Waar is Christus?

Vraag 47: Is Christus dan nie by ons tot die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie? Antwoord: Christus is ware mens en ware God. Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie, maar wat sy Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy nooit meer van ons af weg nie.

Vraag 48: Maar as die mensheid nie oral is waar die Godheid is nie, word die twee nature in Christus dan nie van mekaar geskei nie?

Antwoord: Nee, glad nie. Die Godheid kan immers deur niks ingeperk word nie en is orals teenwoordig. Hieruit moet volg dat die Godheid wel buite sy aangenome mensheid is, maar tog ook daarin is en persoonlik daarmee verenig bly.

Inleiding

Daar is baie onsekerheid rondom hierdie onderwerp by baie Christene en baie mense, die oomblik as hulle met hierdie vrae gekonfronteer word, kom hulle agter dat hulle nog nie werklik hieroor sekerheid het of in diepte daaroor gedink het nie. Hoewel ons die “hoe” van hierdie antwoord verseker nie aan hierdie kant van die ewigheid kan verstaan nie, kan ons wel die werklikheid daarvan leer en aanvaar – Christus het as mens opgevaar, maar is geestelik teenwoordig by elkeen van ons – en hier praat ek nie van geestelik kragtens die Heilige Gees nie.

Jesus het die aarde liggaamlik verlaat

Jesus het sy dissipels herhaaldelik voorberei dat Hy hulle sou verlaat. Mattheus 26:11  “Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.” Hy vertel hulle ook dat Hy na Sy Vader sou gaan. Johannes 16:28  “Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader.”  Nou kan ons met reg vra: “Het Hy nie gesê Hy sal altyd by ons wees nie? Is dit nie wat Hy vir Sy dissipels belowe het voordat Hy opgevaar het in die Hemel nie?” Mat 28:20 “ En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. Hy vertel hulle ook dat Hy hulle nie as wese sou agterlaat nie.” Johannes 14:18  “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” Ons verstaan dat Hy sy volgelinge belowe dat Hy Sy Gees vir hulle sal stuur, maar in hierdie gedeeltes praat Hy tog van Homself. Sê Hy nie ook verder dat dit nie net Hy is wat by ons sal kom woning maak nie maak ook die Vader. Johannes 14:23  “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” Wat ’n wonderlike vers om te weet dat die Godheid by my kom woning maak! Tog is die vraag of hierdie gedeeltes dan nie mekaar weerspreek nie? Hoe verlaat Hy ons en tog is Hy met ons?

Waarlik God en waarlik mens

Om dit te verduidelik het ons nodig om te besin oor Christus se twee nature. Hy is waarlik God en waarlik mens. In Christus se koms na die aarde het Hy die menslike natuur aangeneem en het dit onlosmaaklik deel van Hom geword. Jesus was nie mens en toe Hy opgestaan het uit die dood was Hy gees nie. Nee na sy opstanding verskyn Hy nie net aan Sy volgelinge nie, maar hulle kan aan Hom raak en hulle kan die merke aan Sy hande en Sy sy sien. Hy is dus nog steeds waarlik mens. Met Sy hemelvaart sou Hy nog steeds waarlik mens wees. In Openbaring as Hy aan Johannes verskyn op Patmos herken Johannes Hom as die Lam wat geslag is. Openbaring 5:6  En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Ons ontvang ook in Filippense die belofte dat ons liggame verander en vernuwe sal word soos die van Christus. Filippense 3:20-21 Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp. Ons liggame gaan word soos Sy verheerlikte liggaam.

Noudat ons vanuit die Skrif sien dat Hy nou nog waarlik mens is hoe kan Hy dan by ons wees en tog ook in die Hemel wees. Jesus as God is teenwoordig saam met die Vader en die Gees by elke gelowige. Hy is alomteenwoordig. Hy kan oral wees op dieselfde oomblik. Jeremia 23:24  Sou iemand hom in skuilplekke kan wegsteek dat Ek hom nie sien nie? spreek die HERE. Vervul Ek nie die hemel en die aarde nie? spreek die HERE. Hy het dus nie opgehou om waarlik God te wees nie. Salomo het dit baie goed verstaan. Op die dag wat Hy die tempel wat Hy vir God gebou het aan God wy, bely hy dat God nie ingeperk kan word in ’n gebou nie. Dat dit nie is asof Hy ’n plek maak waarin die Here sou woon nie. 2Kronieke 6:18  Maar sou God werklik by die mense op die aarde woon? Die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het!As jong seun onthou ek hoe gefrustreerd my pa geraak het as predikante mense in die erediens welkom geheet het met: “Welkom in die huis van die Here.” Nie net was dit Ou-Testamenties nie, maar tot die Ou-Testamentiese mens het verstaan dat die Tempel nie God kon inperk of Sy “huis” was nie. Vandag woon Hy in elke gelowige en ook oral in die heelal. Daar is nie ’n plek waar Hy nie is nie!

In sy menslike natuur is Hy in die Hemel soos wat Hy ook belowe het en in die menslike natuur kan Hy nie oral wees nie. Daarom lyk dit vir ons, met die eerste lees van die tekste, of dit mekaar weerspreek as Hy vertel dat Hy ons sal verlaat en tog ook sê dat Hy altyd by ons sal wees. As dit moeilik is om te verstaan is dit omdat ons nie met ons menslike verstand God se Goddelikheid kan verstaan nie. In alles wat ons oor Hom sê gebruik ons menslike taal wat beperk is en God nooit ten volle kan beskryf nie. Ons is werklik besig om net in die spieël van ons menslike verstand na God te probeer kyk en dit is maar ’n dowwe spieël. 1Korintiers 13:12  Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. Ons aanvaar dit op grond van geloof en nie op grond van wat ons kan sien of verstaan nie.

Slot

God is met ons – hy maak by elke gelowige woning as Vader, Seun en Heilige Gees. Hy is ook in die hemel en die tweede persoon van die Drie-Eenheid, Jesus, is ons Hoëpriester wat daar vir ons voor die Vader intree en besig is om die hemel vir Sy kinders voor te berei. Ons kan met oortuiging sê dat maak nie saak waar jy is nie, God is daar. Glo dit en leef in sy teenwoordigheid!