Vraag 86: Waarom moet ons nog goeie werke doen, terwyl ons tog sonder enige verdienste van ons kant alleen uit genade deur Christus uit ons ellende verlos is?
Antwoord: Omdat Christus ons, nadat Hy ons met sy bloed gekoop het, ook deur sy Heilige Gees tot sy ewebeeld vernuwe sodat ons met ons hele lewe bewys dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry, en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen.
Inleiding
Ons lewe in ‘n tyd waar mense daarvan hou om vir hulself te jok. Ons redigeer ons eie foto’s met ‘n foto redigeerder, maak onsself mooi en jonk en dan plaas ons dit op sosiale media. Ons maak ons stories groter en interessanter en jok oor ons ouderdom. Ons koop duur karre, meubels of “brand names” om ander te beïndruk, terwyl ons eintlik weet ons kan dit nie bekostig nie. Dit alles terwyl ons weet wat die ware stand van sake is. Net so wil ons onsself klassifiseer as ‘n Christen, terwyl ons geen verhouding met Christus het nie. Dit sal definitief sigbaar wees in jou leefstyl en die vrug wat jy dra, daarom verskoon jy jouself met “Gered uit genade, sonder verdienste”. Enige iemand wat enigsins waag om jou op jou huigelary te wys is volgens jou wetties of fundamentalisties. Wie dink jy bluf jy en hoekom doen jy dit?
Hy is die Weg
Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie . Hoe kan jy sê dat Hy die Weg is en dat Hy jou gered het en op die Weg geplaas het, maar jy volg nie die Weg nie. Telkemale roep Jesus mense op om hul kruis op te neem en Hom te volg. Hy maak dit ook baie duidelik dat dit nie ’n maklike pad sal wees nie. Die pad sou beteken ’n pad van kruis dra, ’n pad van sterwe vir alles van die wêreld en heel moontlik ook fisiese lyding.
Met die wederbaring uit die dood tot ’n nuwe lewe, erken die gelowige dat dit wat hy/sy gedink het die lewe was, eintlik die pad van die dood was. Romeine 7:24 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Die lewe van die sonde bring die dood. Dit vernietig. Dit bring hartseer. Dit bring skeiding tussen my en die Een wat my gemaak het. Daarom se Romeine 8 “Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede” Romeine 8:6. Hierdie ou lewe van my was ’n lewe van rebellie, van ’n vuis bal teen die lewende God. Romeine 8:7 omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is. Is dit die lewe waarin ’n gelowige sal wil bly voortleef? Kan jy sê jy is op op die Weg van die Waarheid indien jou hele lewe ‘n leuen is?
Goeie werke
Miskien is dit goed om hier net te sê wat goeie werke is. Is dit dit wat ek of die meerderheid besluit is goed? Anders gestel, wie besluit of iets wat ek doen goed is al dan nie? Baie “christene” en selfs ongelowiges sal sê dat hulle goeie dinge doen. Is elkeen se idee van wat goeie dade is noodwendig reg? Dink byvoorbeeld aan die ryk jongman in Mattheus. Hy was verseker daarvan dat alles wat hy doen goed is, tog wys Jesus hom daarop dat dit nie is nie.
Miskien sal dit goed wees om te dink aan ons Meester se dade terwyl hy op aarde was. Wat het die meerderheid mense van sy dade gedink? In die Johannes evangelie word ’n situasie beskryf waar die volk onder mekaar redeneer of dit wat Hy doen goed is. Johannes 7:12 En daar is baie oor Hom gemompel onder die skare. Sommige het gesê: Hy is goed. Ander weer het gesê: Nee, maar Hy mislei die skare. Die meeste van die “leiers” van Sy dag het Hom negatief beskryf. Op die ou einde sal die skare, omdat Hy nie gedoen het wat hulle verwag het nie, skree: “Kruisig Hom.” Hulle verwagting was dat Hy hulle lewens hier op aarde sou lekker maak, vry van honger, siekte en Romeinse onderdrukking. As ons dus goeie dade wil definieer het ons nodig dat die Skrif dit vir ons doen en moet ons die verwagting hê dat die wêreld dit baie keer nie as goeie dade sal bejeën nie.
Vry of slaaf?
Jy is ‘n slaaf van iets: óf ‘n slaaf van die sonde óf ‘n slaaf van Christus. Die gelowige se hele lewe behoort nou aan God. Ek was ’n slaaf van die sonde, maar is daarvan vrygekoop deur Christus. Ek is nou ’n seun/dogter van die Vader. Daarteenoor het Jesus vir baie van sy sogenaamde volgelinge gesê dat hul dade wys dat hulle kinders van die duiwel is. Die duiwel se begeerte is om jou te verwoes. 1Petrus 5:8 Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Die oomblik as jy sonde toelaat om oor jou te heers maak dit jou weer ’n slaaf daarvan. 2Petrus 2:19 Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword. Enige iemand wat dink dat die sonde iets is waarmee jy kan speel, kan gerus na Simson in die Skrif gaan kyk. Op die ou end sal jou sogenaamde genietinge jou soos ’n esel, blind in ’n sirkel laat loop. Christene se lewens word gekenmerk as ’n stryd teen die sonde. Ons het nodig om te luister na Hebreërs wat ons oproep om ’n stryd te voer teen die sonde. Hebreërs 12:4 Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie.
Die Bybel vertel ons dat ons met wedergeboorte nou aan Hom behoort en met alles wil leef om Hom gelukkig te maak. Romeine 6:13 En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Soos reeds gesê, ons wil Hom gelukkig maak. Het jy al ooit daaraan gedink dat jou dade offers is wat jy aan Christus bring? 1Pet 2:5 en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Met alles wat ek doen wil ek Hom gelukkig maak. Ek probeer dus nie met goeie dade om my verlossing te koop of daarvoor te betaal nie. Nee, ek bewys daarmee my dankbaarheid aan ’n wonderlike Verlosser en bring dit as ‘n dankoffer. Ek sê dus met my dade dankie vir dit wat ek uit genade, verniet ontvang het.
Versekering
Die goeie dade wat ek doen, is dan ook ’n bewys dat ek ’n gelowige is. Dit gee my sekerheid dat ek wel op die Weg is waarop Jesus my lei. Ook verseker die goeie dade wat ek doen my dat ek in Sy voetspore loop, want ek is bewus daarvan dat ek alleen die goeie kan doen omdat God dit moontlik maak. Joh 15:4-5 Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. Dit is dus duidelik dat as daar goeie dade (soos wat God bepaal) in my lewe is, is dit ’n teken dat ek in Hom is en Hy in my. Net so seker soos my uitverkiesing ’n vooraf bestemde besluit van God is, net so seker is ek gemaak deur die Vader om goeie dade te doen. Efesiërs 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. As ek die eerste bely moet die tweede ook sigbaar wees. My goeie dade versterk dus my geloof, weereens nie op grond daarvan dat ek dit gedoen het nie, maar op grond daarvan dat God se werk in my goeie dade na vore bring. 2Petrus 1:10 Daarom, broeders, moet julle jul des te meer beywer om julle roeping en verkiesing vas te maak; want as julle dit doen, sal julle nooit struikel nie. Gelowiges wat nie in gehoorsaamheid leef nie sal altyd onseker wees oor hulle redding.
Getuienis
Ons wil verder ook hê dat ons godvresende lewens ander vir die Here sal wen. My lewe is ’n getuienis van die EEN wat my gered het. Wat sê my lewe van die God wat ek aanbid as ek vir mense en hulle opinies bang is en mense wil gelukkig maak? Gal 1:10 Soek ek dan nou die guns van mense, of van God? Of probeer ek om mense te behaag? As ek nog mense behaag, dan sou ek nie ‘n dienskneg van Christus wees nie. Ek verstaan dat alleen as God dooies lewendig maak sal die boodskap wat ek verkondig, of die lewe wat ek leef, enige inpak maak. Alles is afhanklik van Hom wat die werk doen. Daarom hoef ek nooit Sy boodskap af te water of te maak dat dit sagter/beter op ‘n ander se oor is nie. Ek kan maar net getrou die evangelie verkondig en weet dat vir een persoon dit ‘n heerlik geur tot lewe sal wees en vir ander ’n doodsreuk waarvan hy/sy wil wegkom. 2Korintiërs 2:15-16 Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam? Soos hierbo genoem wil ek Hom met alles gelukkig maak. Daarom beskryf Paulus dat sy werk onder die heidene gedoen is sodat dit Hom welgevallig kan wees. Romeine 15:16 om ‘n dienaar van Jesus Christus onder die heidene te wees, ‘n dienaar van die evangelie van God, sodat die offer van die heidene welgevallig kan wees, geheilig deur die Heilige Gees.
Slot
Jakobus stel dit so duidelik dat ons geloof deur ons dade sigbaar word. Geloof en dade is dus twee kante van dieselfde muntstuk. As jy wil leef soos voorheen, toe jy nog ’n slaaf van die sonde was, het jy verseker geen ontmoeting met Jesus gehad nie. Jy verstaan nie jou ellendige toestand sonder Christus nie en jy het niks waaroor jy Hom wil bedank nie. Jy het niks waaroor jy Hom wil loof nie. Jy het niks wat in jou werk en jou lewe nuut maak nie. Jy is nog steeds dood in jou sonde. Ek doen nie goeie werke om in God se koninkryk te kom nie. Ek is alreeds in die Koninkryk op grond van werke – Jesus s’n! Nou leef ek uit daardie genade in dankbaarheid.
