Antwoord: Ja, aangesien hulle net soos die volwassenes in die verbond van God en sy gemeente ingesluit is. Ook aan hulle word nie minder as aan die volwassenes deur die bloed van Christus die verlossing van die sondes en die Heilige Gees wat die geloof werk, beloof nie. Daarom moet hulle ook deur die doop as teken van die verbond in die Christelike kerk ingelyf en van die kinders van die ongelowiges onderskei word. So is dit in die Ou Verbond deur die besnydenis gedoen in die plek waarvan die nuwe Verbond die doop ingestel is.
Inleiding
Hier kom ons sekerlik nou by die punt waar baie gelowiges van mekaar verskil. Tot nou toe kon ons lekker saam gesels en het ons oor die meeste goed saamgestem, behalwe miskien oor die manier van doop. Ons het egter aanvaar dat die manier van doop nie skeiding tussen ons moet bring nie, aangesien die doop ‘n teken en nie die werklike afwas van sonde is nie.
Al glo jy nie dat kinders van gelowige ouers gedoop moet word nie, wil ek graag vra dat jy hierdie gedeelte krities moet lees en die gedeeltes in die Skrif wat ons gaan noem, saam bestudeer. Dit is belangrik dat hierdie nie ‘n onderwerp moet wees wat gelowiges van mekaar skei nie en dat ons saam moet kan gesels oor wat die Bybel ons aangaande die sakrament van die doop leer.
God bly dieselfde
Ons het al oor en oor gesien dat die God van die Ou Testament dieselfde God is van die Nuwe Testament. Hy is gister en vandag en tot in ewigheid dieselfde.
Vanaf die Ou Testament werk God met families. Aan Abraham, wat genoem word die Vader van alle gelowiges, word die teken van die besnydenis gegee. Genesis 17:7 En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. Die teken van God se verbond met Abraham is die besnydenis. In geloof het Abraham gedoen wat God van hom gevra het. Sy seun Isak word op agt dae, soos God gevra het, besny. Isak gee op hierdie stadium nog geen belydenis of aanvaarding van God se verbond nie. Hy is agt dae oud. Waarom word hy dan besny? Wat wou God aan die volk Israel kommunikeer? Oor en oor wys Hy aan hulle dat Hy die Een is wat verbonde maak en dat Hy die een is wat dit nakom. As jy na die Nuwe Testament gaan bring Paulus die teken van die besnydenis en die kruis van Christus bymekaar. Kolossense 2:11 in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus. Dus is die besnydenis wat ons as gelowiges ontvang nie fisies nie, maar iets wat geestelik plaasvind. In die volgende vers in Kolossense vertel Paulus dan wanneer die besnydenis plaasgevind het. Kolossense 2:12 omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. Alles is die werk van God. Hier sien ons ook dat ons doop ’n bewys is dat ons die inwendige besnydenis ontvang het. Ons is dus nie meer slawe nie, maar deel van die verbondsvolk en dus kinders van Abraham.
Die doop en die uitverkiesing
Twee voorbeelde; een uit die Ou en een uit die Nuwe Testament wys ons hoe God se uitverkiesing werk in die lewens van twee persone voor hulle nog enige besluit kon neem.
Jeremia:
Die eerste persoon waarna ek wil wys is Jeremia. God vertel vir Jeremia dat sy roeping lankal reeds plaasgevind het. Jeremia 1:5 Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet vir die nasies gemaak. Om te ken is dieselfde Hebreeuse woord en tydvorm as wat in Genesis 4 gebruik word vir Adam wat Sy vrou geken het en sy het swanger geword. Gen 4:1 En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE. Dit wil ons dus vertel van ’n intieme liefde wat God vir Jeremia gehad het voor sy geboorte. As dit vir jou vreemd is dat Jeremia alreeds aan God behoort voor sy geboorte luister wat Jesus bid terwyl Hy in Getsémané is. Joh 17:6 Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Jesus sê dat hulle eers aan die Vader behoort het en dat die Vader hulle, wat alreeds aan Hom (die Vader) behoort het vir Hom (Jesus) gegee het. Hy gaan dan vêrder in Sy gebed en vertel hulle hoe die Vader hulle liefgehad het. Johannes 17:23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het. Dieselfde liefde wat God die Vader vir Sy Seun het, het hy vir ons as gelowiges. Dus is dit wat God van Jeremia gesê het nl, dat Hy hom geken het nog voordat hy gebore is, waar vir elke gelowige.
Johannes die Doper
Die volgende persoon is Johannes die Doper. Johannes word ook alreeds voor sy geboorte deur God geroep. God vertel aan sy moeder Elisabet dat haar kind alreeds voor geboorte met die Heilige Gees vervul sal word. Lukas 1:15 want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. Daarom, toe hierdie klein Johannes in die moeder se skoot die stem van Maria hoor, het Hy opgespring van vreugde in sy ma se maag. Watter keuse het Johannes die Doper gemaak sodat hy op so ’n manier vervul sou word? Is dit nie God wat hom uitverkies het vir hierdie spesifieke taak nie? Dus hang dit nie af van jou ouderdom nie, maar van God wat jou uitverkies het. Daarom kan Dawid in die Psalm 22:11 skryf: Aan U is ek oorgegee van die geboorte af; van die skoot van my moeder af is U my God.
God en families
Ons sien die insluiting van families in God se verbond oral in die Nuwe Testament. Jesus ontmoet ’n tollenaar met die naam van Saggeüs en nadat Jesus by hom gaan eet het vind daar ’n transformasie in Saggeüs se lewe plaas. Hy maak voor almal teenwoordig sy belydenis van sy hart bekend. Jesus antwoord dan die volgende: Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ‘n seun van Abraham is. Lukas 19:9. Hoekom sy hele huis? Was dit dan nie net Saggeüs wat die belydenis gedoen het nie? As ons in Handelinge kom sien ons dieselfde gedagte dat, as iemand in die familie tot geloof kom, die hele familie in die verbond ingesluit word. Lidia en die tronkbewaarder is voorbeelde in Hoofstuk 16. Handelinge 16:14-15 En ‘n vrou met die naam van Lidia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. En toe sy en haar huisgesin gedoop is… Handelinge 16:33 En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense. Daarom, as Petrus op Pinksterdag vir die mense oproep tot bekering en om gedoop te word sê hy die volgende: Handelinge 2:39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
Geld dit vir alle kinders?
Hierdie belofte geld slegs vir die kinders van gelowige ouers. In 1Korintiers 7 skrywe Paulus aan mans en vroue wat met ’n ongelowige getroud was en die huwelik tot ’n einde wou bring, omdat die ander party ongered was. Paulus skrywe aan hulle dat hulle met hul man of vrou getroud kan bly, want God sal ’n wonderlike werk in die huisgesin doen. Eerstens vertel hy hulle dat God die ongelowige in die huwelik sal afsonder(heilig) a.g.v. die ander party wat gelowig is. Dit is nie dat die ander party ’n gelowige word a.g.v. sy eggenoot/te nie. Die woord “heilig” word as ’n werkwoord gebruik wat wys dat dit nie die toestand van die ongelowige aandui nie, maar ‘n handeling van God. Tog as Paulus in die vers oor die kinders van sulke ouers praat gebruik hy die byvoeglike naamwoord wat die toestand van die kinders beskryf as hy sê … die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. 1Korintiers 7:14. Dus is ’n kind van ongelowiges onrein, maar ’n kind van ’n gelowige is heilig. As Paulus aan gemeentes geskrywe het, het hy hulle heiliges (byvoeglike naamwoord) genoem. Die naam Heiliges sluit dus die kinders van die gelowiges in. As hulle dan deel is van die geestelike verbond, waarom sou ons die fisiese teken van hulle weerhou?
Slot
Soms twyfel ons oor ons kindskap, omdat ons nie “voel” soos God se kinders nie. Die doop is natuurlik nie die sekerheid dat jy gered is nie, maar dit is ‘n manier om jouself daaraan te herinner dat jy nie die een is wat jou redding bewerk het nie, maar God. As dit my keuse was kan ek more anders kies. Maar as dit God se keuse was, is dit geanker aan die Kruis. Selfs toe ek nog nie kon verstaan nie, het God my alreeds uitverkies en ‘n verbond met my ouers en met my gesluit, dat Hy die Een sal wees wat die pad met my sal stap. Dat Hy die Een is wat my redding moontlike gemaak het deur vir my sondes te betaal en dat Hy my oë sal oopmaak vir my verlore toestand sonder Hom. Hy sal die Een wees wat Sy heerlikheid aan my sal openbaar en my sal aantrek na Hom toe. Hy sal ook die Een wees wat die werk van heiligmaking in my sal volbring sodat as my tyd op aarde verby is ek skoon en vlekkeloos voor Hom sal kan staan.
My doop (as kind of as volwassene) herinner my nie net aan die afwassing van my sonde deur Sy bloed nie, maar ook aan my totale afhanklikheid van Sy werk in my.
