Hoe word jy in die heilige nagmaal daarop gewys en daarvan verseker dat jy aan die enige offerande van Christus aan die kruis en aan al sy weldade deel het?
Antwoord: Christus het my en alle gelowiges beveel om tot sy gedagtenis van hierdie gebreekte brood te eet en van hierdie beker te drink. Daarby het Hy beloof, ten eerste, dat sy liggaam so seker vir my aan die kruis geoffer en gebreek, en sy bloed vir my gestort is, as wat ek met my oë sien dat die brood van die Here vir my gebreek en die beker aan my gegee word. Ten tweede, dat Hy self my siel met sy gekruisigde liggaam en gestorte bloed net so seker vir die ewige lewe voed en verkwik as wat ek die brood en die beker van die Here, as ontwyfelbare tekens van Christus se liggaam en bloed, uit die hand van die bedienaar ontvang en met die mond geniet.
Inleiding
“Sien is glo”, lui die spreekwoord. In teenstelling hiermee leer die Woord ons dat geloof nie te make het met die fisiese waarneem van dinge nie. Hebreërs 11:1 Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Hoekom het ons dan die nagmaal nodig wat iets is wat ons fisiese kan sien en aan kan deelneem? Waarom het God dit vir ons gegee? Die rede is omdat ons so maklik vergeet. So maklik vergeet ons wat God gedoen het. So maklik kom daar twyfel in ons harte. Ons is soos die dissipels wat twee keer die vermeerdering van die brood waargeneem het en nog steeds bekommerd is as Jesus vir hulle vertel van die suurdeeg van die Fariseërs en die Sadduseërs dat hy dit waarskynlik sê omdat hulle nie brood saamgebring het nie. Mattheus 16:8-11 Maar Jesus het dit opgemerk en vir hulle gesê: Wat redeneer julle onder mekaar, kleingelowiges, dat julle geen brode saamgeneem het nie? Begryp julle nog nie, en onthou julle nie die vyf brode van die vyf duisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie? Of die sewe brode van die vier duisend, en hoeveel mandjiesvol julle opgetel het nie? Hoe is dit dat julle nie begryp dat Ek nie in verband met brood vir julle gesê het om op te pas vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs nie?
Tekens van God
Vanaf die Ou Testament het God vir die mens sigbare tekens gegee sodat hulle herinner kan word aan wat Hy belowe het en aan Sy getrouheid deur die geskiedenis. Neem die reënboog as voorbeeld. God het die reënboog gegee sodat die mens kan weet dat God nie weer die wêreld sal uitwis deur water nie. ’n Gelowige en ongelowige kyk na dieselfde reënboog. Die gelowige neem alles waar wat die ongelowige waarneem maar sy geestes oë sien soveel meer. Hy sien ’n God wat belowe en trou is aan sy beloftes. Elke keer as die gelowige die reënboog sien word hy/sy herinner aan ‘n magtige God, wat straf en vergewe, verwoes en herstel. Nog ‘n teken is die twaalf klippe wat die volk op mekaar moes stapel nadat hulle deur die Jordaan gegaan het. Dit sou hulle herinner dat God die water van die Jordaan laat opdam het sodat hulle deur kon gaan. Dit sou hulle verder herinner aan ‘n God wat beloftes nakom, deurdat Hy elke probleem, al lyk dit hoe groot (die Jordaan was in vloed!) kan oorkom, omdat Hy magtig en getrou is. Die ongelowige sien ’n stapel klippe en die gelowige sien die Jordaan se water wat teruggehou is deur God, heerser oor die natuur.
Die nagmaal as teken
Net so is die nagmaal vir ons gegee. Die nagmaal bestaan uit brood en wyn, alledaagse voedsel wat deel is van elke huishouding. Dit is algemeen gebruik deur mense in Christus se tyd en meestal vandag nog. Sodoende gebruik God dit wat ons elke dag eet en drink om ons te herinner aan dit wat Christus aan die kruis vir ons gedoen het. So, nie net met die nagmaal self nie, maar in my alledaagse lewe, moet brood en wyn of druiwesap my aan God se offer herinner. Ten eerste wil dit my herinner dat, net soos ek die brood en wyn voor my sien, Sy liggaam aan die kruis en Sy bloed gevloei het vir my. Hoewel ek die brood en wyn sien is die onsienbare, nl. Geloof, nodig om dit waarna die brood en wyn wys vir my oop te breek. Mattheus 26:26-28 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Hoe wonderlik dat hierdie sigbare tekens elke dag, en spesifiek op nagmaalsgeleenthede, my geloof wil versterk. Sal ek vuilgrappe aan tafel kan vertel of oor dinge praat waaroor God se Woord my vermaan as ek die tekens deel maak van my lewe. Die nagmaalstekens maak Sy offer deel van elke maaltyd – altyd voor oё. Christus het dit vir my gedoen! Dit was ’n duur prys wat betaal is. 1Pe 1:17-19 En as julle Hom as Vader aanroep wat sonder aanneming van die persoon oordeel volgens elkeen se werk, wandel dan in vrees gedurende die tyd van julle vreemdelingskap; omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.
Die nagmaal as voeding
Verder besef ek dat dit wat ek eet en drink besig is om my te voed. Sonder kos sal my liggaam uitteer en sal ek van die honger en dors doodgaan. Sonder goeie voeding kan my liggaam nie optimaal funksioneer nie en sal ek siek word. Net soos die mens nie kan leef sonder voedsel nie net so min kan Ek die Lewe hê sonder wat Christus vir ons gedoen het nie. Hy is ons voeding. In die woestyn toe die Satan Jesus versoek het om van die klippe brood te maak, haal Jesus ’n gedeelte in die Ou Testament aan: …om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan. Deuteronomium 8:3. Jesus is die Woord wat ons voed. So baie wou Jesus volg omdat Hy die brood vermeerder het en hulle sodoende gevoed het. Johannes 6:26 Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het. Hy lig hulle dan in dat Hy die brood is wat hulle sal voed. Johannes 6:35 En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Elke mens op hierdie aarde is op soek na iets om hierdie honger in sy/haar binneste stil te maak. Jesus is die een wat die mens sal voed. Hy maak die geestelike honger hier binne-in ons stil. Daarom sê Hy ook aan die vrou by die put dat indien sy die water sou drink wat Hy aan haar sal gee, sy in der ewigheid nooit dors sal wees nie. Dit wat Jesus hier geleer het dui op die Woord wat Hy gespreek het. Die brood en die wyn gaan dus nog verder en vertel my dat nie net is Hy die brood wat my elke dag voed nie, maar Hy is die brood wat vir my gebreek is sodat ek die Ewige Lewe kan beërwe. Sy bloed het gevloei sodat ek vergifnis kan ontvang. Dus word vir ons in die nagmaal daarop gewys dat Sy sterwe my voed vir die Ewige Lewe.
Die nagmaal as feesgeleentheid
Tog wil die skrywers van die belydenis my ook daarop laat let dat die Nagmaal vir my vreugde wil gee net soos ek kos eet en daardeur vreugde ervaar. Dit is ook ’n vreugdefees. ’n Fees van dankbaarheid. Die gelowige kan nie anders as om vreugde te ervaar aan die nagmaalstafel nie. My geestelike voeding bring altyd vreugde in my lewe. Iemand wat in ’n verhouding met Christus staan het altyd blydskap en vreugde. Paulus skrywe in Filippense, terwyl hy in die gevangenis is, “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” Filippense 4:4. Indien ons gevoed is deur Jesus Christus tot die Ewige Lewe kan ons in enige omstandighede vreugde vind.
Slot
Omdat Hy ons gemaak het en ons ken weet Hy wat ons nodig het. Hy weet ons vergeet soms wanneer die lewe swaar raak en omstandighede moeilik, dat Hy is magtig is en Sy beloftes altyd vas staan. Hy het die feesmaal gereed gemaak en Hy het ons genooi en ons oё oopgemaak om die wonder daarvan raak te sien en daarin te glo. Hy maak ons bewus van die hongersnood waarin ons lewe en bied vir ons n EWIGE voeding. Mag ons elke dag in en uit dankbaarheid lewe. Mag ons by elke maaltyd herinner word aan Sy offer tot vergifnis vir ons sondes. Mag ons dan met vreugde by Sy feestafel aansit.
