Vraag 72: Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde?
Antwoord: Nee, want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes.
Vraag 73: Waarom noem die Heilige Gees die doop dan die bad van die wedergeboorte en die afwassing van die sondes?
Antwoord: God sê dit nie sonder gewigtige rede nie. Hy wil ons naamlik daarmee leer dat die bloed en Gees van Christus ons sondes so wegneem soos die water die vuilheid van die liggaam wegneem. Verder wil Hy ons veral deur hierdie Goddelike waarborg en teken verseker dat ons net so werklik geestelik van ons sondes gewas is as wat ons liggaam uitwendig met water gewas word.
Inleiding
’n Trouring is ’n teken daarvan dat jy getroud is, maar jy kry verskillende tipes. Party het diamante in, jy kry silwer, goud, witgoud en vandag is party selfs van silikon. Die feit bly staan, selfs al haal ek my trouring af, ek is getroud en my ring herinner my aan die liefde en trou wat ek aan my vrou beloof het. Sonder ’n ring is ek nie nou ewe skielik ongetroud nie, net so is die koste van my ring nie ’n indikasie van my getrouheid of liefde vir my vrou nie. Dit is ’n teken. Net so is die doop met water ’n teken wat my aan my reiniging van sondes deur die bloed van Christus herinner.
‘n Teken ter herinnering
Die grootste gevaar vir gelowiges is wanneer hulle die sakrament begin beskou as die realiteit en nie dat dit na iets wys nie. Wat word hiermee bedoel? Baie keer kry ek die ervaring dat mense meer bekommerd is oor die water van die doop (as jy in die Jordaan gedoop is, is dit soveel meer heilig), hoe jy gedoop (besprinkel teenoor onderdompeling) en waar jy gedoop is as waarna die doop eintlik wys. Ons kry alreeds by Paulus die frustrasie dat mense meer bekommerd was oor wie hulle gedoop het as wat die doop beteken. Hy vra in 1 Korintiërs 1 of hy vir hulle gekruisig is en of hulle in sy naam gedoop is? 1Co 1:13 Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop? Hy sluit sy argument af deur vir hulle te sê dat hy nie gestuur is om te doop nie, maar om Christus te verkondig. 1Co 1:17 Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie. Die oomblik as mense die klem begin lê op hoe en waar die sakramente bedien word verloor hulle die betekenis van die sakramente. Dit is gewoonlik ook waar die kerke deur die geskiedenis geskeur het. Dit wat op die periferie staan word die sentrum gemaak en ons verskil so heftig hierin van mekaar dat ons Christus verloor. Tog bly die doop vir ons belangrik, alhoewel ons met Paulus saam stem dat ons nie gestuur is om te doop nie, maar om Christus te verkondig.
Deelgenote by wedergeboorte
Al is jy nog nooit gedoop nie of het nog nooit die nagmaal ontvang nie, het jy tog alreeds daaraan deel gekry by jou wedergeboorte. Die sakramente is daar om my op ’n fisiese en dus sigbare wyse te herinner aan dit wat ons alreeds in Christus ontvang het.
Die doop is dus nie self die afwassing van sonde nie, maar wys na die reiniging deur Christus se bloed en die reiniging wat deur die Heilige Gees plaasvind. Luister na Efesiërs 5:25-27. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. Was dit die water of Christus wat ons gereinig het as gemeente? Kan u sien hoekom dit belangrik is dat ons verstaan waaroor die doop gaan? As ons nie die inhoud van die nagmaal verstaan nie sal ons ons eie betekenis daaraan begin gee en kort voor lank word dit iets misties soos wat die nagmaal in die Rooms-Katolieke kerk is. In die Roomse kerk het hulle al hoe meer gewig geplaas op die brood en die wyn, sodat dit later vir hulle die werklike liggaam en bloed van Christus geword het. Die bloed en die brood was dus heilig en dit wat heilig is kon nie weggooi word nie, anders sou jy volgens hulle letterlik Christus se liggaam en bloed weggooi.
Net so was die betekenis van die offers wat die mense in die Ou Testament gebring het heenwysers en nie die ware item nie. Hebreërs 10:3-4 Maar in dié offers is daar jaar na jaar ‘n herinnering aan die sondes; want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Die offers was dus die wegwyser na die Een wat sou kom en deur Wie se sterwe daar vergifnis sou wees.
Hoekom doen ons dit dan?
Die vraag kan dan gevra word maar hoekom is dit enigsins nodig om die doop met die waterbad te vergelyk en dus met die afwassing? Christus wil hê dat jy daaraan herinner moet word dat, net soos jy nodig het om gewas te word met water sodat jy skoon kan kom, jy nodig het om deur Hom gewas te word van al jou sonde en ongeregtigheid. 1Jn 1:7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. Verder weet ons dat net so seker as wat ek skoon gewas word met water ek ook skoon gewas is deur die bloed van Jesus Christus. Die Bybel is vol feeste en gebruike wat die mens dwing om te onthou. Hy ken ons en weet dat ons alte maklik vergeet en fokus verloor. Na die volk die Jordaan oorgesteek het gee Hy opdrag dat hulle twaalf klippe op mekaar moet stapel, verteenwoordigend van elke stam – om te onthou. Die Heilige ark bevat Aaron se kierie, die kliptafels en die manna – om te onthou. Vir ons gee God die Heilige Nagmaal en die doop – om te onthou. Water is die enigste reinigingsmiddel wat ons het om ons klere en skottelgoed en selfs ons liggame te was. Hierdie fisiese teken dui op die feit dat die Bloed van Christus die enigste reinigingsmiddel vir ons siel is. Daarsonder sal ons vuil en vol sonde bly – sonder toegang tot ’n Heilige God.
Slot
Elke keer as ons die doop van iemand aanskou onthou ons opnuut wat Christus vir ons gedoen het en onthou ons opnuut ons eie doop en dat ons gewas is van sonde. Ons moenie dat verkillende gebruike rondom die doop ons van ander broers en susters in die geloof skei nie, maar moet onthou dat dit net ’n teken is. Solank as die teken waarna dit verwys vir almal dieselfde is, kan ons mekaar broer en suster noem. Ons kan verseker weet dat ons gereinig is van ons sondes en dat God die pad wat Hy met ons begin loop het enduit sal voer, sodat ons eendag volmaak en rein voor Hom sal staan.
