Hoe word jy getroos deur die wederkoms van Christus om die lewendes en die dooies te oordeel?
Antwoord: Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het. Verder: dat Hy al sy en my vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my, saam met al die uitverkorenes, na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid saamneem.
Inleiding
Nog ‘n dag is verby, nee, nog ‘n maand …‘n jaar, en dan kyk jy eendag in die spieël en jou hare is grys en jou kinders almal uit die huis. Die son kom op en gaan onder en die seisoene kom en gaan. Vandag gaan dit goed, more verloor ek ‘n geliefde of my werk of besigheid. Wat is die sin, wat is die hoop? Dit: Jesus Christus, ons Verlossing, Koning en Vriend kom weer om ons te kom haal, om ons te bevry, vir ewig, van hierdie doodsbestaan na een van heerlikheid en blydskap, saam met Hom. Vreesloos kan ons as gelowiges op Hom wag, omdat Hy alle vervloeking van ons weggeneem het.
Vaste Hoop
Die wederkoms van Christus was en is nog steeds die hoop waaraan gelowiges vashou. Die hoop in die Grieks is ’n sekerheid wat vasstaan en nie ’n “miskien” of “dalk”, soos wat dit baie in Afrikaans gebruik word: “Ek hoop dit gaan môre reën”, of: “Ek hoop ek kom die eksamen deur” nie. Hoop is dus nie ‘n werkwoord nie, maar ‘n selfstandige naamwoord. Dit is iets tasbaar – ‘n geskenk aan elke gelowige deur die kruisdood van Jesus. Vir diegene wat toegewy aan Christus lewe is dit die wenpaal – die bestemming – die einddoel van ons bestaan. Daarsonder sou ons rigtingloos wees.
Tog het soveel Christene hierdie geskenk verruil vir ‘n goedkoop namaaksel. Die hoop op gesondheid, welvaart en geluk in hierdie vervalle wêreld, het die Ewige Hoop van Christus vervang. Sommige het geen verwagting of hoop dat Christus weer moet terugkom nie, want daar is nog te veel dinge wat hulle nog wil bereik of ervaar. Die lewe is te lekker. Die Bybel belowe egter vir elke gelowige dat hulle in hierdie lewe swaar tye sal beleef. Dat hulle verdrukking sal ervaar en hier nie gereken sal word nie. Ek wonder baie keer of die grootste rede hoekom ons nie ’n afwagting het op die wederkoms nie, nie is dat ons nie deur lyding gaan vir ons geloof nie. Net soos die wederkoms ’n sekerheid is, is dit ook ’n sekerheid dat gelowiges sal ly vir die evangelie. 2Timoteus3:12 En almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word. Die “sal” is ’n definitief en nie bloot ’n moontlikheid nie. In Romeine word die gelowige opgeroep om hom/haarself in die hoop te verbly al gaan ons deur verdrukking. Romeine12:12 verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. Omdat ons dan vervolg sal word sal daar by ons, net soos in die natuur, ‘n afwagting wees dat Christus weer moet kom. Christus se koms gaan vir die natuur en so ook vir ons ’n verlossing teweegbring. 2Thessalonisense 1:6-7 aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele. Watter vreugde en vooruitsig!
Gebed
Ons het soos die weduwee waarvan Jesus in Lukas 18 vertel, ’n aanhoudende gebedsversoek dat Hy aan ons reg sal laat geskied. Hierdie weduwee kom na die regter van die stad en vra dat daar aan haar reg sal geskied teenoor haar teenstander. Sy word deur Jesus met die uitverkorenes vergelyk wat dag en nag tot God roep om reg aan hulle te laat geskied. Hierdie gelykenis gaan oor die wederkoms van Christus waarvoor die gelowige onophoudelik bid. Ons sien dieselfde in Openbaring by die siele wat deur die groot verdrukking gegaan het en voor die altaar in die Hemel is. Openbaring 6:9-10 En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? Hierdie persone pleit dat God hulle bloed moet wreek op die bewoners van hierdie wêreld. Hier gaan dit nie oor wraakgedagtes teenoor ‘n spesifieke persoon waarvoor ek bid dat God sy wraak op hom/haar sal uitoefen nie. Nee, die Bybel is baie duidelik dat ek my vyande moet liefhê en selfs moet bid en dié seën wat my vervolg. Mattheus 5:44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg. Ons begeerte is na ’n finale straf van ongelowiges en ons finale vereniging met Christus.
Regter en Verlosser
Met Christus se wederkoms is daar vir die gelowige ’n afwagting van verlossing maar vir die ongelowige ’n dag van vrees en pyn. Die ongelowiges gaan in vrees en bewing wees met Christus se wederkoms. Openbaring 6:15-16 en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Ryk, arm, magtig en slaaf, ja almal sal vreesbevange wees as Hy kom op die wolke. Dit is ook interessant om op te let waarvoor en vir wie hulle bang is, nl. die Vader wat op die troon sit en die Lam(Christus) se toorn. Christus se woede as Hy weer kom, sal mense laat vrees. Dan sal die oordeel plaasvind vir die ongelowiges. Mattheus 25:41 Dan sal Hy ook vir dié aan sy linkerhand sê: Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele. ’n Ewige vuur, weg van die aangesig van die Een wat ons as gelowiges smag om weer te sien soos Hy is. 1Johannes 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.
Slot
Die gelowige het geen burgerskap hier op aarde nie, ons is hemelse burgers. Filippense 3:20 Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus.Ons het ’n hemelse tuiste waarna ons uitsien en ons het ’n afwagting om voor die troon van God te verskyn. Watter ontvangs sal daar nie wees vir die gelowiges nie! Mattheus 25 vertel dat ons aangespreek sal word as geseëndes van die Vader. Mattheus 25:34 Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af.
Hou vas aan hierdie belofte – Jesus kom weer om jou te kom haal. Maak dit jou hartsbegeerte, want waar jou hart is daar sal jou gedagtes ook wees. En niks in hierdie wêreld sal ‘n houvas op jou kan kry nie. Niks sal jou kan onderkry nie. Jou koning leef, en Hy kom weer. Maak dit die gebed van jou hart: Kom Here Jesus, kom gou!
