskappe van die Koninkryk van God wil uitbeeld, het almal dit in gemeen – daar is ‘n element nou en eendag. Iets wat jy nou alreeds in besit kan neem, of kan ervaar, maar wat sal uitloop in ‘n heerlike toekoms. Daar is dus ‘n verwagting. Hierdie verwagting is die gebed van elke gelowige, dat God die finale vervulling van Sy Koninkryk sal laat kom.

Ons grootste begeerte

Die gelowige se grootste begeerte is om God in alles te verheerlik. Ons wil met alles in ons waak teen enige opstandigheid teen God se Woord. Terwyl ons as gelowiges die begeerte en strewe het om onsself  aan God te onderwerp leef ons in ’n wêreld wat in alle opsigte in opstand is teen God en Sy gebod. Die wêreld staan nie neutraal teenoor God nie, o nee, dit is aktief in weerstand teen God. Omdat die wêreldse persoon onder die beheer van die Satan is en deur sy vlees gelei word, is hy/sy in vyandskap met God. Romeine 8:6-8  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie. In hierdie opstandige wêreld, het ons nodig om elke dag te bid dat die Gees ons sal lei, sodat ons nie in hul opstand teen God meegesleur word nie. Psalm 143:10  Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ‘n gelyk land. Omdat dit ons gebed is, word gelowiges gekenmerk as mense soekend na God se Koninkryk. Mat 6:33  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. In hierdie wêreld word my motivering  vir alles wat ek aanpak, God se wil en opdrag. Hoe kan ek God se Koninkryk dien?

 

Moelikheidmakers in ‘n geestelike oorlog

Die gelowige is nie iemand wat net blindelings die wêreld of die zeitgeist(tydgees) navolg nie. Gelowiges kan met reg vergelyk word met die salm wat stroomop beur, oppad na hul dood. Ons is dikwels in stryd met dié rondom ons. Ons word baie keer deur die wêreld as moeilikheidmakers gesien, as mense wat nie wil konformeer met die meerderheid standpunt nie. Ons moet verstaan dat daar ’n oorlog aan die gang is, ’n oorlog van God se koninkryk teen die koninkryk van die duisternis.

As ons bid vir Sy koninkryk wat moet kom weet ons in dieselfde asem as wat ons vra, dat dit beslis sal kom. Ons het beloftes dat God Sy Kerk in stand sal hou en dat geen mag dit sal kan vernietig nie. Jesus vra vir Petrus en die ander wat die mense sê wie Hy is. Petrus maak dan die volgende belydenis “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Mattheus 16:16. Jesus antwoord Sy volgelinge dat hierdie belydenis van Petrus die Rots is waarop die Kerk gebou sal word. In Openbaring word die Kerk, wat erg vervolg word, ‘n blik gegee van wat in die Hemel besig is om plaas te vind terwyl die duiwel en sy onderdane verwoesting aanrig op aarde. God sit op Sy troon en die oorwinning is klaar behaal! Die vraag mag nou ontstaan: “ Waarom bid ons vir iets wat alreeds seker en vas is!”. Die rede hiervoor is dat die Kerk met hierdie gebed sy afhanklikheid van God verklaar en bely dat die Kerk se groei en standvastigheid nooit afhanklik is of sal wees van enige individu of instansie nie. Ons bely ook ons begeerte dat die Kerk sal groei.

 

Vernietiging van Satan

Soos in die gelykenisse oor die Koninkryk is dit duidelik dat die duiwel aktief probeer om die Koninkryk te vernietig. Dit is die gelowige se gebed dat God die werke van die Satan sal vernietig en ook enige iemand wat kwaadwillige planne teen God se Woord sal bedink. Die duiwel en sy magte, saam met sy volgelinge, het een doel voor oë, nl. die verwoesting van die Kerk. Net die Kerk staan teen hulle in hulle strewe tot algehele heerskappy. Die Kerk is die sout en die lig. Daarsonder sal daar algehele verval en duisternis wees. Alle persone in wêreld is nie ten alle tye bewus van sy/haar inherente strewe tot die vernietiging van die Kerk nie. Baie lewe onbewus van hulle medewerking in hierdie komplot. Jesus waarsku dat daar selfs tye sal wees dat mense sal dink hulle vervolg die ware Kerk in diens van God. Johannes  16:2  Hulle sal julle uit die sinagoges ban. Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. Ons het dit deur die geskiedenis gesien en sien dit steeds vandag. Vanuit die sogenaamde kerk, kom die meeste dwaling en verwerping van God se Woord. Daar is egter net twee groepe mense. Jy is of aktief vir God of teen Hom. Ons sien vandag hoe die duiwel selfs ’n siekte kan gebruik en sy onderdane gebruik om gelowiges so bang te maak dat hulle nie eers eredienste wil bywoon nie. Hier wil ek net myself in die rede val en sê dat die Kerk terdeë bewus is dat alles uit God se hand kom en dat selfs die komplotte van die bose magte deur ons Vader gebruik word tot die groei van Sy Kerk. Die beste groei van die Kerk is juis in tye waar die Kerk met lyding gedreig word.

 

Reeds oorwin

Die oorwinning sal spoedig wees, dit weet ons. Romeine 16:20  En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen. Die gelowige leef elke dag met ’n afwagting dat die Here vandag kan kom. Hierdie begeerte is natuurlik op sy intensste in tye van lyding en vervolging. Openbaring 22:20  Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus! Kan jy dit sê? Is daar iets wat jou weerhou om dit met dankbaarheid te bely? Iemand wat so in afwagting en verwagting lewe, sal nie toelaat dat enige iets of iemand belangriker word as God nie. In hierdie afwagting is daar ’n gesug dat Christus moet kom en ons finaal verlos van hierdie bose wêreld en ons eie sondige natuur. Romeine 8:22-23  Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. Ons is soos Lot wat gereeld elke dag gepynig word deur die goddeloosheid van die wêreld waarin ons leef. 2Petrus 2:7-8  en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense; want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke.  

 

Ewige, wonderlike Koninkryk

Hoe wonderlik sal hierdie ryk nie wees as dit kom nie? ’n Ryk waarin God in alles, in elke skepsel sal wees. 1Korintiers 15:28  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees. Elke skepsel, elke gebeurtenis, elke emosie, ja alles sal Hom verheerlik. Dit sal ’n goeie Koninkryk wees, ’n Koninkryk met ’n goeie Koning. Ons weet dat geen regeringstelsel werk nie. Ons is maar net terdeë bewus dat demokrasie nie die beste stelsel is nie. Die gevolge is maar net te duidelik sigbaar rondom ons. Nee, ons wil ’n goeie Koning hê. ’n Koning wat ons lief het en nooit foute maak nie. ’n Koning wat Sy lewe gegee het vir sy onderdane sonder dat enige een van hulle dit verdien het. Wat ’n Koning en watter koninkryk om na uit te sien!