Sondag 47 Hy is Heilig!

Vraag 122: Wat is die eerste bede?

Antwoord: Laat u Naam geheilig word. Dit is: Gee allereers dat ons U reg ken en dat ons U heilig, roem en prys in al u werke waarin u almag, wysheid, goedheid, geregtigheid, barmhartigheid en waarheid so skitter. Gee verder dat ons ons hele lewe, gedagtes, woorde en werke daarop sal rig dat u Naam nie om ons ontwil gelaster nie, maar geëer en geprys word.

Inleiding

Waarin beskou jy jouself as ’n kenner? Of anders gestel, waarin sal jy graag wil hê ander moet jou erken as ‘n kenner? Wat is, volgens jou, die belangrikste kennis wat jy kan opdoen? Jeremia 9:24 ,”maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die HERE is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ‘n behae, spreek die HERE.”

Kennis van God

“Laat U Naam geheilig word.” God is alreeds Heilig. Hy kan nie nog heiliger word as wat Hy reeds is nie. Hierdie gebed is dat ek sal toeneem in kennis van hoe heilig God regtig is. Dat dit duidelik sal word in alles wat ek sien en hoor en ervaar. Hierdie is sekerlik die belangrikste gebed van ‘n gelowige se lewe. Om God waarlik te kan ken. Ons begin reeds op aarde om Hom te leer ken en dit sal ewig voortduur. As jy nie nou belangstel en jou vreugde vind in die ewige God nie, waarom sou jy enigsins dink dat die Hemel die plek van vreugde vir jou sal wees.  Johannes 17:3  En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het. Met al die Bybels in omgang is dit skokkend hoe min mense die Here werklik ken. Van ons tyd kan met reg gesê word, dit wat God deur die profeet Hosea aan Sy volk gesê het. Hosea 4:6  My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.

Van leiers tot gewone lidmate se algemene kennis rakend die Woord is gebrekkig, om nie eers van dieper insig in die Woord te praat nie. Miskien is jy een van daardie gelowiges wat glo dat om God te ken, verskil van Bybelkennis. Dit is verseker waar dat jy Bybel kennis kan hê en God nie werklik kan ken nie. Daar is nog steeds “Wetgeleerdes” en “Fariseërs.” Die omgekeerde is egter nie waar nie. Geen gelowige kan verklaar dat Hy God ken, maar nie die Bybel nie. In die Woord van God word Sy karakter ten volle uitgebeeld. Kennis, reg toegepas, bemagtig. Net so sal die kennis van God elke gelowige bemagtig tydens enige krisis. Die gebrek aan hierdie kennis is die grootste rede waarom daar so baie gelowiges vreesbevange en in vertwyfeling raak as krisisse in hulle lewens plaasvind. Wat jy glo beïnvloed hoe jy leef en jou uitkyk op die lewe. As jy glo soos die Bybel jou leer, nl. dat God in beheer is van alles en dat Hy alles laat meewerk vir die wat Hom lief het, sal jy vreesloos lewe. Romeine 8:28  “En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” Ken jy hierdie God wat alles bestuur en regerings aanstel en afdank, siek maak en doodmaak, wat Sy kinders vashou en vir hulle sorg deur dik en dun? As dit jou begeerte is om God waarlik te ken, is jou vraag dalk nou: “Hoe kan ek, ‘n gewone mens, die gans andere God ken?” Die antwoord: “Bid, laat U Naam geheilig word” en God, wat Homself ook jou Vader noem, sal jou leer wie Hy is. Jeremia 31:33-34  Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.

Geloof in sy Heiligheid

Die gelowige wat bid dat die Here se naam geheilig word, is die persoon wat glo dat alles wat God doen en besluit goed en reg is. Ons weet en bely dat hy ’n regverdige God is en dat Sy oordele en bevele regverdig is. Psalm 119:137 HERE, U is regverdig, en reg is u verordeninge. Ons geniet Sy Woord en vind ons vreugde daarin. Die gelowige leer dat God nie bevraagteken moet word nie, maar dat my eie verstaan en gebrek aan kennis eerder die rede is vir my onvermoë om die grootheid van Sy weë te begryp. Baie keer hoor jy hoe gelowiges praat oor hulle worsteling met God soos Jakob of Job. Die eerste vraag as ek gelowiges so hoor praat is of hulle die res van die verhaal klaar gelees het en ontdek het wat hierdie manne van God moes leer? Hoekom vra jy vrae wat God in Sy Woord al klaar beantwoord het? Ek hoef nie alles te verstaan wat in my lewe of in die wêreld aangaan nie, al wat ek moet weet is,  Wie die Een is wat ek Vader noem. Kyk wat sê God van Homself in Sy gesprek met Moses. Eksodus 34:6  En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou. Is dit die God wat jy ken en lief het? Is Hy die Een wat jou belowe het dat Hy jou nooit sal begewe en nooit sal verlaat nie? Hoe meer die gelowige besig is met die Woord hoe meer ontdek hy/sy hoe gebrekkig hulle kennis van God is. Ons raak verleë oor ons ongeloof en hoe vêr ons tekort skiet in ons geloofslewe. Na Paulus een van die moeilikste teologiese vrae beantwoord het in Romeine 9-11 breek hy uit in ’n doksologie: o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. Romeine 11:33-36. Die beste wat ek kan doen, is om soos Paulus God se naam te prys as ek by ’n gedeelte kom wat ek nie ten volle begryp nie. Baie wil sulke gedeeltes aanpas om meer in te pas by wat ek as regverdig, barmhartig, genadig of liefdevol sien. Kan jy dink dat die mens homself kan aanmatig om te dink dat Hy beter as die lewende God weet of dat Sy regverdigheid beter is as die van die Lewende God? Watter arrogansie is daar nie in so ’n mens wat God se wysheid wil bevraagteken nie? Nee, om Sy naam te Heilig is om te bely dat alles wat Hy doen reg is.

Laat my lewe U Naam heilig

Om te bid dat Sy naam geheilig moet word, is laastens om te bid dat my lewe Sy naam sal heilig. Hoe verskriklik is dit nie as ek God se naam onheilig a.g.v. my optrede nie. Dawid het gesondig teen God deur by Batsheba te slaap en haar man dood te maak. Nie net het hy met sy dade teen God gesondig nie, maar sy dade het veroorsaak dat God se naam gelaster was onder die heidene. 2Samuel 12:14  Maar omdat u die vyande van die HERE deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster, sal die kind wat vir u gebore is, ook sekerlik sterwe. Dit was die probleem met die Joodse nasie, waarvoor Paulus skrywe, wat bely het dat God hulle God is, maar op so ’n manier gelewe het dat God se naam skade gely het. Romeine 2:24  Want, soos geskrywe is, die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster. My liefde vir Hom maak dat ek by Hom pleit dat my lewe nooit Sy naam sal ontheilig nie. Dit maak nie saak as mense my hier op aarde sleg behandel of alles wat sleg is van my sê omdat ek doen wat reg is nie, daar sal ’n dag van rekenskap wees. 1Petrus 2:15-16  Want so is dit die wil van God dat julle deur goed te doen die onkunde van die dwase mense tot swye sal bring, as vrymense en nie asof julle die vryheid het as ‘n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diensknegte van God. Ek wil in alles doen wat goed en reg is, volgens wat Sy Woord van my vra.

As ons met ander oor ons Verlosser en Vader praat is dit altyd met lof en maak ons Sy naam groot. Hy is die Een oor wie ons roem en Wie ons besing. Psalm 71:8  My mond is vol van u lof, die hele dag van u roem. Mag ons altyd van die Here vra dat Hy ons sal help, dat dit nooit in ons lewens oor onsself sal gaan nie, maar altyd oor Hom. Psalm 115:1  Nie aan ons, o HERE, nie aan ons nie, maar aan u Naam gee eer, om u goedertierenheid, om u trou ontwil. Jesus was vir ons die voorbeeld hierin. Sy woede was vir sy Vader se naam wat skade gely het a.g.v. sogenaamde leiers van die volk wat deur hulle lewens oneer aan God gebring het en as die volk Sy Vader se huis verander het in ’n rowersnes i.p.v. ’n plek van gebed. Wat ontstel jou, wat maak jou kwaad? Is dit verkeerde dinge in kerke en gelowiges se lewens of dinge in jou eie lewe waar jy sondig, dinge wat God se Naam laat skade ly, wat jou kwaad maak?

Slot

“Mag ons U waarlik ken, in al U heiligheid. Mag ons ten volle daarin glo en dit uitdra, nie net met ons mond nie, maar ook met ons gedrag. Here, help ons om nooit skade of oneer aan U naam te doen nie. Ons is U kinders. Here laat U naam geheilig word”