Sondag 19. Hy regeer!

Vraag 50: Waarom word daar bygevoeg: en sit aan regterhand van God? Antwoord: Christus het na die hemel opgevaar sodat Hy Hom daar as die Hoof van sy Christelike kerk kan betoon, deur wie die Vader alles regeer.

Vraag 51: Watter nut bring hierdie heerlikheid van ons Hoof Christus vir ons?

Antwoord: Ten eerste dat Hy deur sy Heilige Gees die hemelse gawes in ons, sy lede, uitstort. Ten tweede dat Hy ons met sy mag teen alle vyande beskerm en bewaar.

Inleiding

Die beeld van Christus wat sit aan die regterhand van God die Vader is ‘n beeld van mag en gesag. Hy is mede heerser en regeer saam met Sy Vader oor alles. Hy is ook die hoof van die Kerk. Die Kerk van Christus is nie ’n instansie, denominasie of ’n gebou nie. Dit is die liggaam van Christus op aarde, waarvan Jesus die hoof is. Enige kerk wat hulself die Kerk van Christus wil noem, maar Hom nie die middelpunt van hul bestaan maak nie – is net ’n klub. Daar is niks belangriker in die Kerk as Hy nie. Hy is die fokus. Die hele kerkliggaam se funksionering is geheel en al afhanklik van Jesus se bestuur. Sy Woord is die handves van elke besluit en die kerk het nie ’n mandaat om daaraan te verander soos wat die morele standaarde van die tyd verander nie. Sommige kerke sal wel beweer dat Jesus die middelpunt en fokus van hul bestaan is, maar die Jesus wat hulle verkondig en aanbid is nie Jesus, ons Here, soos wat Hy homself aan ons openbaar deur Sy skrif nie. Die ware Kerk is egter altyd duidelik onderskeibaar van die wêreld.

Alles is volbring

Jesus het nie net in die Hemel opgevaar nie, maar Hy het gaan sit aan die regterhand van God die Vader. Die sit aan die regterhand beteken dat Hy, saam met die Vader, mede regeerder is van alles. Hy het gaan sit, want alles is volbring. Alles het plaasgevind soos wat die Drie-eenheid voor die grondlegging van die aarde besluit het dit sou. Geen mens se besluite of keuses kon God se plan omvêrwerp nie. God wys vanuit die Skrif dat selfs die bose Farao alles gedoen het sodat God verheerlik kon word. Romeine 9:17  Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. Baie Christene sukkel met hierdie gedagte of die gedagte dat die wreedste plan van die mens, wat uitgeloop het op Christus se kruisiging, die plan van God kon wees. Handelinge 4:27-28  Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat U hand en U raad vooruit bepaal het om plaas te vind. Het God die slegte wat hulle gedoen het veroorsaak? Nee, beslis nie, maar God kan die slegte van die mens gebruik om sy doel en plan uit te voer.

Hy sit ook omdat nie net die verlede volbring is nie, maar ook die toekoms. Hy regeer nie net oor die verlede nie, maar ook oor die toekoms. Daar is geen gesag of mag wat nie onder Sy regering staan nie. Efesiërs 1:20-21  wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. Elke mag en krag is onder Sy bestuur. Psalm 2:9  U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.

Sy Kerk is veilig

Deur alle eeue was hierdie die Blye boodskap. In die vroeë Kerk, onder die verdrukking van die Romeinse regering, het gelowiges geweet dat dit nie saak maak wat die regering of heersers aan hulle doen nie –  God is in beheer en Sy Kerk sal nooit vernietig word nie. Kan jy onthou wat Jesus aan Sy volgelinge gesê het rakende Sy Kerk? Mattheus 16:18 En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Niks sal dit oorweldig nie. Die Kerk sal bly voortbestaan totdat Christus terugkeer. Die Kerk sal bly voortbestaan, solank as wat daar gelowiges op aarde is, want ons is die Kerk – ons is Sy liggaam.

Baie gelowiges raak verskriklik bekommerd oor die nuwe wetgewing rakende Godsdiens in ons skole en op ander openbare plekke. Mense is al hoe meer aggressief en onverdraagsaam teenoor die boodskap dat Jesus die enigste Weg en Waarheid is. Ons vakansiedae word weggeneem, ons mag op  baie plekke nie meer met die Woord van God byeenkomste open nie.

Jesus sit egter aan die regterhand van die Vader as heerser oor Sy Kerk en solank as wat Sy kinders in die gange en klaskamers van ons skole beweeg is Sy Kerk daar. Solank as wat Sy kinders in vergaderings of by sportbyeenkomste sit, is Sy Kerk daar. Hy het belowe dat nie eers die poorte van die doderyk dit sal oorweldig nie, so waarvoor is ons bang?!

Hy beskerm en bewaar

Ons is bang omdat ons nie leef vanuit die skat van hemelse gawes wat Hy  in ons uitgestort het nie. Ons is bang omdat ons bekommerd is oor aardse dinge, terwyl die grootste skat wat ons het, nooit van ons af weggeneem kan word nie. Jesus sit en heers en niks sal ons kan skei van die liefde wat daar in Hom is nie. Elke gelowige behoort terdeë daarvan bewus te wees dat niks ons van Hom kan skei nie. Romeine 8:38-39  Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Hy het gesterf vir diegene wat die Vader Hom gegee het en hulle sal in ewigheid nooit verlore gaan nie. Christene hoef nooit bang te wees vir die duiwel of sy magte of vir enige ongelowige nie, aangesien hulle nooit ons saligheid en verlossing in Christus kan steel nie. Johannes 10:28  En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.

Geestelike gawes

Deur die Heilige Gees het ons deel aan al die geestelike gawes wat in die hemel is. Hoekom leef ons dan nie met oorwinning nie? Gelowiges het partykeer net nodig om weer vir die Here te vra om ons oë oop te maak soos Hy die oë van Gehasi, die dienskneg van Elisa se oë oopgemaak het. Daar was ’n oormag wat rondom die huis van Elisa en Gehasi was vreesbevange. 2Konings 6:15  En toe die dienaar van die man van God vroeg opstaan en uitgaan, was daar ‘n leër met perde en strydwaens rondom die stad. En sy dienaar sê vir hom: Ag, my heer, hoe sal ons maak? Elisa vertel Hom dan  dat Hy nie moet vrees nie, want dié wat met hulle was, was meer as dié wat teen hulle was. Elisa het die Here gevra om Gehasi se oë oop te maak sodat Hy kon sien. 2Konings 6:17  En Elísa het gebid en gesê: HERE, open tog sy oë, dat hy kan sien. En die HERE het die oë van sy dienaar geopen, dat hy kon sien, en meteens was die berg vol perde en waens van vuur rondom Elísa. Wat  gebeur as ons geestelike oë oop is? Stefanus kon voor die Joodse raad praat en ten spyte van die feit dat hulle kwaad geword en op hulle tande gekners het oor wat hy vir hulle vertel het, kon hy sonder vrees aanhou praat, omdat Hy Christus sien staan het aan die regterhand van God. Handelinge 7:55  Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God.

Slot

Is jou oë oop? Sien jy hom regeer? Of is jy vreesbevange vir wat mense miskien aan jou kan doen? Ons kan nie op ons eie krag vertrou of daarop roem nie. Ons kan alleenlik die wêreld ingaan met die vaste wete dat ons Verlosser leef en dat Hy regeer oor alles. Psalm 20:8  Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar óns sal roem op die Naam van die HERE onse God.