Vraag 83: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?
Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.
Vraag 84: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?
Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met ‘n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie. Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.
Inleiding
Die Nederlandse geloofsbelydenis beskryf die kenmerke waaraan ons die ware Kerk kan uitken soos volg: “Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf.” (Artikel 29 Nederlandse geloofsbelydenis) Die vraag is hoeveel kerke nog beskryf kan word as ware kerke op grond van of hulle die tug gebruik. Oopsluit en toesluit is deel van dieselfde muntstuk. Jy kan onmoontlik die Koninkryk vir iemand oopsluit sonder dat dieselfde Evangelie nie die deure vir iemand anders toesluit nie. Jesus sê dat sy woorde jou sal oordeel omdat jy dit nie geglo het nie. Die ware Evangelie is een wat vertel van die redding sowel as die verdoemenis. Vir die een is dit ’n geur wat lewe bring, vir die ander ‘n doodsgeur van verdoemenis.
Die oopsluit: – Genade en vergiffenis
Die sleutels van die Hemel is die verkondiging van die evangelie en die tug wat toegepas word. Hierdie is die sleutels wat God aan die Kerk gegee het om die Koninkryk oop te sluit vir gelowiges en toe te sluit vir ongelowiges. Johannes 20:23 As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou. Elke Sondag word die evangelie aan individue in die gemeente verkondig en word hulle opgeroep om Christus te volg en Hom alleen te gehoorsaam. Hierdie verkondiging is natuurlik nie net die verantwoordelikheid van die predikant of pastoor nie, maar van elke lid van die liggaam van Christus. Ons is God se verteenwoordigers wat die blye boodskap van verlossing van sonde aan die wêreld gaan verkondig. Romeine 10:15 stel dit mooi “Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” Ons bely aan die wêreld dat as hulle hul kruis opneem (sterf vir die eie ek en eie idees van wat reg is) en Christus volg, hulle deel sal word van die nuwe Koninkryk. Op grond van die aanvaarding van hierdie evangelie, sluit dit die koninkryk vir hierdie persoon oop.
Verder word ook verkondig dat jou sondes vergewe word as jy jou toevlug neem na Christus as jou enigste Verlosser. Die bely van sonde is nie net ’n eenmalige proses nie. In die Onse Vader word ons geleer dat ons moet bid dat Hy ons skulde sal vergewe soos ons ons skuldenaars vergewe. Mattheus 6:12 … en vergeef ons ons skulde… Ons kan ook 1 Johannes 1:9 noem wat sê “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Hoe wonderlik dat ons vry gemaak word van ons sonde deur die versoening wat Christus aan die kruis bewerk het vir ons. Hier wil ek tog verduidelik dat Christus se versoening aan die kruis ’n eenmalige versoening van al die gelowige se sondes bewerk het. Daar is ‘n valse leer wat beweer dat ons om hierdie rede nooit meer belydenis van ons sonde hoef te doen nie. Dit is egter ‘n dwaling (bekend as “Hyper Grace”) Hulle vra waarom ons ons sonde elke keer weer moet bely, as dit waar is dat die kruis vir my as gelowige alle versoening bewerkstellig het toe Christus al my sonde van die verlede en hede en toekoms betaal het? Die antwoord hierop is dat my belydenis ’n erkenning is van my skuld voor God en my vernedering voor Hom. My belydenis is dat ek alleen op grond van sy kruisdood vergifnis kan ontvang. Met die belydenis van my sonde erken ek ook die hoë prys wat betaal is vir my sonde en dat ek daarom nooit ligtelik met die sonde mag omgaan nie. 1Korintiers 6:20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.
Die toesluit – Die kerklike tug
Hierdie gedeelte ervaar baie mense baie negatief en liefdeloos en tog is dit deel van die sleutel. Die gelowige wat verstaan wat Christus gedoen het, sal nooit ligtelik met die sonde kan omgaan nie. Die gelowige is elke oomblik as hy/sy op hul knieë gaan terdeë bewus van die prys wat betaal is vir hierdie sonde wat ek voor sy genade troon bring. Die teksgedeelte in die Onse Vader wat hierbo genoem is, het ’n vereiste aan vir die ontvang van vergifnis vir jou sonde. Mattheus 6:12 en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe. Hierdie vers word uitgebou in vers 14 en 15 as daar gesê word: “Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.” As ek dus haat in my eie hart het en nie ander mense kan vergewe nie sal God my nie vergewe nie. Hier is waar die tug handeling inkom. As iemand besig is om te volhard in sonde moet ek na die persoon gaan en hom/haar waarsku dat hulle nie in die koninkryk van God sal ingaan solank hulle verhard in ’n onvergewensgesindheid of in enige ander sonde nie . Paulus waarsku die gemeente in Korintiërs, waarin baie besig was met volharding in sonde: “moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” 1Korintiers 6:10. Die waarskuwing moet uitgaan vanuit die kerk dat mense wat so leef en daarin volhard die koninkryk nie sal beërwe nie. Hier is dit belangrik dat ons onthou dat ons nie gered word op grond van ons dade nie, maar deur Christus se kruisdood. Die Bybel is baie duidelik hieroor. Tog getuig die Woord onomwonde dat iemand wat volhard in sonde, met sy lewe getuig dat hulle nie gelowiges is nie. In Jakobus word dit oor en oor bevestig dat iemand wat getuig dat hy/sy geloof het, maar geen dade het nie geestelik dood is en nie aan God behoort nie. Jesus se eie woorde is dat jy mense aan hulle vrugte sal ken. Mattheus 7:17-20 So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
Ware liefde
Die grootste liefdesdaad wat die gelowige kan doen, is om iemand wat in die gemeente is, wat besig is om te volhard in sonde, te vermaan en uiteindelik, as daar nie berou is nie, af te sny. Baie sien hierdie opdrag as liefdeloos en hard. My vraag is: “Sou jy eerder iemand in die hel wou sien as om hom/haar hier te waarsku en af te sny?” Dit gaan my verstand te bowe dat liefde gedefinieer kan word as iemand wat bereid is om net toe te kyk hoe iemand op pad is om oor die afgrond te stort. Die grootste probleem, glo ek, hoekom kerke en individue nie die tug wil toepas nie, is a.g.v. liefde vir hulleself. Ons is so bang vir verwerping dat ons eerder sal toekyk hoe iemand hom/haar self vernietig as om die person te vermaan. Dalk gaan die persoon nie meer van my hou as ek dit doen nie, of die wêreld of ander “kerkmense” gaan my dalk beskuldig van liefdeloosheid. Liefde vir self is ons grootste struikelblok in die uitvoer van die tug en die afsny van iemand uit die gemeente.
Slot
Net soos deelname aan die nagmaal, is die bewaring van die sleutel van die Koninkryk ‘n ongelooflike verantwoordelike taak en opdrag. Ons verkondig en bely die woorde en die boodskap van God. Ons vertel die waarheid in liefde en opregtheid en bid en vertrou dat die Here hierdie waarhede in iemand sal “oopmaak.” Die bron van die krag is nie by ons nie, maar by God. Die Evangelie is egter in die hande van God se ware Kerk geplaas om dit te verkondig en te leef – die waarheid sluit oop en toe. Jesus sê self dat Hy nie gekom het om te oordeel nie, maar dat die wat Hom gehoor het geoordeel sal word op grond van geloof of ongeloof in wat Hy gesê het. Hulle sal geoordeel word op grond van Sy woorde. Mag ons in ons verkondiging van die suiwer Evangelie, die bediening van Sy sakramente en die liefdevolle toepassing van die kerklike tug, bekend staan as deel van die ware Kerk van Christus. Die Kerk wat as bruid vir ewig saam met Hom sal leef
