Sondag 44 Wat begeer jy?

Vraag 113: Wat eis die tiende gebod van ons?

Antwoord: Selfs die geringste begeerte of gedagte teen enige gebod van God mag nooit in ons hart opkom nie. Ons moet altyd en heelhartig vyande van alle sonde wees en ‘n begeerte tot alle geregtigheid hê.

Inleiding

Die tiende gebod sê dat jy nie mag begeer nie. Dit is interessant hoe die Heidelbergse Kategismus hierdie gebod verwoord of verduidelik. Dalk het jy jou lewe lank na hierdie gebod gekyk net in die opsig van aardse dinge wat jy nie mag begeer nie. Dit voel egter vir my as jy by die tiende gebod kom of God Sy arms uitsteek en jou tussen eerste gebod en die tiende wil omarm. Die tiende gebod smelt saam met die eerste gebod en vorm so ‘n perfekte sirkel van alles oorheersende liefde vir God. Wat bedoel ek Hiermee? Wat behoort my grootste begeerte  in my lewe te wees? Ek moet geen groter begeerte in my lewe hê as om God liewer te hê as enige iets anders nie. Het Jesus dit nie bevestig toe hy gesê het: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Mattheus 22:37” nie? As Hy my eerste liefde en my hoogste begeerte is, sal niks anders my laat struikel nie. Baie van ons struikel voor ons begeertes omdat Hy nie eerste is nie.

Verslawing – vleeslike begeertes

Verskillende metodes word deur wêreldse terapeute en sielkundiges gebruik om mense van hul verslawings te genees. Hierdie metodes is egter meestal  onsuksesvol, want sodra ‘n individu van een verslawing “genees” is verval hulle dikwels net weer in ‘n ander tipe van verslawing. Waarna gryp jy as jy in ’n penarie is? Wat is dit waaraan jy vasgryp as jy voel dat jy val? Dit is wat moet verander. God moet die enigste anker in my lewe wees. Hy moet die Een wees waarop ek vertrou en aan wie ek alles oorgegee het. Die woord anker verduidelik dit so mooi. Niks in hierdie wêreld is standvastig nie, behalwe God. Om jouself dus te probeer anker aan enige iets anders, is soos om jouself vas te maak aan die wind. As Hy nie die sentrum van jou lewe inneem nie kan jy verseker wees iets anders sal altyd die plek vul, iets minder waardig. Mattheus 6:21  want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. 

Jesus vertel die verhaal van die onrein gees wat uit ’n man uitgegaan het. Die man het die huis (sy lewe) skoongemaak en uitgevee en versier, maar die probleem was die huis was nogsteeds leeg. Na ’n tyd het die gees teruggekom en gevind dat die huis leeg was. Luister wat doen die gees dan. Mattheus 12:45  Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.  Die antwoord is nie om te probeer om beter te wees nie, of jou beste te probeer om iets te los, of om jou meer besig te hou nie. Nee, die antwoord is Christus.  As jy nie Christus het wat in beheer is nie bly jou lewe leeg en sinloos en op die ou ent sal jy slegter af wees as voor al jou probeerslae.

Wat is jou grootste begeerte?

Miskien moet ons mekaar gereeld vra: Wat is jou grootste begeerte? Wat is dit waaraan jy dink as jy alleen is? Wat is dit wat jy die graagste wil hê? Voltooi hierdie sin. My grootste begeerte in my lewe is… My grootste begeerte van vandag is… Wat wil jy bereik? Wees eerlik met jouself. Hoe skokkend dat baie Christene se begeertes dieselfde is as die van die wêreld. Ons wil graag vir onsself ’n naam maak. Ons wil hê dat mense na my en my gesin moet opkyk. Ons werk ekstra ure vir meer geld en meer aansien. Mense skeep die belangrikste in hulle lewens af sodat hulle in die wêreld se oë iets kan wees. Ons wil gereken wees. As ons kinders het, kan gevra word wat ons begeerte vir hulle is? Baie ouers wil hul lewe deur hulle kinders se lewens leef. Wat ek nie kon bereik of doen nie wil ek hê my kinders moet kan doen. Ek wil hulle gee wat ek nie gehad het nie. Die hartseer is dat ons in hierdie proses hulle eerder ontneem van dit wat hulle regtig nodig het, nl. ’n gesonde gesinslewe. ’n Lewe waar Pappa en Mamma vir mekaar lief is. ’n Lewe waar ons as gesin dinge saam doen. Waar Pappa en Mamma kom nagsê en vir hulle uit die Bybel lees. Jy sal verstom wees as jy terugdink na jou eie kinderdae oor wat vir jou die lekkerste was. Die meeste kere is dit die eenvoudige dinge wat geld nie kon koop nie. ’n Pa en ma wat na my sport kom kyk het al was ek nie goed nie. Visvang saam, gesinstradisies, pa en dogter se uiteet eenmaal ’n jaar. Ma wat vir ons iets lekkers maak as ons by die huis kom. Die reuk van kos as ek na skool by die huis gekom het. Baie mense sal sê, “Maar ek het nie die tyd nie.” Dit is egter so dat almal dieselfde hoeveelheid tyd het. Hoekom kan ander dit doen, maar nie jy nie? Omdat jy besluit om jou tyd, wat vir jou gegee is, op ander dinge en manière te gebruik. Die eintlike antwoord is dat dit nie vir jou ‘n prioriteit is nie.

Baie manne in die Bybel het ook hierdie probleem gehad en jy kan na hul kinders gaan kyk as jy die gevolg van so ’n misplaaste lewe wil sien. Ouers se grootste begeerte moet wees om Goddelike kinders groot te maak, kinders wat in my lewe vir God sal raaksien. Ouers wat weet dat die kinders wat vir  hulle gegee is, grootgemaak moet word sodat hulle meer toegewyd aan die Here sal wees as wat jy, as ouer, ooit was. Ek moet my kinders grootmaak dat hulle geestelik op my skouers kan staan. Hier is liefde en dissipline kardinaal van belang. As jy die Here liewer het as enige iets anders en jou kinders sien dit sal hulle dit ook wil hê.

Wat is jou grootste vreugde?

Is Christus vir jou die grootste vreugde? Is Hy mooier as enige iets anders. John Owen, een van die groot Puriteine, het geskryf dat dit ons grootste probleem is dat Hy nie ons mooiste, grootste vreugde is nie. Hoe mooier Christus vir ons word hoe minder sal die aantrekkingskrag van die wêreld wees. Hooglied is deur die kerk tot en met die 19de eeu beskrywe as die liefde tussen Christus en die Kerk. Die vrou word as die Kerk uitgebeeld in Hooglied. Kyk hoe beskryf sy Hom in Hooglied 5:10-16. My beminde is skitterend wit en rooi, uitnemender as tien duisend. Sy hoof is goud, suiwer goud; sy haarlokke is golwende, swart soos ‘n raaf, sy oë soos duiwe by waterstrome, in melk gewas, sittend by ‘n volle bron. Sy wange is soos balsembeddings, terrasbeddings van geurige plante; sy lippe is lelies wat van vloeiende mirre drup. Sy hande is ronde stawe van goud, ingevul met chrisoliet, sy liggaam ‘n kunswerk van ivoor, bedek met saffierstene. Sy bene is marmerpilare wat rus op voetstukke van fyn goud; sy gestalte is soos die Líbanon, uitgesoek soos die seders. Sy verhemelte is pure soetigheid, ja, hy is geheel en al die lieflikheid self. Dit is my beminde en dit is my vriend, dogters van Jerusalem. Hoe sou ons leef as Hy vir ons so mooi was? Wat sou belangriker kon wees as om tyd met ons geliefde te spandeer en na Sy “Woorde” te luister? Hoe sou jy nie uit jou liefde en vreugde vir Hom wou lewe nie? Stem jy saam dat dit ons grootste probleem is?

 

Die Vader se liefde word geopenbaar in die Seun en word in ons harte uitgestort deur die Seun. Daar is nie groter liefde as die Drie-eenheid se liefde vir my nie. Die Vader het my net so lief soos Sy Seun. Kan dit waar wees. Johannes 17:23  Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het. Hierdie liefde waarmee die Vader die Seun lief het word uitgestort deur die Heilige Gees sodat hierdie liefde in ons kan wees. Johannes 17:26  En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle. Hoe meer jy Hom leer ken (Sy naam is wie Hy is) hoe mooier sal Hy vir jou word.

Slot

Soms dink ons dat as ons in die winkel loop en iets sien wat ons graag wil hê, maar nie kan koop nie, dat ons ons skuldig maak aan oortreding van die tiende gebod. Hierdie gebod word egter nie oortree deur kleinighede wat jy dalk vir ‘n oomblik bewonder en dan aanstap nie. Dit word oortree deur n leefwyse van ontevredenheid en hunkering na ander dinge as God. ‘n Lewe wat ander dinge meer begeer as om God lief te hê bo alles. Om te hunker na hierdie wêreldse dinge, is sonde. Dit is ook so dat dit gevoed word deur die leuen van die Satan wat jou geluk beloof sodra jy dit het wat jy so begeer. Dit waarheid is dat jy hierdie spreekwoordelike “pot aan die einde van die reënboog” nooit sal bereik nie, want dit bestaan nie. Jy gaan jouself net moeg en ongelukkig maak. Wat egter seker is, is as jy hunker na die Een wat alles gemaak het, sal jy Hom vind. Vestig jou oë op Hom, maak Hom jou grootste begeerte en dit wat die Psalmdigter jou beloof sal waar word. “Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou alles gee wat jou hart begeer. Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg” Psalm 37:4-5.