Vraag76 Ek wil groei in Hom!

Wat beteken dit om die gekruisigde liggaam van Christus te eet en sy bloed wat vergiet is, te drink?

Antwoord: Dit beteken nie slegs om met ‘n gelowige hart die hele lyding en sterwe van Christus aan te neem en daardeur vergewing van sondes en die ewige lewe te verkry nie. Dit beteken boonop om deur die Heilige Gees, wat tegelyk in Christus en in ons woon, al hoe meer so met sy geseënde liggaam verenig te word, dat ons vlees van sy vlees en been van sy gebeente is; al is Christus nou in die hemel en ons op die aarde. Dit wil sê dat ons deur een Gees – soos die ledemate van die liggaam deur een siel – ewig lewe en geregeer word.

 

Inleiding

Die nagmaal is ‘n teken van die kruisiging van Jesus aan die kruis. Om daaraan deel te neem, beteken dat ek sy offer aanvaar en sodoende vergewing van sondes kan ervaar. Indien ek dalk van hierdie wonderlike offer vergeet, is die nagmaal daar om my en ander gelowiges te herinner aan Jesus se kruisiging. Maar dit is ook soveel meer as dit.

 

Wat is geloof?

Die nagmaal is slegs vir gelowiges, as teken tot herinnering. Wie is dan gelowiges? Beteken dit net dat ek moet glo dat Jesus bestaan en vir my gekruisig is en daardeur betaal het vir my sondes. Nee, om gelowig te wees beteken dat hierdie gebeurtenis ‘n deel word van jou lewe. Net soos enige voedsel afgebreek word om in hul eenvoudigste vorm selle te voed, net so word die brood en wyn as teken van Jesus se liggaam en bloed, afgebreek om ons geestelike wese (ons siel) te voed. So word dit deel van my siel. Net so seker as die brood gebreek en die wyn gedrink word net so seker het ons deel aan Christus se sterwe. Ons bely dus eerstens met die gebruik van die nagmaal, dat dit die waarheid is dat Christus gesterf het aan die kruis. Dit moet egter verder gaan, aangesien om te weet dat dit waar is niks aan my saligheid sal doen nie. Die duiwel glo ook dat Jesus gesterf het. Hy was daar. Hy het dit beplan.

Geloof is dade

Die geloof waarvan ons praat is ’n geloof wat oorgaan in dade. Christus se kruisiging raak my persoonlik. Ek bely dat Hy dit vir my gedoen het. Hier bedoel ons nie dat ons so wonderlik is en daarom het Christus vir ons gesterf nie, maar dat Hy vir ons gesterf het, omdat daar geen ander manier was om ons te verlos van ons sonde nie. Dit was Sy genade, nie ons “oulikheid” nie. Met die gebruik van die nagmaal dank ek Hom dus dat Hy dit vir my gedoen het sonder dat ek dit verdien het of enige iets daarvoor kon of kan doen. Efesiërs 2:8-9  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.  Ons glo ook dat Sy sterwe vir my veroorsaak dat ek die ewige lewe sal beërwe. Johannes 6:47  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe. 

 

 

Waarlike voeding

Ons kan sê dat die kos wat ons eet deel van ons liggaam word. Die voedingswaarde daarin, laat elke sel groei en die vitamienes en soute word letterlik “opgeneem” deur ons liggaam. As gelowiges weet ons dat, net soos Jesus op aarde gevul was met die Gees en onder leiding van die Heilige Gees gelei is, ons ook net so deur die Heilige Gees gevul is en gelei word. Sodoende word ons meer en meer met Sy liggaam verenig. Johannes 6:55-56  Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Ek bely dus met die eet en drink van die wyn en die brood dat ek ook daagliks deur Hom alleen gevoed kan word en dit deur Sy Woord. Mattheus 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan. Sy Woord word my voedsel waardeur ek opgroei om meer en meer soos Hy te word. Soos ek groei in volwassenheid en gevoed word deur Hom word Sý denke mý denke en Sý wil word mý wil. Volwassenheid beteken dat ek in my lewe deur ervaring en geestelike voeding besef dat Sy wil beter vir my is as my wil. Net iemand wat gevoed is deur Sy Woord kan dit bely in sy/haar lewe. Jesus was in Sy gehoorsaamheid aan die Vader ‘n voorbeeld vir elkeen van ons. Daarom kon Hy in die tuin van Getsémané sê nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. Mattheus 26:39.

 

Deel van ’n nuwe liggaam

Ons as gelowiges word saam gevoed deur Hom. Ons is lede van Sy liggaam. Efesiërs 5:29-30 want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. As gelowige besef ek dat Christus deel word van alles wat ek doen. Paulus verduidelik dit as hy die gemeente in Korintiërs aanspreek oor hulle sedelose lewens. 1Korintiers 6:15  Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? Sal ek dan die lede van Christus neem en dit lede van ‘n hoer maak? Nee, stellig nie! Hoe is dit moontlik dat gelowiges wat bely dat hulle aan die liggaam van Christus behoort,  geen probleem het om sedeloos te lewe nie? Dieselfde gemeente het ook in hulle nagmaalsvieringe die liggaam van Christus verdeel. Rykes het geëet en gedrink sonder die res van die gemeente en as die ander gearriveer het, was daar niks meer oor nie. Hieroor het God hulle gestraf omdat hulle op ’n onwaardige wyse nagmaal gebruik het. 1Korintiers 11:27  Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Die straf was dat God van hulle se lewens geneem het en ander siek gemaak het. Die nagmaal kan dus nooit ligtelik opgeneem word nie en ons moet nooit vergeet dat ons die liggaam van Christus is  as ons buite in die wêreld leef nie. Ons verteenwoordig Christus en ons is ook onlosmaaklik deel van Hom.

 

Slot

Die Heilige Gees bring hierdie eenheid in die liggaam te weeg. Hy is soos die siel van die mens wat die liggaam lewe gee. Net so gee die Heilige Gees Ewige Lewe aan die Kerk en regeer oor die Kerk. Johannes 15:5  Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. Die Kerk moet altyd ondergeskik wees aan die leiding wat die Heilige Gees vanuit die Skrif gee. Geen kerk wat bely dat hulle afhanklik is van die Heilige Gees kan of mag enige iets anders verkondig as dit wat die Woord ons leer nie. Ons kan nie meer vreugde vind in sonde nie, want dit sal wees soos om Jesus te dwing deur ons aksies om vreugde te vind in die sonde. Hy is deel van my liggaam. Hoe kan dit wees! Dit is onmoontlik. Jy is óf deel van Hom óf nie. As jy nie is nie sal jy uitgekap word, soos ‘’n dooie loot en in die vuur gegooi word. Slegs lote geanker (deel van) Christus sal deur die voedingsaar gevoed word en vrug dra tot lewe.

Mag ons elke dag deur die brood en die wyn gevoed word. Die voedsel wat ons herinner aan die afsterf van die oue en die opstaan van die nuwe. Die voedsel wat ons deel maak van die liggaam van Christus sodat ons al hoe meer kan groei tot volwassenheid in Hom.