Vraag 53: Wat glo jy van die Heilige Gees?
Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God. Ten tweede is Hy ook aan my gegee sodat Hy my deur ‘n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, my troos en ewig by my bly.
Inleiding
Die misverstaan van die Heilige Gees is vandag die bron van soveel skeiding en verwarring in die Kerk van Christus. Sommige denominasies is so bang vir die werking van die Heilige Gees dat hulle Hom totaal misken, terwyl ander weer krag toertjies aan die werking van die Gees toeskryf en die ware werking van die Gees verdraai. Is Hy nie maar net die gees van God, soos wat ek en jy ook elkeen liggaam en gees is nie? Is Hy ‘n persoon of ‘n krag? Baie sulke vra word gevra. Jou verstaan van die Heilige Gees is deel van jou Godsbeeld. Die Bybel is duidelik oor die Persoon en die rol van die Heilige Gees.
Waarlik God
Eerstens is dit belangrik om te onthou dat elkeen van die Drie-eenheid gees is behalwe die tweede persoon (Jesus), wat nou ook volkome mens is na Sy menswording op aarde. In die gesprek wat Jesus met die vrou by die put het, laat Hy haar duidelik verstaan dat God gees is. Johannes 4:24 God is gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. Die eerste fout wat jy maak is om te dink dat God die Vader soos ons is en om te vergeet dat Hy gees is. As ons dit onthou sal dit baie misverstande rakende die persoon van die Heilige Gees uitskakel. As die Bybel dus van die gees van God praat is dit nie asof die Vader se gees die Heilige Gees is nie. Nee die Vader is gees en die Heilige Gees is gees. Van die begin af leer ons dat die Gees alreeds daar is. Gen 1:2 En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. Van die vroegste tye in die vroeë Kerk is die Drie-eenheid verkondig. Jesus se opdrag aan die apostels as Hy hulle uitstuur is ’n duidelike aanduiding van die Drie-eenheid. Mattheus 28:19 Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. Wat het ons meer nodig om duidelik te bewys dat daar ’n Drie-eenheid is en dat elkeen waarlik deel is van die Godheid.
In die Bybel word dit duidelik dat die Gees ‘n persoon is waarvoor ons kan lieg en vir wie ons kan bedroef. As Ananias en sy vrou Saphira lieg oor die bedrag wat hulle met die verkoop van hul huis gemaak het en net ‘n gedeelte daarvan na die gemeente bring, wys Petrus hulle soos volg tereg. Handelinge 5:3-4 Toe sê Petrus: Ananias, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. Hy het gelieg vir die Heilige Gees wat duidelik daarop wys dat die Gees ’n persoon is. Verder word die Heilige Gees ook in hierdie gedeelte identifiseer as God self as Petrus in vers 4 sê dat hulle nie vir mense gelieg het nie, maar vir God.
Die Gees van God binne ons
Die Heilige Gees word ook identifiseer as die Een wat binne ons kom woon en weereens, daarmee saam, bevestig dit dat die Een wat in ons kom woon God is, wat Sy woning in ons kom maak. 1Korintiers 3:16-17 Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.
Die Gees bevestig in ons lewens dat ons kinders van God is. Galasiërs 4:6-7 En omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Daarom is jy nie meer dienskneg nie, maar kind; en as jy kind is, dan ook erfgenaam van God deur Christus. Hier word die Heilige Gees ook genoem die Gees van die Seun. Hy word die Gees van die Vader en die Gees van die Seun in die Skrif genoem. Hy is die gestuurde van die Vader en ook die gestuurde van die Seun, maar dit is nie omdat Hy nie waarlik God is nie, nee, soos Jesus die rol aangeneem het om vir ons te sterwe en verlossing vir ons te bewerk, het die Heilige Gees die rol aangeneem om ons lewendig te maak en ons te lei deur in ons te woon. Weereens is dit goed om om op te let dat die gedeelte bevestig dat Hy ’n persoon is, aangesien Hy uitroep in ons. Die Gees se inwoning in die gelowige se lewe is ook ’n bewys dat die persoon aan God behoort. 2Korintiers 1:21 Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het. “Onderpand” beteken dat die Heilige Gees die betalingsbewys is dat alles klaar betaal is en dat ons aan God behoort. Daar was al kere wat ek by ’n winkel iets groot gekoop het en dan my voertuig moes neem na die stoor waar hulle die groot artikels hou. Ek moes dan die betalingsbewys gelewer het dat ek in die winkel alreeds vir die produk betaal het. As gevolg van hierdie bewys het ek dan die artikel ontvang en kon ek dit huis toe neem. Net so is die Heilige Gees ’n betalingsbewys. Die inwoning van die Gees gee my as gelowige die versekering dat ek aan God behoort. Efesiërs 1 bevestig dit weereens as daar staan:”in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte, wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.”Efesiërs 1:13-14. Die Gees sal my nooit verlaat nie. Daar sal nooit ’n dag kom waar die Heilige Gees sal sê: “Dit was nou genoeg – ek los jou nou alleen” nie. Hy het die werk in my begin en sal volhou daarmee.
Bewys van kindskap
Die vraag kan dan tereg gevra word: “Wat is die bewys van die Gees se teenwoordigheid in my lewe?” Tekens en wonders is glad nie ’n bewys daarvan nie aangesien die valse profete en die antichris dit sal doen. Mattheus 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Nee die bewys van sy teenwoordigheid is ’n pad van heiligheid in my lewe. 1Petrus 1:2 uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word! Die Heilige Gees se werking in my lewe is om my as Sy kind te verander na die Beeld van die Seun. Elke dag en maand en jaar vind daar ’n vernuwing in my lewe plaas. Dinge wat voorheen vir my aanvaarbaar was, maak my nou ongemaklik omdat ek deur die Heilige Gees daaroor aangekla word. Nie net word ek bewus van sonde in my lewe nie, maar die Gees stel my ook in staat om in gehoorsaamheid aan God se opdragte te lewe. Filippense 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.
Slot
Die Heilige Gees is die Persoon van die Drie –Eenheid, wat my oë kom oopmaak het vir die wonder van God en my kom wys het op my sonde en hopelose toestand sonder die Verlossing van Jesus Christus. Hy is nie daar vir allerhande waarsêery en snaakse omval toertjies nie – nee, Hy is daar om my te help om te leef sodat ek vir God gelukkig maak. Hy wys my tereg, maak my bewus van my sonde, gee my krag om met die vrug van liefde, vrede, vreugde, geduld, vriendelikheid (Vrug van die Gees) vir God te dien. Sonder Hom sou ons kragteloos wees in ons stryd teen die sonde. Mag Hy ons opnuut versterk om voluit in oorwinning vir God te leef.
