Vraag 120: Waarom het Christus ons beveel om God as ons Vader aan te spreek?
Antwoord: Sodat Hy heel aan die begin van ons gebed in ons die kinderlike vrees en vertroue op God sal wek. Dit moet die grond van ons gebed wees, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het, en dat Hy ons veel minder dit wat ons van Hom in die geloof bid, sal weier as wat ons vaders aardse dinge ons ontsê.
Vraag 121: Waarom word hier bygevoeg: wat in die hemel is?
Antwoord: Sodat ons van die hemelse majesteit van God nie aards moet dink nie en van sy almag alles verwag wat ons vir liggaam en siel nodig het.
Inleiding
“Vader”. Hierdie woord is een van daardie woorde wat gelaai is met soveel emosie. Selfs iemand wat ‘n slegte aardse pa het of gehad het, verstaan wat die woord Vader moet verteenwoordig. Ek is seker jy kan ‘n paar van jou eie woorde hierby invoeg, maar net om ‘n idee te gee van die volheid van hierdie woord, gaan ek ‘n paar lys. Outoriteit, wysheid, krag, respek, liefde, sekuriteit, verantwoordelikheid, beskerming, leiding, mentor, voorsiening, aanmoediging, ondersteuning, familie, behoort, kindskap, erkenning,… Dit is die naam wat God wil hê ons Hom moet noem as ons tot Hom bid, want Hy is al hierdie dinge en soveel meer.
Ons is familie
Miskien moet ons eers begin by die woordjie “ons”. Ons word nie in die Onse Vader geleer om “My Vader” te bid nie, maar “Onse Vader”. Met die “ons” verklaar ek dat Hy die Vader is van miljoene ander gelowiges deur die geskiedenis en ook nou. Ek behoort aan ’n familie wat bestaan uit verskillende rasse, tale en kulture wat een gemaak is in Christus. Galasiërs 3:28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. Ek kan nooit net aan myself dink, los van ’n familie waarvan ek deel geword het in Christus, nie. As ek my nie wil verbind aan my geestelike familie nie, kan ek myself nie ’n gelowige noem nie. Baie gelowiges het geen band met hulle mede gelowiges nie. Hulle wil op hulle eie vir die Here lewe. Dit is omtrent soos ’n seun en dogter wat in hulle kamer bly en nooit saam met hulle familie om ‘n tafel sit en eet, saam gesels of vreugde of hartseer deel nie. Hoe “arm” is so ’n persoon nie? Hoe geestelik arm sal ’n persoon nie bly wat geen deel aan die mede gelowiges in sy/haar gemeente het nie?
Die vraag moet gevra word of jy jouself as ’n gelowige kan sien sonder om deel te wees van ’n plaaslike gemeente. Ek het al gehoor dat mense sê dat hulle Christus lief het, maar dat hulle al te seer gemaak is deur ander gelowiges of bloot nie van alle gelowiges hou nie. Hoe sal jy daarvan hou as iemand vir jou sê: “Jong, ek hou baie van jou, maar ek hou nie van jou vrou nie. Ek sal graag vir jou beter wil leer ken, maar kom kuier by my sonder jou vrou.” Sal daar enige verhouding kan wees? Johannes vra die vraag of iemand kan sê dat hy/sy God lief het sonder om sy broer/suster in Christus lief te hê. 1Johannes 4:20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? Die liefde wat ek vir God het word geopenbaar deur my liefde vir Sy kinders, my mede broers en susters. Daarom as ek in gebed tot my Vader gaan, is ek nooit los van my familie in Christus wat saam met my na Sy genade troon gaan nie. Jou geestelike familie, net soos jou aardse familie, vorm jou en skaaf aan jou. Daar is niks beter om jou te help om te sterwe aan jouself as om met mense te werk wie se persoonlikhede en gewoontes van joune verskil nie. Die oomblik dat jy op jou eie, of met jou eie groepie, los van die gemeente waar jy ingeskakel is, bly, is jy buite die wil van God vir jou lewe. Die plaaslike gemeente is die plek waar ryk en arm, geleerd en ongeleerd saam hulle Vader aanbid en ongeag mense se agtergrond, mekaar se geestelike lewens help verryk. Dink maar aan Maria Magdalena en hoe sy ’n voorbeeld was van ’n “slegte” vrou wat ander om haar gewys het wat dit beteken as iemand besef dat sy baie vergewe is.
Ons het mekaar nodig
‘n Predikant het eenmaal agtergekom dat ‘n sekere man nie meer die eredienste bywoon nie. Met diepe bekommernis in sy hart het hy besluit om die man te gaan besoek. By sy aankoms het die man hom vriendelik ontvang en koffie aangebied. Dit was ‘n koue winteraand en in die kaggel het ‘n lekker vuurtjie gebrand. Terwyl die predikant uitvra oor hoe dit gaan en hulle nog oor klein dingetjies gesels het die predikant van sy stoel opgestaan en ‘n brandende houtstomp uit die vuur gehaal en een kant in die kaggel laat brand. Die stomp het nog vir ‘n tydjie gebrand, toe begin gloei, smeul en uiteindelik swart en koud, met slegs ‘n rook reuk nog bewys gelewer dat dit eens ‘n brandende deel van die vuur was. Sonder ‘n woord verder het die predikant die man gegroet en huis toe gegaan. Die volgende Sondag was die man by die erediens. Die boodskap was duidelik – geen mens kan op Sy eie brandend vir die Here bly nie.
‘n Joodse rabbi’s het gebid dat God nie die gebed van ’n reisiger moes beantwoord nie. Die rede hiervoor is dat ’n reisiger sou bid vir goeie weer en nie sou dink dat die mense van die omgewing reën nodig het nie. In die “ons” dink ons vêrder as ons eie behoeftes en begeertes aan dié van ons familie, in die gemeente waarvan jy deel is. Miskien kan jy jouself afvra vir hoeveel mense in die gemeente kan jy bid, omdat jy hulle behoeftes ken en dan hoe kan jy help om hul nood te verlig? Die Bybel roep my op om my oë en ore oop te hou vir wat aangaan met my broers en susters. 1Johannes 3:17 Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?
Wat is ‘n Vader?
‘n Vader is iemand wat kinders het. God is die Vader van alle gelowiges. Die woord “Vader” bring ons baie naby. Dit maak ons deel van ’n familie, ’n gesin. Dit maak my deel van ‘n Vader wat Sy liefde aan my as gelowige demonstreer deur die stuur van sy enigste seun. Johannes 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê. In Sy seun, Jesus Christus, is ek deel gemaak van hierdie familie met ’n Vader wat my meer lief het as wat ek Hom ooit kan liefhê. Meer liefde as wat enige vader teenoor sy kinders kan hê, is die liefde van God vir my. Daarom kan Jesus die vergelyking gebruik van ’n kind wat sy vader iets vra en ’n vader wat nie iets slegs vir sy kind sal gee nie. Mattheus 7:9-11 Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee; en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! My Hemelse Vader het ’n groter begeerte om vir my te gee as wat ek die begeerte het om van Hom te vra. Ja, alles volgens Sy wil en eer en my geestelike groei.
In die Hemel
Ons sê: “Ons Vader wat in die Hemel is”, om daardeur te erken dat Hy gans ánders is. Hy weet van alles en is in beheer van alles. Jeremia 23:23-24 Is Ek ‘n God van naby, spreek die HERE, en nie ‘n God van ver nie? Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE. Hoe maklik maak ons nie die Grote God klein nie. Met ons gedrag en optrede vertel ons van ’n God wat nie van alles weet nie en nie eintlik in beheer is van alles nie. Dit is nie die God van die Bybel nie! Die profete moes aan die volk verkondig met Wie hulle te make het as hulle in gebed voor Hom leef. Hy is die God wat ons nie nodig het nie. Ek kan niks vir Hom doen nie. Ek kan geen guns aan Hom bewys nie. Hy het aan niks behoefte nie. Hand 17:24-25 Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here van hemel en aarde is, woon nie in tempels met hande gemaak nie. Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. Sommige mense het die idee dat dit vir God ’n voorreg sal wees as God hulle in Sy span kan hê. Baie verkondig dit as hulle vir ongelowiges, wat ryk of beroemd is, sê: “Dink net hoe magtig die Here jou kan gebruik as jy tot bekering kom!” God kan elke gelowige magtig gebruik, omdat Hy jou God is, nie omdat jy iets besonders is nie. God het ’n donkie gebruik om Bileam te waarsku. God het niemand nodig nie. Hy regeer van ewigheid. Gebed word dus altyd vanuit ’n nederige gees gedoen. Ek verklaar my afhanklikheid van Hom. Alles wat ek nodig het, fisies en geestelik, kom uit sy hand. Met die woorde “in die Hemel” erken ek dit.
Slot
Ons het ‘n Vader, ‘n hemelse Vader, wat ons lief het en in alles vir ons wil en sal voorsien. Hy beloof dit. Glo dit en leef gekoester, as waardevolle lid van hierdie geestelike familie in vreugde, vrede en nederige aanbidding.
