Vraag 82 Nagmaal kan nooit ligtelik geneem word nie!

Moet die mense ook aan die nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?

Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek. Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.

Inleiding

Die Nagmaal is kosbaar. Dit is ernstig. Vir elke gelowige is dit die teken en bewys van ‘n offer wat ons Verlosser se lewe gekos het. ‘n Offer wat vir ons die Lewe kom gee het en ons kom verlos het van die dood. Dit is skokkend om sommige mense nog te hoor praat van die nagmaal as “ ‘n bietjie wyn vat”, ens.  Daar is nog vele ander ligsinnige grappies wat ek nie hier sal herhaal nie, maar wat ek seker is aan almal bekend is. Die erediens en die nagmaal is nie ’n plek waar speletjies gespeel of toegelaat word nie.  Die sakrament van die nagmaal gaan dan ook gepaard met ’n ernstige waarskuwing.

Oordeel

Die gelowige word altyd opgeroep om hom/haarself te ondersoek voor hulle die nagmaal gebruik. 1Korintiers 11:28  Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. So baie mense in die kerk is besig met opsetlike sonde en gebruik nie teen staande, sonder om te blik of te bloos, die nagmaal. Verstaan ons nie dat ons ’n oordeel oor onsself drink nie?1Korintiers 11:29  Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Verstaan ons nie dat so iemand die oordeel van God sal dra nie? Dit was die geval dan ook in die Korintiër gemeente waarin baie siek geword het en ander gesterf het. 1Korintiers 11:30  Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.

Kerklike tug

Aangesien dit  waar is dat die kerk wat ligtelik met sonde omgaan onder die oordeel van God staan, wat word dan van die kerk verwag? Kan ons individue, van wie ons bewus is wat besig is met sonde in hulle lewens, maar net toelaat om, terwyl hulle verhard in sonde, tog nog steeds aan die nagmaal deel te neem? Hier word daar gewoonlik deur een of ander persoon ’n teen vraag gevra, nl.  of almal nie maar sondig nie? Of wie is ons om oor ander te oordeel? Sê die Woord nie ook dat ons nie mag oordeel nie? Op die eerste vraag antwoord die Skrif duidelik dat selfs gelowiges ook sondig. 1Johannes 1:8  As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. Hoe kan ons dan oor ander in die gemeente oordeel terwyl ons self sondig? In 1Johannes verduidelik God aan ons dat die verskil tussen ’n gelowige en ’n ongelowige is dat die gelowige nie volhard in sonde nie. Enige iemand wat aanhou met ’n sonde en daaraan vashou is nie ’n gelowige volgens 1 Johannes nie. 1Johannes 3:8  Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. (U kan gerus die hele 1 Johannes gaan lees om die volle konteks te verstaan) Ons kan vir die tweede vraag gaan kyk na gedeeltes soos Matheus 18 en 1Korintiërs 5  waarin die gemeente opgeroep word om gemeentelede wat in sonde leef tereg te wys.

God soek gehoorsaamheid

Ons dink baie keer dat God maar net te bly is as ons voor Hom verskyn, al is ons lewens vasgevang in sonde. “Ons doen darem iets goeds”, is baie se verdediging. “Ten minste gebruik die persoon darem nagmaal”, hoor ek iemand sê. Luister na wat Jesaja aan die volk sê oor hulle feeste en hulle offers wat hulle bring. Jesaja 1:12-15  As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis—om my voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste—Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie! Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My ‘n oorlas. Ek is moeg om dit te dra. En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed. Die oproep wat God maak is dat hulle hul sal bekeer en ophou met sonde. Jesaja 1:16  Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen. Hou op om al jou mooi dinge oor die Here te sê en jou so vroom te hou terwyl jy besig is met jou volharding in jou sonde. Psalm 50:16-17  Maar aan die goddelose sê God: Wat vertel jy nog my insettinge en neem jy my verbond in jou mond— terwyl jy die tug haat en my woorde agter jou werp? 

In Calvyn se tyd was daar baie van die welgestelde lidmate van die gemeente, waarin hy ’n bedienaar was in Genève, besig met openlike sonde. Hy het hulle vermaan en onder die tug geplaas a.g.v. hulle weiering om van hulle sonde weg te draai. Die Sondag by die Nagmaal het Calvyn stelling gaan inneem voor die nagmaalstafel om individue wat in sonde volhard het te keer sodat hulle nie die nagmaal sou gebruik nie. Calvyn het die erns van die nagmaal verstaan. Hy was terdeë bewus van die hoë prys wat betaal is vir ons sonde, waarvan die nagmaal ’n teken is. Die vraag wat ons mekaar moet vra is of ek ook die Nagmaal met so ’n erns bejeën. Sal u ook bereid wees om ’n individu wat u gewaarsku het aangaande sonde in hulle lewens en wat nog steeds volhard daarin, te keer om deel te neem aan die nagmaal? Miskien is dit dat ons mense meer vrees as die lewende God. Miskien is dit goed om weer te kyk hoe die Hebreërs-skrywer God vir sy hoorders beskryf. Hebreërs 12:29  Want onse God is ‘n verterende vuur.

Die nagmaal as wapen

Miskien is jy een van die persone wat die erns van die Nagmaal begryp en nie ‘n oordeel oor jouself wil drink nie. Jy het om daardie rede al besluit om by geleentheid nie die nagmaal te gebruik nie, omdat jy weet jy het haat in jou hart teenoor ’n mede broer of suster. Of jy en jou buurman of man/vrou is kwaad vir mekaar en  nou maak jy ’n groot punt daarvan om almal te laat besef dat jy nie die nagmaal gaan gebruik nie. Die nagmaal moet vir jou so belangrik wees dat jy jou probleme met ander sal uitsorteer om sodoende daaraan deel te mag neem. Dit moet nooit as ’n wapen gebruik word om ander sleg te laat voel omdat jy nou a.g.v. hulle nie nagmaal gebruik nie.  Nee, nooit nie. Maak reg en kom vry.

Slot

Hoe die kerk teen individue moet optree sal in die volgende blog in diepte bespreek word. Hier kan net genoem word dat God aan die Kerk die sleutels van die koninkryk gee. Die kerk sluit dus die koninkryk toe vir individue wat bely dat hulle gelowiges is, maar in sonde volhard. Sodra so ’n persoon egter opregte berou toon kan die kerk dit weer oop sluit.

Om die Here te dien is nie ’n speletjie nie. Dit is ’n kwessie van Lewe en Dood. Die kerk mag nooit ligtelik met sonde omgaan nie, want dit het ons Verlosser se lewe gekos. Die nagmaal herinner ons hieraan en God gee aan elke bruilof gas nuwe klere. As jy dus dink dat jy met jou ou klere aan die tafel mag kom sit, maak jy ’n fout. Jy sal soos die gas in die gelykenis uitgegooi word.  Mattheus 22:11-13  En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande. 

Die bruilofsklere is daar vir elkeen wat bely dat hy/sy ’n kind van die Here is. Trek dit aan en kom deel in die feesmaal.