Vraag 114: Maar kan die wat tot God bekeer is, hierdie gebooie volmaak gehoorsaam? Antwoord: Nee, want selfs die allerheiligstes het, solank hulle in hierdie lewe is, nog maar ‘n geringe begin van hierdie gehoorsaamheid, maar tog so dat hulle met ‘n ernstige voorneme begin om nie alleen volgens sommige nie, maar volgens al die gebooie van God te lewe.
Vraag 115: Waarom laat God die Tien Gebooie dan so streng aan ons voorhou as niemand dit tog in hierdie lewe kan onderhou nie?
Antwoord: Ten eerste sodat ons gedurende ons hele lewe ons sondige natuur hoe langer hoe beter kan leer ken, en met groter verlange na die vergewing van sondes en na die geregtigheid in Christus kan soek. Ten tweede moet ons ons sonder ophou beywer en God om die genade van die Heilige Gees bid, sodat ons altyd meer en meer na die ewebeeld van God vernuwe mag word totdat ons na hierdie lewe die volmaaktheid as doel bereik.
Inleiding
Vraag 114 is so half ‘n retoriese vraag. Niemand verwag tog regtig dat daar iemand is wat dink dat ons hier op aarde die gebooie volmaak kan nakom nie? Dit is belangrik dat as ons die vraag vra, nl. of ons die gebooie kan onderhou of nie, praat ons van gelowiges en nie ongelowiges nie. Die beginpunt vir gehoorsaamheid aan God se gebooie is ‘n verhouding met Hom. Die ongelowige is nie in staat om enige van God se gebooie na te kom nie, want die onderbou van alles is die liefde vir God waartoe die ongelowige nie in staat is nie.
Die sondige natuur
Die toestand waarin alle mense gebore word, is ‘n gevalle toestand. In ’n gelowige se wandeling saam met God word perfektheid op aarde nooit bereik nie. Prediker 7:20 want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie. Ons sal op aarde altyd in ’n stryd wees tussen wat die gees wil en wat die vlees wil. Luister hoe stel Paulus dit in Romeine “Want ons weet dat die wet geestelik is, maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde. Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.” Romeine 7:14. Geen gelowige kan op aarde vrykom van die sonde nie. As ons sou sê ons het nie sonde nie, sou ons lieg. 1Johannes 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.
Die geestelike wil
Die vraag word nou verder gevra: “Hoekom het God die standaard dan so hoog gemaak, as niemand in elk geval daar kan bykom nie?” Wat help dit ons om elke dag te probeer om iets te wees wat ons nooit kan wees nie? Die antwoord lê in ons verhouding met God. Die gelowige wil nou al die gebooie gehoorsaam. Dit word sy/haar grootste begeerte. Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens; maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die wet van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is. Romeine 7:22-23. Is dit regtig jou grootste begeerte om aan Hom gehoorsaam te wees? Is dit die rigting waarin jou lewe nou beweeg om vir Hom te leef. John MacArthur stel dit goed: “It is not the perfection of one’s life but the direction of a life that provides evidence of regeneration.” Die liefde vir God dring my om te doen dit wat Hy graag wil hê. Dink maar aan jou verhouding met jou man of vrou. Jy wil tog graag die dinge doen wat hom/haar gelukkig maak, omdat jy hom/haar liefhet.
‘n Gelowige kan nooit sê dat daar sekere dele van God se opdragte is wat hy/sy nie van hou nie. Nee die gelowige bely dat, omdat Sy Vader dit bepaal het, hy dit lief het. Daar mag opdragte wees waarmee ons meer sukkel as ander, maar elkeen van God se opdragte is vir ons kosbaar. Die rede vir hierdie verandering in ons harte is omdat ons ’n hartoorplanting gehad het. Esegiël 36:26 En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ‘n hart van vlees gee. Met ons harte wat verander is, het ons ontdek dat God se opdragte begeerliker is as enige iets anders in die lewe. Psalm 19:10-11 Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig. Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop. Om so na die Woord te kyk kan glad nie uit onsself kom nie, nee ons moet van bo gebore word, wederbaar deur die Heilige Gees. Sonder die werking van die Heilige Gees in ons lewens sou ons nooit die koninkryk kon sien en sou ons nooit die skat van onmeetlike ware ontdek, waarvoor ons alles anders as waardeloos sou ag, nie. Dit is wat Jesus ons geleer het met die man wat die skat in die veld ontdek het of die een wat die pêrel gevind het wat al sy ander pêrels oortref het in waarde. Is dit die kenmerk van jou lewe – dat dit wat jy in Christus het alles oortref? Ons kan gerus weer Psalm 119 deurlees en in elke vers ontdek hoe die Psalmdigter God se voorskrifte en gebooie sien. Kyk maar net wat hy sê in Psalm 119:14 Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom. Kan jy ervaar hoe die gelowige en ongelowige se uitkyk aangaande God se Woord verskil? Die ongelowige het sy verse waarvan hy hou en dalk nou en dan gebruik, maar die liefde vir die hele Woord sal nooit daar wees nie.
Sondebesef en dankbaarheid
Die gebooie bring my altyd by die besef van hoe vêr ek te kort skiet. Dit moet my nie moedeloos maak nie, maar dankbaar vir Sy groot genade teenoor my. ’n Dankbaarheid dat Hy my sondes op Hom geneem het en dat ek in Hom vry kan wees. 1Johannes 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Die wet leer my ook kennis van sonde. Romeine 3:20 aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. In my wandeling met Christus leer ek meer en meer wat Hy van my vra. As ons pas wederbaar is, het ons nie ’n vaagste benul hoe vêr ons te kort skiet nie. Die wet is ’n spieël waarin ek my sondes ontdek en hoe meer ek myself sien in vergelyking met die standaard van God, hoe meer en vinniger vlug ek na die kruis en weg van enige vertroue in myself.
Hier begin my smeking dat die Heilige Gees my sal verander na die beeld van Christus. Ek stry die goeie stryd wetende dat ek dit in afhanklikheid van Hom doen. Filippense 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Al die dinge wat vroeër belangrik was, is nou sekondêr. Nou wil ek net een prys behaal. Paulus verduidelik dit aan die hand van ’n atleet wat ’n klomp opofferings moet maak sodat hy/sy die prys kan behaal. Hy/sy eet sekere kosse nie meer nie, hulle oefen terwyl meeste mense slaap. Hulle oefen terwyl die wind waai en die weer mistroostig is. Geen opoffering is te groot nie. 1Korintiers 9:24 Weet julle nie dat die wat op die baan hardloop, wel almal hardloop, maar dat een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit sekerlik kan behaal.
Slot
God het, wetende dat ons dit nie kan onderhou nie, sy wet aan ons gegee, sodat ons Hom daardeur kan leer ken, sodat ons ons swakheid daarin kan sien, sodat ons kan dankbaar wees vir die prys wat Hy vir ons betaal het. As ek aan die einde van my lewe kom, wil ek soos Paulus kan sê: Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het. 2Timotheus 4:7-8.
