Hoe moet ‘n gebed wees wat God behaag en deur Hom verhoor word?
Antwoord: Ten eerste moet ons alleen die enige ware God wat Hom in sy Woord geopenbaar het, van harte aanroep vir alles waarvoor Hy ons beveel het om te bid. Ten tweede moet ons ons nood en ellende reg en grondig ken sodat ons ons voor sy majesteit kan verootmoedig. Ten derde het ons hierdie vaste grond dat Hy ons gebed, hoewel ons dit nie verdien nie, tog ter wille van die Here Christus sekerlik wil verhoor soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het.
Inleiding
Baie mense soek ‘n reëlboek – “5 Stappe tot volkome gebedsverhoring.” Hierdie vraag is nie daarop gemik om so ‘n reëlboek te wees nie. Dit is daar om jou te laat besef, dat jou kennis van wie God is, jou verhouding met Hom en jou wil om in alles Hom te eerbiedig en te doen wat Hy vra, deel is van ‘n gebedslewe – ‘n verhouding met ‘n lewende God wat jou liefhet, ‘n veilige woning waar jy rus kan vind.
Voor God alleen
Ons is baie keer soos kinders wat hul probleme met een van hul maatjies deel. Hoewel dit sekerlik help in terme van ‘n iemand wat luister, los dit nie jou probleem op nie. In terme van werklik ernstige kwessies, weet kinders dat jy met iemand met gesag moet praat, iemand wat werklik iets aan jou situasie kan doen, iemand wat kan help. Soms is God egter die laaste persoon met wie ons praat, nadat ons al ons menslike hulpbronne uitgeput het.
Al my node moet ek uitstort voor Hom alleen. Niemand anders as Hy mag aanbid word nie. Openbaring 19:10 En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie. Baie van ons het die idee dat dit waar is in ons lewens, maar as daar probleme kom na wie hardloop ons? Ons stel ons vertroue in mense. “As hierdie persoon net vir my toelaat…” of “as daardie persoon net weet kan hy/sy dalk…” en so is ons vertroue in almal behalwe in God alleen. Luister na wat die Psalmdigter sê “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” Psalm 146:3. Die mens se hulp is soos sy lewe, van korte duur. God is ewig en niemand kan sy hand afdruk nie. Luister hoe bely ’n heidense koning, Nebukadnesar, wat deur God soos ’n dier gemaak is, as hy weer by sy volle verstand is. Daniel 4:35 En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie? Kan iemand keer wat God wil doen? Kan jy vertrou dat, maak nie saak wie teen jou is of wat mense of gebeure veroorsaak nie, God nog steeds in beheer is en alles in jou lewe laat plaasvind soos Hy wil?
‘n Veilige Rus
Wanneer een van jou kinders na jou toe kom met ‘n probleem, met ‘n vaste wete en vertroue dat jy dit sal kan uitsorteer, raak hulle rustig, want Mamma en Pappa sal dit regmaak. Sonder enige twyfel, soos ‘n kindjie wat op sy ouers vertrou. Net so, indien jy weet wie God is, met ‘n vaste vertroue in Sy almag, karakter en liefde vir jou, Sy kind, vind jy rus in Hom. Daarom vlug ek na Hom in gebed. Ek wil hê ons moet nadink oor die volgende verse in die Psalm. Psalm 84:2 Hoe lieflik is u woninge, o HERE van die leërskare! My siel verlang, ja, smag na die voorhowe van die HERE; my hart en my vlees jubel uit tot die lewende God. Selfs vind die mossie ‘n huis en die swaweltjie ‘n nes vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God! Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela. Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is. Waar wandel ek in tye van nood? Waar vind ek my rus? Die psalmdigter beskryf die voëltjies wat weet dat dit by die altaar die veiligste is om vir haar kleintjies ‘n nes te maak. Die altaar is vandag die plek van aanbidding. ’n Lewe van aanbidding is die veilige altaar waarop die gelowige sy/haar huis bou, en waar hulle hul kinders grootgemaak. Hier vind die gelowige rus nadat hy/sy in gebed dit na die Vader gebring het. Hier is jy en jou huis veilig.
Veilig binne Sy wil
As ouer weet ek dat daar sommige dinge is, waarvoor my kinders vra, wat nie vir hulle goed is nie. As volwassene besef ek dat my kind nie van roomys alleen kan leef nie. Ook dat ek nie alles vir hom/haar moet doen nie, want hoe sal hulle leer? Hoeveel te meer weet die Alwetende God. As gelowige kan ek rus in die feit dat Hy niks vir my sal gee wat Hy nie dink vir my goed sal wees nie. Daarom word my gebedslewe ingekleur deur ’n soeke na Sy wil in alles. 1Johannes 5:14 En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. Jou grootste vrees moet wees dat jy iets kan ontvang wat jy graag wil hê, maar wat nie is volgens wat God wil hê vir jou lewe nie. Wat as die Here my gee wat ek begeer maar ek ly skade in my verhouding met Hom? Israel se grootste begeerte was dat God vir hulle moes gee wat hulle hier en nou begeer het, ongeag die gevolge vir hul verhouding met God. Daarom het God hulle gegee wat hulle wou hê, maar ’n armoede in hulle geestelike lewens gebring. Psalm 106:15 Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar in hulle siel ‘n maerte gestuur. Wat ’n vreesaanjaende teks. Hulle het met lang gesigte rondgeloop en het geen vreugde gehad nie, want God wou hulle nie gee wat hulle wou hê nie. Is dit dalk die kenmerk van jou en my lewe? Altyd onvergenoegd? Nooit tevrede nie? “Ek sal alleenlik tevrede wees as God nou vir my gee wat ek vra.” Dit klink omtrent soos ’n tweejarige kind wat ’n “tantrum” gooi. “God se wil kan geskied solank dit ooreenstem met my wil!”
Dit is natuurlik nie die karakter van ’n gelowige se lewe nie. Die gelowige is net te dankbaar dat God se wil geskied en nooit sy eie nie. Hoe weet ek dan of dit waarvoor ek vra, binne God se wil is? Ek mag mos met alles na Hom toe gaan? Hier help die Heilige Gees ons en tree vir ons in. Romeine 8:26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. Ek bely dat ek baie keer nie reg weet wat ek moet bid nie. Ek bely dat ek baie keer selfgesentreerd is in my gebede en ’n beperkte kennis het van die totaliteit van God se werk in my lewe. 1Korintiers 13:12 Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. Ons weet dat Hy ten volle weet. Niks is vir Hom verberg nie en Hy het ’n plan om alles te gebruik tot Sy eer en geestelike opbou van ons lewe. Romeine 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Watter vrede behoort dit nie vir die gelowige te gee nie? Hy het die beste vir my in gedagte. As ek eendag by Hom gaan wees gaan ek die volle prentjie sien en net verwonderd wees oor Sy wysheid in alles. Ons gebede moet soos die van Josafat wees toe daar ’n oormag vyande van die Moabiete, Ammoniete en die mense van Seïr gebergte hulle wou aanval. 2Kronieke 20:12 Onse God, sal U nie teen hulle strafgerig oefen nie? Want in ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U. Erken jou swakheid en Sy almag in gebed en wag dan op Hom en moenie op jou eie insig vertrou nie. Jy erken dat Hy beter weet as jy. Jesaja 66:2 Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die HERE. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.
Nie uit verdienste nie, maar in Jesus Naam alleen
Daar is nie een gelowige wat verdien om met God te praat nie. Nie een van ons is dit waardig nie. Nie een van ons kan na God gaan asof Hy ons iets skuld nie. Nee, Hy skuld ons niks nie. Ons is in die skuld by Hom. Gebed is alleen moontlik gemaak in ons verbondenheid aan Christus. Ons kan alleen na die troon van God gaan, omdat ons versoen is in Christus en in Hom aangeneem is deur die Vader en dus Sy kind is. Galasiërs 3:26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus; want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
Daarom kom ons in diepe afhanklikheid en nederigheid, geklee in die Naam van Jesus, en bou ons lewens op die veiligste plek, op ons knieë voor ons liefdevolle Vader en God, wetende dat Hy ons gebede verhoor, soos Hy in Sy Woord beloof.
