Sondag 21 Vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk? Antwoord: Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ‘n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ‘n lewende lid is en ewig sal bly.
Inleiding
Die gedagte aan “kerk” bring verskillende beelde en emosies by mense na vore. Vir die ouer as 50 is dit dalk die beeld van ‘n groot preekstoel en swaar orrel musiek, met ooms wat op pinkster te lank bid en tannies wat hoede dra. Ons sien ‘n wit gebou met ‘n hoë kerktoring en hoor ‘n kerkklok wat Sondae lui. Dit hang natuurlik af in watter denominasie jy groot geword het hoe hierdie prentjie vir jou ingekleur is. Die Heidelbergse kategismus wil egter dadelik hierdie beeld afbreek en vervang met die ware beeld van God se kerk.
Dit is nie ‘n gebou nie,
Kerk, met die hoofletter “K”, het sy ontstaan in Christus. Die Kerk is ’n lewende organisme wat sal aanhou groei totdat Christus sy Kerk as Sy bruid kom haal. Die grootte van die Kerk is alreeds met die grondlegging van die aarde bepaal, en Christus belowe dat Hy nie sal kom voordat die laaste persoon nie as deel van sy bruid ingesluit is nie. Dit beteken dat daar elke dag nuwe gelowiges aansluit by die Kerk al was hulle alreeds deel van die uitverkore plan van God. Romeine 8:29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders. Die kerk is dus mense, mense wat aan God die Vader behoort en gegee is aan die Seun. In Johannes 17 bid Jesus ’n gebed tot Sy Vader en Hy bely dat nie net die apostels nie, maar ook gelowiges, deur alle tye, alreeds aan die Vader behoort en dat die Vader die wat alreeds aan Hom behoort aan die Seun gee. In vers 6 praat Hy van die apostels as Hy sê: Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar. Dan in vers 9 vir die res wat ook nog gelowig sou word deur hulle evangelisasie: Ek bid vir hulle; Ek bid nie vir die wêreld nie, maar vir die wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort.
Dit is nie ‘n klub nie
Jy word nie lid van die Kerk van Christus deur jou ledegeld te betaal en aan sekere menslike reëls te voldoen nie. Nee, Jesus het die versoening vir ons bewerkstellig deur Sy kruisdood en daardeur word ons ingesluit in die familie van God en dus in die Kerk. Jou lidmaatskap is betaal deur die bloed van Jesus – jy is gekoop. Daar word van die begin af duidelik aangetoon dat die Kerk mense van alle nasies is wat deel sou vorm van Sy Nuwe Volk. In Genesis alreeds maak God dit aan Abraham bekend as Hy vir hom sê: “En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word.” Genesis 26:4. Openbaring, die laaste boek in die Bybel, bevestig dit as ’n koor van mense in die Hemel God besing en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie. Openbaring 5:9. Die kerk is dus nooit ’n eksklusiewe groep in ’n bepaalde nasie nie. Sovêr dit van ons as individue in ‘n plaaslike kerk afhang wil ons graag hê dat elke kerk in die kleine, sovêr moontlik, hierdie eenheid reflekteer.
Die is nie ‘n besigheid nie.
Hoe suksesvol jou besigheid vandag is hang af van jou omset en wins. Hoeveel mense kom deur jou deure en hoeveel kerkprogramme en welsynsorganisasies word deur jou kerk ondersteun? Watter nuwe programme en vermaak kan deel van die erediens gemaak word om die wêreld te lok en die kerk te laat groei? Hierdie is vrae waarmee baie sogenaamde kerke hulle besig hou. Die werk van mense inbring, geestelike groei en instandhouding van die kerk word egter verrig deur die Heilige Gees en die Woord. God bevestig aan Jesaja wat met die koms van die Messias sou plaasvind. Jesaja 59:21 Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die HERE: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die HERE, van nou af tot in ewigheid nie. Hier word dit bevestig dat die werking van die Gees en God se woorde ewig sal wees en kenmerkend sal wees aan hulle wat bekeer is. Die Gees maak ons lewendig en stel ons in staat en gee ons die begeerte om vir God te lewe. Hy gebruik die Woord in ons lewens om ons te lei en te versterk sodat ons geestelik kan groei sodat ons elke dag meer soos die Seun sal lyk.
Dit is nie ‘n eenmansaak nie.
As gelowige is ek nou die tempel van God en is ek “Kerk” Die Bybel is egter duidelik dat ons moet deel vorm van ‘n gemeenskap van gelowiges. Baie kinders van die Here het geen liefde vir die Kerk nie en wil glad nie daarvan deel wees nie. Die Kerk is egter Jesus se bruid. Kan jy werklik sê jy het Christus lief, maar jy haat sy bruid? Nee, ek kan nooit los van die Kerk of ’n plaaslike kerk staan nie. Hebreërs 10:25 en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom. Die samekoms van die gelowiges is die plek waar God met my as individu besig is. Hier word ek gevorm en gesnoei en nederigheid geleer. Dit is dikwels hier waar ek getoets word in ware broederliefde. C.S. Lewis skryf in Screwtape Letters dat daar goedhartigheid en boosheid in elke mens is, en dat die duiwel ons aanmoedig tot boosheid teenoor ons broers en tot goedheid teenoor die wat ons nie ken nie. So word ons gewete gesus. Dit is broederliefde wat ware opoffering vra. Wanneer jy gevra word om van jouself te gee op tye wat dit jou nie pas nie, om te gee wanneer jyself sukkel, om te vergewe, en lief te hê wanneer jy van ‘n broer of suster verskil. In die plaaslike kerk moet ek dus aktief leef as ’’n lewende lid. Dit is hier wat ek leer om te sterf in myself en vir ander tot diens te wees. In 1Johannes is dit duidelik dat die gelowiges mekaar moet liefhê. 1Johannes 3:14 Ons weet dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe, omdat ons die broeders liefhet. Hy wat sy broeder nie liefhet nie, bly in die dood. Ek kan dus nie bely dat ek lewendig gemaak is deur die Heilige Gees en lid is van die Kerk maar nie lief is vir my mede broers en susters in die Here nie. Hierdie liefde is egter ook tot my beskikking en dit is in die kerk waar ek bemoediging, teregwysing en ware liefde sal ontvang.
Dit is nie ‘eksklusief’ nie.
Daar is geen taal, velkleur, status of enige menslike standaarde wat jou lidmaatskap bepaal nie. God het dit bepaal. Enige groepie wat hulself eksklusief wil hou op grond van enige mensgemaakte standaarde, sê C.S. Lewis, kweek bewondering na binne en haat na buite. Dit is nie ‘n kenmerk van God se Kerk nie. Die Kerk is wydverspreid oor die wêreld en ons het susters en broers in alle lande. Sommige van hulle word erger as ons vervolg en moet baie keer met hulle lewens betaal. Nie net behoort ek deur hulle lyding geraak te word nie, maar ek behoort ook plaaslik, waar God my geplaas het, ’n liefde hê vir my mede broers en susters.
Dit is nie tydelik nie
Wat ook duidelik is vanuit die Skrif is dat hierdie groep individue wat deur God uitverkies is, ingebring en dan vasgehou word tot in ewigheid. Niks van God se plan is afhanklik van die mens nie. Daar sou vir ons geen hoop gewees het as God nie in Homself dit vir ons kom doen het nie. Hierdie lidmaatskap het dus nie sy ontstaan in my nie en dus sal dit ook geen einde hê nie. 1Korintiers 1:7-9 …terwyl julle wag op die openbaring van onse Here Jesus Christus, wat julle ook sal bevestig tot die einde toe, om in die dag van onse Here Jesus Christus onberispelik te wees. God is getrou, deur wie julle geroep is tot die gemeenskap met sy Seun Jesus Christus, onse Here.
Slot
Die Kerk behoort aan God die Vader, en is Sy geskenk aan Sy Seun, Jesus Christus, wat in gehoorsaamheid tot die dood toe, ons vrygekoop het as Sy bruid. As deel van sy Kerk kan jy rus in die wete, God het jou gekies, Christus het jou gekoop en die Heilige Gees het jou lewend gemaak en sal jou vorm tot jy as mede broer of suster van Jesus vir ewig saam met God sal leef.
