Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?
Antwoord: Nee, glad nie. Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie.
Inleiding
Ek wil graag hierdie vraag anders stel. Kan mens dan salig word op ‘n ander manier as om tot God te draai. Of nog anders, kan ek dit nie op my eie manier doen nie? Voor ek na hierdie vraag wil gaan kyk wil ek drie hoofstroom teologiese beskouings identifiseer wat tans in kerke gepreek of gepropageer word.
Ek wil begin om te gesels oor drie teologiese uitdrukkings: antinomianism, theonomie en autonomia. Antinomian bestaan uit twee woorde, nl. anti(teen) + nomos(wet). Antinomianisme is dus ‘n denkrigting wat dus teen die wet is. Theonomie beteken Theos(God) + nomos(wet), d.w.s. God se wet. Autonomia beteken auto(self) + nomos(wet). Die woord in Afrikaans is outonomie. Ek het my eie wet. Hierdie som die drie hoof denkrigtings in die teologie op rakende God se wet. Ons kry die wat eenvoudig teen God se wet is, dan kry ons diegene wat daarvoor is en dan kry ons die wat glo die mens is ‘n wet vir homself. Die mens wil self besluit wat reg of verkeerd is. Niemand sal my voorskryf wat ek moet doen nie. Interessant om terug te dink aan die argument wat veroorsaak het dat aborsie goedgekeur is. Die argument het nie so seer gegaan oor of dit reg of verkeerd was om babas te aborteer nie, maar of dit reg is om aan iemand anders voor te skryf wat sy met haar liggaam mag of nie mag doen nie. Autonomia – Elke mens is ’n wet vir homself. Op so ’n manier is die moord van babas goedgekeur. As mens egter hierdie lyn deurtrek kan mens mos ook nie vir iemand sê dat hy/sy nie mag moord pleeg nie. Daar is ‘n morele wet van God in elke mens se hart geskryf, maar die mens kies om dit te ignoreer tot sy eie skade.
God se wet en die Kerk
Die meeste mense vandag is teen enige wet van God. God se wette word beskou as oudmodies en baie wat in kerke sit glo dat die wette van die Ou Testament nie meer geld vir ons vandag nie. Antinomianisme word deur baie predikante en pastore geglo en gepreek. Tog is daar vir my ’n groot ironie hierin. Elke maand verwag hulle dat hulle lidmate vir hulle ’n salaris sal betaal. Waar kom hierdie verwagting vandaan en hoekom is dit die taak van die gemeente om hulle leraars te betaal? “Wel”, sal iemand sê: “dit is ’n Nuwe-Testamentiese opdrag dat leraars betaal moet word.” Dit is korrek en hier wil ek na twee van die Nuwe-Testamentiese gedeeltes kyk. Die eerste is in 1Korintiers 9 en die ander in 1Timoteus 5. In die bespreking in hierdie gedeeltes word elke keer verwys na die voorbeeld van ’n os wat gaan dors wat jy nie mag muilband nie. In beide gevalle verduidelik Paulus dat hierdie gedeelte in die wet opgeteken is sodat persone wat in diens van God staan vergoeding moet ontvang. Is dit nie interessant dat die wet aangaande predikante se salaris nog geldig is in die mees liberale gemeentes waar daar geen ontsag vir die wet van God meer is nie? Ek wonder hoekom dit so is? Dalk is dit omdat hierdie spesifieke wet die predikant en pastoor pas. Is dit nie die probleem dat ons “cut” en “paste” aan God se Woord, omdat ons eintlik outonoom wil wees nie, vry van God se voorskrifte? Dit was natuurlik die versoeking waarmee die Satan na Adam en Eva gekom het, “Is dit ook so dat God gesê het.” Genesis 3:1.
Nie Oud nie
Die vraag van die Heidelbergse belydenis is dus of God se wet nog van toepassing is op ons lewens vandag? Sal God my eendag oordeel volgens my wet of Sy Wet? Ons kan ook vra hoe ons weet dat die Ou-Testamentiese wette nog steeds geldig is vandag. Miskien is die probleem met ons bewoording “Ou Testament”. Miskien het ons nodig om dit weer te noem wat Jode dit noem, nl. die Tanakh. Tanakh staan vir die Torah, die eerste vyf boeke, die Nevi’im wat die profete beteken en die Ketuvim wat die geskrifte beteken. Nie die “Oue” nie, maar God se Woord. Hoe het Jesus, die seun van God, na die Ou Testament gekyk. Jesus sê in Mattheus 5:18: “Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” Nie eers ’n letter van God se Woord mag verander word nie. Het die kerk nog so ’n hoë denke van die Skrif? Het die kerk waar jy betrokke is die standpunt dat niks van die Woord verander of aangepas mag word nie? Elke gedeelte van die Skrif is vir ons as gelowiges belangrik en die gedeeltes soos die offers en reinigingswette lees ons met die verstaan dat alleen Christus dit kon volmaak vervul deur Sy dood aan die kruis.
Erken God se wet
Kan iemand wat hom/haarself ’n gelowige noem werklik gered wees as hulle voortgaan en volhard in sonde. Baie sal onmiddellik wil halt roep en vra of dit beteken dat jy glo jy kan sondeloos wees. Dit is egter duidelik dat jy eerstens moet erken dat daar iets soos sonde is. God het ‘n wet wat onderhou moet word, en as dit nie gedoen word nie is dit sonde. Sonder God se wet is daar geen sonde nie. Dit is hoekom baie die wet nutteloos wil verklaar, want daardeur wil hulle hulself onskuldig verklaar. Deur dit te doen kan hulle leef soos hulle wil en nog steeds beweer dat hulle die Here dien. Om God te dien beteken egter om te erken dat daar iets soos sonde is, en dat jy daarvan wil wegdraai, dat jy jou daarvan wil bekeer. Deur dit te doen, is jy op die pad van genesing en herstel. Die meerderheid mense in kerke wil dit juis nie erken nie. Hulle sal sekere sondes hartgrondig erken en ander, die sonde waarmee hulle self sukkel of geniet, wil hulle regverdig, omdat hulle besig is met hul outonomie – hul eie wet. Die vraag is nooit wat jy dink van ’n optrede of gedrag nie, maar wat God daarvan dink. Hier kan ons sê dat die Skrif baie duidelik is oor wat ’n oortreding van God se wet is en die gevolge daarvan.
Gevolge van sonde
1Co 6:9-10: “Of weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” Miskien is dit nodig dat ons na van die betekenisse van van die woorde kyk. “Hoereerders” kom van die Griekse woord porneia waarvan ons die woord pornografie kry. Dit het te make met enige seks buitekant die huwelik en ja, ook in my verstand. Afgodedienaars is enige iemand wat iets belangriker as God ag. Dit kan iets soos jou sport wees wat veroorsaak dat jy nie die eredienste kan bywoon nie, of jou werk wat maak dat jy jou familie afskeep en nie eers kan rus op Sondae nie. Egbrekers is iemand wat geskei het of wil skei. Die volgende twee woorde in die vers gaan saam. Die woorde in die Grieks is malakoi en arsenokoitai. Albei hierdie woorde verwys na ’n homoseksuele verhouding. Die eerste het te make met die sagte persoon in die homoseksuele verhouding. Die tweede woord is opgemaak uit twee woorde wat net so voorkom in die LXX(Griekse vertaling van die Ou Testament) waar daar oor homoseksuele verhoudings gepraat word. Levitikus 18:22 Met ‘n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ‘n mens met ‘n vrou het nie. Dit is ‘n gruwel. Paulus bevestig dus dat dit wat hy hier sê ook uit die Ou Testament kom. Mense wat begeer, asook diegene wat skinder, val ook in hierdie groep wat die koninkryk van God nie sal sien nie. Mense wat op hulle belasting vorms kul, steel en is diewe. Paulus sê egter iets baie belangriks in die daaropvolgende vers: 1Korintiers 6:11 En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God. Paulus vertel dat die kerk van Korinte vol was van mense wat bogenoemde sondes gedoen het. In die plaaslike gemeente was mense wat voorheen gesteel het, homoseksueel was, geskei het, rond geslaap het. Was hulle nog steeds besig met hierdie sondige praktyke? O nee, sê Paulus, hulle het hulle laat afwas en is nou geheilig in Christus Jesus. Daarom kon Paulus, as hy aan hierdie gemeente skrywe, hulle aanspreek as “Heiliges”.
Iemand wat dus voortgaan in sonde het geen vergifnis en geen plek in die koninkryk van Christus nie. Efesiërs 5:5 Want dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gierigaard, wat ‘n afgodedienaar is, ‘n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.
Slot
Daar sal eendag deur God se wet en nie jou eie wet geoordeel word nie. Per definisie is sonde die oortreding van God se wet en die prys daarvan is ten duurste betaal. Geen gelowige kan dus ligtelik met sonde omgaan nie. Die Bybel draai nie doekies om as dit hieroor gaan nie – geen persoon wat volhard in sonde sal die Koninkryk beërwe nie. Die prys van die sonde is die dood. Slegs deur bekering tot God en vergifnis in Christus is daar redding.
