Vraag 80 Volledig betaal!?

Sondag 30 Vraag 80: Wat is die onderskeid tussen die nagmaal van die Here en die Roomse mis?

Antwoord: Die nagmaal betuig aan ons dat ons volkome vergewing van al ons sondes het, ter wille van die enige offer van Jesus Christus wat Hy self eens en vir altyd aan die kruis volbring het, en dat ons deur die Heilige Gees in Christus ingelyf word, wat nou na sy menslike natuur in die hemel aan die regterhand van die Vader is en daar deur ons aanbid wil word. Die Roomse mis, daarenteen, leer dat die lewendes en die gestorwenes nie deur die lyding van Christus vergewing van sondes het nie, tensy Christus nog daagliks vir hulle deur die priesters geoffer word. Verder dat Christus liggaamlik in die brood en wyn aanwesig is en derhalwe daarin aanbid moet word. Die mis is dus in wese niks anders nie as ‘n verloëning van die enige offer en lyding van Jesus Christus en ‘n afgodery wat vervloek is.

Vraag 81: Wie moet na die nagmaalstafel van die Here kom? Antwoord: Hulle wat vanweë hulle sondes ‘n afkeer van hulleself het, maar tog vertrou dat dit hulle om Christus wil vergewe is en dat die swakhede wat nog oor is, met sy lyding en sterwe bedek is; en die wat ook begeer om hulle geloof hoe langer hoe meer te versterk en hulle lewe te verbeter. Maar die huigelaars en die wat hulle nie van harte tot God bekeer nie, eet en drink ‘n veroordeling oor hulleself.

Inleiding

Dalk wonder jy waarom die Heidelbergse Kategismus hierdie vergelyking tussen die Nagmaal, soos wat in die Gereformeerde kerke bedien word, en die Roomse Mis tref. Ons moet besef hoeveel misverstande daar in die loop van die jare rondom die nagmaal ontstaan het en die Rooms-Katolieke mis is ’n ongelooflike voorbeeld van hoe die Nagmaal, wat deur Jesus ingestel is, verander is in ’n absolute heidense ritueel. Hierdie vraag is ook baie relevant in vandag se tye, omdat soveel mense alle godsdienste een wil verklaar. Hulle sien geen probleem met die Rooms-Katolieke Kerk nie en voel dat hulle ook as Christene bestempel kan word. Dit is egter vêr van die waarheid as daar in diepte gekyk word na wat presies die Rooms-Katolieke Kerk glo en dit kom veral na vore in die bediening van die Nagmaal.

Reformasie

Die reformatore het baie sterk standpunt teen die Rooms-Katolieke se verstaan van die nagmaal ingeneem. Die mis soos hulle dit noem is vêr verwyder van die nagmaal wat die kerk uit die reformasie bedien. Miskien is die beste plek om te begin om die verskil te beskryf om te begin by die een wat die nagmaal bedien.

  • Die amp van priester:

By die Roomse kerk is die persoon wat die nagmaal bedien die priester. Die vraag wat onmiddellik by die gelowige behoort te ontstaan is waar in die Nuwe Testament ons geleer word van die amp van priester? Is die priester nie net ’n Ou Verbondsamp nie? In die Ou Verbond het die priester die offers voor God gebring. In die Nuwe Verbond word ons geleer dat Christus die priester is en dat Hy nie net sy lewe geoffer het nie, maar ook as priester vir ons as gelowiges intree. Hierdie offer van Christus was ’n eenmalige offer. Hebreërs 10:10  Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.  Hebreërs 10:12  maar Hy het, nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, vir altyd gaan sit aan die regterhand van God. Hy was die volmaakte offer en het Homself geoffer as ’n volkome offer vir al ons sondes. Daarom het Jesus aan die einde van sy kruisiging uitgeroep dat dit volbring was. Joh 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee. Dit beteken dat die prys volledig betaal is. Die priester in die Roomse kerk bring elke Sondag ’n offer, daarom word hy ’n priester genoem. Die offer word verder gebring op die plek wat hulle die altaar noem. Elke Sondag word Jesus se liggaam weer geoffer. As jy dit verstaan besef jy hoe godslasterlik hierdie instelling is. Hulle glo dus nie dat Christus eens en vir altyd al die sonde van ons as gelowiges versoen het nie, maar dat ons alleen kan vrykom as die mis elke Sondag bedien word. Daarom is dit vir hulle belangrik om die mis te bedien aan ’n persoon op sy/haar sterfbed. Die rede is dat die offer weer gebring moet word vir sy sonde sodat hy/sy vry kan wees van enige sonde voordat hy/sy sterf. Hierdeur verloën hulle die volmaakte offer van Jesus aan die kruis.

 

  • Die brood en die wyn

Die brood en die wyn is vir hulle nie die simbool van die liggaam en bloed van Christus nie, maar die wyn en die brood word werklik die liggaam en bloed van Jesus Christus. Daarom mag net die priester daaraan raak as dit op die persoon wat dit gaan gebruik se tong geplaas word. Indien daar enige van die brood of wyn na die bediening van die mis oor is, moet dit op so ‘n manier vernietig word, dat niemand wat “onheilig” is daaraan raak nie, want volgens hulle is dit die bloed en liggaam van Jesus self.  Hierteenoor het ons al duidelik  aangetoon dat die Kerk deur die eeue geglo het dat die Bybel ons leer dat die brood en die wyn Christus se liggaam en bloed verteenwoordig. By die gebruik van die nagmaal erken ons dat die geestelike realiteit waar is en dat ons gemeenskap met Sy bloed en liggaam het. Dus is dit nie ’n fisiese werklikheid nie, maar ’n geestelike realiteit wat plaasvind. 1Korintiers 10:16-17 die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Ons bely dus by die Nagmaal dat ons een met Hom is. Maar wie die Here aanhang, is een gees met Hom. Ons word as gelowiges deur die Heilige Gees ingebring in die liggaam van Christus, Sy Kerk. Hierdie is ’n geestelike realiteit wat ons by elke nagmaal geleentheid herdenk.

 

  • Die oorwinning is alreeds behaal

Die oorwinning is behaal en Jesus sit aan die regterhand van God die Vader. Hy heers oor alles. Terwyl Hy in die Hemel is, is Hy ook volkome mens en die wonde aan Sy hande en Sy voete is daar vir almal om te sien as bewys van die wonderlike werk wat Hy gedoen het aan die kruis. As Hy na Sy opstanding, met sy verheerlikte liggaam,  aan Sy dissipels verskyn, wys Hy hulle die merke in Sy hande en voete. As Johannes in Openbaring Christus in die Hemel sien is dit soos die lam wat geslag is. Openbaring_5:6  En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is… Nou en tot in ewigheid gaan ons Hom aanbid as die Lam wat geslag is tot ’n volkome versoening vir al ons sondes.

Vir wie is die nagmaal?

Die Nagmaal is dus ’n ernstige moment. Dit beteken nie dat ons dit met lang gesigte moet gebruik nie, maar wel met erns en ontsag. Ek besef die prys. Een van my professors het eenkeer geskryf dat dit nie heuning was wat van die kruis gedrup het nie, maar wel bloed. Jy kan nie deur die week lewe soos jy wil en Sondae die nagmaal gebruik en herdenk dat ’n duur prys vir jou sonde betaal is nie. 1Petrus 1:18-19  omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos. Baie van die gelowiges in die Korintiër gemeente het hulle skuldig gemaak aan ’n ligtelike gebruik van die Nagmaal. Hulle het in sonde volhard en sonder om dit te bely en te laat staan aangehou om by die nagmaalstafel te kom sit – sonder opregte berou en bekering van hul sonde. Hiervoor het God hulle gestraf. 1Korintiers 11:27-30  Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. As jy ’n gelowige is wat in sonde volhard sal jy getug word. Hy is ’n Vader wat vir Sy kinders lief is en nie wil toelaat dat daar met sonde gespeel word of dat sonde Sy kinders verwoes nie. Die Hebreërs-skrywer waarsku ons, wat ’n nuwe koninkryk in Christus ontvang het, om te lewe met eerbied en vrees. Hebreërs 12:28-29  Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ‘n verterende vuur. 

 

Slot

Die nagmaal is dus vir sondaars. Vir elkeen wat met opregte berou besef dat hulle sonder die volmaakte offer van Jesus Christus nooit daartoe in staat sal wees om naby God te kom nie. Dit is nie vir diegene wat dink dat hulle dit nie nodig het nie, maar vir die siekes wat besef dat hulle totaal van God afhanklik is. Dit is vir diegene wat met vrymoedigheid weet dat Jesus vir hom/haar sondes betaal het, wat as gevolg daarvan nou in ‘n liefdesverhouding met God kan staan, waarvan die liefde vir God oorspoel in goeie dade en liefde teenoor jou naaste en wat met verwagting uitsien na die dag waarop Christus die wat deel geword het aan Hom, kom haal.