Vraag 88: Uit hoeveel dele bestaan die ware bekering van die mens?
Antwoord: Uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens.
Vraag 89: Wat is die afsterwing van die ou mens?
Antwoord: Dit is ‘n hartlike berou daaroor dat ons God deur ons sondes vertoorn het en daarom hoe langer hoe meer die sonde haat en daarvan wegvlug.
Vraag 90: Wat is die opstanding van die nuwe mens?
Antwoord: Dit is ‘n hartlike vreugde in God deur Christus en ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.
Inleiding
Indien ons hierdie onderwerp deeglik wil bespreek is dit nodig dat ons begin deur die verskil tussen wedergeboorte en bekering deeglik verduidelik? Wedergeboorte is ’n eenmalige proses wat plaasvind deur die werking van die Heilige Gees. Die woord in die Grieks wat gebruik word in Johannes 3 beteken “gebore van bo”. Jy word dus geestelik gebore. Hierteenoor is bekering ’n daaglikse proses. Natuurlik is dit ook die werking van die Heilige Gees wat sonde openbaar in die gelowige se lewe, maar dit is ook ’n wegdraai van die gelowige van sy/haar sonde. Met hierdie inskrywing fokus ons op bekering, hierdie daaglikse proses, en wat die Heidelbergse Kategismus daaroor sê.
Die sterf van die ou mens
Die Heidelbergse belydenis sê dat bekering uit twee komponente bestaan, nl. ’n afsterwing van die oue en ’n opstanding van die nuwe. Hierdie proses vind daagliks in my lewe plaas. Dit is die uitvloeisel of natuurlike gevolg van geestelike geboorte. Romeine 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Met wedergeboorte is ons vry gemaak van die oordeel van sonde, nl. die ewige dood. Ons is nie meer ’n slaaf van sonde nie. Ons kan egter almal getuig dat daar nog sonde in ons lewens is en dit is hier waar daaglikse bekering inkom. Elke dag wanneer ons gekonfronteer word met sonde om ons en in ons, laat ons dit sterf in ons. Ons maak keuses op grond van ons wedergeboorte en nuwe identiteit in Christus. Ons is nie totaal uitgelewer aan sonde nie. Daarom kan ’n gelowige nooit sê: “Hierdie sonde sal ek nooit kan oorwin nie.” Nee, as ek bely dat ek saam met Christus gekruisig is bely ek dat die sonde in my doodgemaak is. Al wat nou sigbaar is, is die doodsnikke van die sonde, amper soos ’n afkop hoender wat rondhardloop. Die sonde kan dus nooit weer oor my heers nie. Romeine 6:9-10 omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Hierdie is ’n realiteit wat ek ook vir my ’n werklikheid maak elke dag van my lewe.
Die opstanding van die nuwe mens
Luister na Efesiërs 4:23-24 en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. My denke word elke dag vernuwe deur die Woord wat die Heilige Gees lewendig maak in my denke. Ek word dus elke dag vernuwe om meer en meer die denke van Christus te hê. Dit wat ek leer pas ek dan toe in my alledaagse handel en wandel en so begin my lewe van geregtigheid en heiligheid. As gelowige het ek alreeds die geregtigheid en heiligheid van Christus deelagtig geword met wedergeboorte. Alles wat Christus gedoen het is oorgedra op die gelowige. Ek word nou voor God, deur die werking van die Heilige Gees, dit wat Hy alreeds verklaar het ek is. Ek is alreeds ’n nuwe mens, maar ek word elke dag meer en meer vernuwe deur die heiligmaking proses in my lewe. Kolossense 3:10 en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper.
Hartlike vreugde
Die oue is verby. Jy het omgedraai en op die pad van geregtigheid, in die voetspore van Jesus, jou Verlosser begin loop. Hoe weet ons wat om te doen en waar om te loop? Die Heilige Gees help ons en lei ons deur die Skrif. Ons weet ons moet die Skrif lees sodat ons denke in lyn kan kom met Christus se denke (Romeine 12:2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is), maar wat dan? Kolossense 3:5 Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is. Jy begin nou om die ou sondige dinge te haat en die dinge wat Christus gelukkig maak lief te hê. Nie uit dwang nie, maar in hartlike vreugde. Ek laat die sonde wat ek voorheen gedoen het sterf, deur daarteen te kies met die krag wat God my gee. Filippense 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. Ek werk saam met die Heilige Gees en laat nie toe dat die sonde weer vashou plek in my lewe kry nie. Elke keer as die Woord my oortuig van sonde, bid ek dat die Here my sal vergewe en draai ek my rug daarop. God belowe ons dat HY ons hiervoor die krag sal gee. Verder sê Die Woord dat ons met niks wat ons doen vir die duiwel ‘n vat plek moet gee nie. Efesiërs 4:26 Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie.
Die Woord is die bron van wysheid. Dit is my handleiding vir al my keuses elke dag. Dit is vol praktiese raad oor hoe ek my lewe moet rig sodat ek die pad met vreugde en geestelike sukses kan stap. Kyk maar na die raad oor kwaad word waarvan ons so pas gelees het. As ek kwaad word moet ek nie voortgaan en die verkeerde dinge sê of doen en daardeur sondig nie. Tog gaan die teks ook verder en sê moenie dat die son ondergang terwyl jy kwaad bly nie. As jy moet vergewe, vergewe, as jy iets moet gaan uitpraat, doen dit onmiddellik, anders sal hierdie woede gevoed word en voor jy jouself kan kry, is die sonde gevoed en sal dit jou dinge laat doen waaroor jy baie spyt sal wees. Praktiese raad. Raad wat die nuwe mens laat groei en die oue laat sterf.
As ek val…?
In my stryd teen die sonde is daar meer en meer ’n berou oor my sonde. Ek verstaan dat my sonde teen God is en die sonde onder God se toorn val. Hy is nou my Vader en daar is niks wat ek wil doen om Hom te vertoorn nie. Die nuwe mens is verder ook bewus dat my sonde Sy kruisiging genoodsaak het. Hoe meer jy geestelik groei hoe groter sal jou eie sonde vir jou word, nie omdat jy groter sondes doen nie, maar omdat jy meer en meer sonde begin sien soos God dit sien. Sonde word nie meer gesien as ’n foutjie nie, maar as ’n gruwel. Die gelowige se geestelike groei word gekenmerk deur ’n haat vir die sonde. Die psalmdigter roep ons op om die kwaad te haat. Psalm 97:10 o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Kan jy ook saam met die Psalmdigter getuig dat Ek haat die vergadering van kwaaddoeners, en by die goddelose sit ek nie. Psalm26:5. Haat ek die sonde van die wêreld en van myself of is ek iemand wat nog verskonings soek vir sonde in my en ander. Hoe wonderlik sal dit nie wees as gelowiges begin om stukkend voor God te wees oor hulle eie oortredings teen Hom nie. Joël 2:13 En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil. Is hierdie die kenmerk van hoe jy sonde in jou eie lewe beskou en hanteer? Dit is nodig om vir mekaar te sê dat as hierdie ontsteltenis oor sonde nie daar is nie, die vraag gevra moet word of wedergeboorte werklik plaasgevind het. Indien dit wel die geval is en dit is met opregte berou waarmee jy voor die kruis kom staan, sal jy daar ‘n liefdevolle en genadige Verlosser vind.
Die wonderlike is dat deur ’n ware berou daar ’n volkome herstel kom in die gelowige se lewe. Paulus skryf vir die Korintiër gemeente nadat hy hulle moes aanspreek oor hulle sonde en na hulle berou oor hulle sonde dat hy nou bly is, want hulle droefheid het ’n berouvolle bekering veroorsaak. 2Korintiërs 7:9 Nou is ek bly, nie omdat julle bedroef was nie, maar omdat julle bedroef was tot bekering, want julle was bedroef volgens die wil van God, sodat julle deur ons in niks skade gely het nie. Nie net in ander gelowiges se lewens, maar ook in my eie lewe bring bekering altyd ’n vreugde en vrede wat niemand vir jou kan beskryf nie. Romeine 5:1 Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus.
Slot
My hele lewe gaan daaroor om Hom te verheerlik en Sy naam groot te maak. Galasiërs 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Elke dag, elke keuse, elke tree in hartlike vreugde in God deur Christus, met ‘n lus en liefde om volgens die wil van God in alle goeie werke te lewe.
