Vraag 116: Waarom is die gebed vir die Christene nodig?
Antwoord: Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis: En omdat God sy genade en Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom met hartlike versugtinge sonder ophou daarom bid en daarvoor dank.
Inleiding
Wanneer gelowiges die soewereiniteit van God bestudeer en tot die besef kom dat God werklik in beheer van alles is, is een van die slagoffers van hierdie besef, baie keer gebed. Die redenasie is as volg: “Indien God, wat alles weet en in beheer is van alles, my ken en liefhet, weet Hy mos wat ek dink en voel en nodig het. Nog voordat ek daarvoor kan vra, weet Hy dit alreeds en het Hy alreeds besluit of dit vir my goed sal wees of nie”
Het jy al so geredeneer?
Gebed is dankbaarheid
Dit is baie interessant dat die Belydenis eerstens gebed koppel aan dankbaarheid en nie aan ‘n versoek nie. Die besef van God se soewereiniteit en liefde vir ons, moet in plaas van bogenoemde reaksie, ons bring by absolute dankbaarheid. GK Chesterton het die volgende gesê: “The worst moment for an atheist is when he is really thankful and has no one to thank.”
‘n Gelowige se hele lewe behoort een te wees van dankbaarheid en daarom ‘n daaglikse gesprek met die Een teenoor wie ons dankbaar is. ‘n Gelowige besef dat alles wat hy/sy kan ervaar en het, te danke is aan die God wat hom/haar gemaak het. Vandat ek in die oggend opstaan totdat ek vanaand my kop neerlê is ek in God se hande en in Sy voorsienigheid. Hy het oor my gewaak in die nag en my die wonder van nog ‘n dag laat beleef. Hy voed my deur elke dag en wanneer ek by die tafel gaan sit is elke grieseltjie voedsel, of dit nou ‘n vyfgang maaltyd of ‘n skeppie pap is, uit Sy hand. Elke tree wat ek gee, elke oomblik van die dag, moet ek die Skepper van hemel en aarde bedank vir sy onuitspreeklike genade. 1Timotheus 4:4-5 Want alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God en die gebed. Ek ontvang met dankbaarheid.
Versorging
Wat moes alles gebeur vir daardie kos om op my tafel te beland? Die gesondheid van die boer en die vermoëns wat aan hom/haar gegee is, die reën wat moes val op die regte tyd, die son wat skyn, die groei van diere, graan en vrugte – niks daarvan kan sonder God se beheer plaasvind nie. Om kos te kan koop moet ek geld verdien. Daarvoor maak God jou bevoeg en gee jou fisiese en verstandelike vermoëns. Alles wat jy het, van die dak oor jou kop tot die klere aan jou liggaam is uit Sy hand en deur Sy sorg. Jesus wys sy volgelinge daarop dat hulle nooit bekommerd hoef te wees nie, want net soos Hy vir die voëls sorg vir kos en vir die blomme hulle pragtige kleure gee, so sal Hy vir ons voorsien van kos en klere. Lukas 12:24 Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! En Lukas 12:27 Kyk na die lelies, hoe hulle groei: hulle arbei nie en hulle spin nie; en Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy heerlikheid was nie bekleed soos een van hulle nie.
Wat van my gesin, familie, vriende en gemeente broers en susters wat my lewe skaaf en vorm en baie keer draaglik maak? Op hierdie stadium het ek nog nie eers begin dankie sê vir die sintuie wat ek het, of nie het nie. Dit waarmee ek God kan verheerlik en wat Hy aan my gegee het sodat ek Sy skepping kan ervaar en geniet. Wat van die sterrehemel wat Sy almag verkondig? Daar is biljoene sterre in biljoene sterrestelsels en elkeen is deur hom gemaak en het ’n naam van Hom ontvang. Psalm 147:4 Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. Hoe groot is ons God nie. Ons kan soms so opgewonde raak oor dinge wat mense doen en skep, dinge wat maar kortstondig is, terwyl ons die wonder van die Skepping as “alledaags” beskou. Staan jy nog in verwondering voor elke sonsopkoms en ondergang? Kyk jy in verwondering na die maan se weerkaatsing op die water en die son se strale in die wolke? Sien jy die sterre in die nag en is jy dankbaar dat jy ‘n kind genoem kan word van die Een wat dit alles in Sy hande vashou? Is jy dankbaar dat jy ‘n God aanbid waarvoor jy kan dankie sê en doen jy dit dan?
Dankbaarheid bring vreugde
In die Hemel buig almal in eerbetoon voor Hom neer. Openbaring 5:13 En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Is dit die kenmerk van jou lewe? ’n Lewe van dankbaarheid en eerbetoon teenoor God die Vader, die Seun en die Heilige Gees. As God die Israeliete oproep om offers te bring, wou hy hê hulle moes dit bring en eet en vrolik wees voor Hom. Deuteronomium 12:18 Maar jy moet dit eet voor die aangesig van die HERE jou God op die plek wat die HERE jou God sal uitkies, jy en jou seun en jou dogter en jou slaaf en jou slavin en die Leviet wat in jou poorte is; en jy moet vrolik wees voor die aangesig van die HERE jou God oor alles waar jy jou hand aan slaan. Gebed maak jou vrolik.
Dankbaarheid bring ‘n verhouding
Kan jy dink hoe bevoorreg ons as gelowiges is om met die Koning van alle konings in gesprek te mag tree? Dit maak nie saak of dit dag of nag is nie, Hy wil en sal na my luister. Watter genade! Die God wat elke atoom in sy plek hou het tyd vir my ’n mens. Dit wil jou saam met die Psalmdigter laat vra: “Wat is die mens, wie is ek Here, dat U met my bemoeienis maak?” Psalm 8:5 wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek? Hierdie voorreg om direk, te alle tye tot God te kan nader is vir ons moontlik gemaak deur Jesus Christus ons Here en Verlosser. Maak ons nie te min gebruik van hierdie voorreg nie? Elke keer as jy ‘n geskenk gebruik wat jy van iemand ontvang het, dink jy aan die persoon en wil jy net weer dankie sê. Hoeveel te meer het jy nie om vir God voor dankie te sê nie.
Vra en ontvang
Na alles waarvoor ons kan dankie sê, besef ons nou dat die vra deel al hoe kleiner word. Tog beloof God ons dat as ons bid ons sal ontvang. Mattheus 7:7 Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. As ons bid sal daar vir ons gegee word. Let op daar staan nie wat julle in gebed van my vra sal ek vir julle gee nie. O, nee daar staan bid en vir julle sal gegee word. Sal ek ontvang as ek bid? Verseker! Altyd in ooreenstemming met sy wysheid. Die verse na vers 7 vra die vraag: “Wie sal vir sy seun ’n klip gee as hy hom ’n brood vra of ’n slang as hy ’n vis vra.?” Sal jou Vader in die hemel vir jou ooit iets slegs gee? As hy iets gee, is dit altyd goed. Altyd tot my voordeel. Mattheus 7:11 As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! Hy wil vir ons goeie dinge gee. Ek vra en Hy weet presies wat ek eintlik vra. Is dit nie fantasties nie? C.S. Lewis stel dit mooi: “It would seem that Our Lord finds our desires not too strong, but too weak. We are half-hearted creatures, fooling about with drink and sex and ambition when infinite joy is offered us, like an ignorant child who wants to go on making mud pies in a slum because he cannot imagine what is meant by the offer of a holiday at the sea. We are far too easily pleased.” Hoe wonderlik dat in my gebed die Heilige Gees vir my intree met versugtinge juis omdat ons nie altyd weet wat ons moet bid nie. Romeine 8:26 En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.
Die beste gawe
Die gebed wat God wil hê ons moet bid is om gevul te word deur die Heilige Gees op ’n daaglikse basis. Ja, by wedergeboorte word ons gedoop in die Heilige Gees, maar ons word die res van ons lewens meer en meer gevul met Sy Heilige Gees. Dit beteken dat ek wil hê dat die Heilige Gees meer en meer beheer van my lewe oorneem. Die Heilige Gees maak my vreesloos om die evangelie te verkondig. Handelinge 4:31 En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek. In Efesiërs is Paulus besig om met die gelowiges te praat en luister wat hy vir hulle sê: Moenie dronk word van wyn nie—daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul. Efesiërs 5:18. Baie mense kan net gelukkig wees met alkohol in hulle liggame. Hulle kan alleen begin gesels as hulle gedrink is, die rede hiervoor is dat hulle onder beheer van drank is. Die gelowige daarenteen wil gevul word deur die Heilige Gees en onder Sy beheer wees sodat hy/sy vreesloos en vol vreugde vir die Here sal lewe. Daarom is ons gebed o Here mag ek gevul wees met U Gees.
Slot
Ek weet elke gelowige sal nog dinge hier kan byvoeg waarvoor ons God kan dank en loof. Om ‘n verhouding met God te hê, is om met God te praat. Met my gebed sê ek dankie, loof ek en gee ek my lewe oor.
1Thessolenisense 5:17 Bid sonder ophou.
