Vraag 46: Wat verstaan jy onder: wat opgevaar het na die hemel?
Antwoord: Christus is voor die oë van sy dissipels van die aarde af na die hemel opgeneem en Hy is vir ons daar ten goede totdat Hy terugkom om reg te spreek oor die lewendes en die wat alreeds gesterf het
Inleiding
Jesus was weg. Voor die oë van sy dissipels het Hy in die hemel opgevaar totdat Hy uit hul visie verdwyn het en hulle Hom nie meer kon sien nie. Hulle moes leeg en verlate gevoel het, al het Hy hulle verseker dat Hy weer sal terugkeer – al het Hy hulle verseker dat Hy iemand in Sy plek sal stuur wat vir hulle nog beter sal wees as om Hom by hulle te hê. Hul Vriend en Verlosser en die Koning van die Koninkryk waarin hulle mede heersers sou wees, was weg.
Sy koninkryk is nie van hierdie wêreld nie
Jesus het sy volgelinge van vroeg in sy bediening begin voorberei dat Hy sou sterf en opstaan en dan na die Hemel sou terugkeer. Die dissipels wou Hom by hulle gehad het. Hulle het ’n verlange gehad na ’n aardse koninkryk, waar Hy die Koning is en hulle die manne wat langs hom sou sit in ere posisies. Tog het Jesus dit bevestig dat sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie en dat dit beter vir hulle sou wees as Hy terugkeer van waar Hy gekom het. As Hy dan opvaar na die Hemel doen Hy dit voor sy dissipels as ’n getuienis vir hulle. Handelinge 1:9 En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.
EK het al baie keer gewonder hoe dit sou wees as ek vandag fisies in Jesus se teenwoordigheid kon wees? Soms as ons hartseer is en iemand nodig het om ons te vertroos voel die Here so ver weg. Iemand moet my vashou, mooi woorde vir my sê en my laat beter voel oor myself. Iemand moet naby wees om my te vertel dat alles hier reg sal uitwerk en dat ek niks het om oor bekommerd te wees nie. Ons voel ons verhouding met Jesus is eintlik eensydig, met myself wat my hart uitstort, my vrae vra, my hart leeg huil en dan wag vir ‘n antwoord wat nooit kom nie. Of ek lees die Woord, maar die Here praat en antwoord my nie direk nie. In elk geval nie direk soos wat ‘n vriend of vriendin dit sou doen nie. Ons weet ons moet ons troos en vreugde in Jesus vind, maar vir baie voel dit na ’n abstrakte idée – die idée van ‘n warm kombers en kaggel op ‘n koue wintersaand is net nie die dieselfde as om werklik snoesig toegedraai voor ‘n warm kaggel te sit nie.
Hoekom is sy heengaan dan vir ons soveel beter? In die volgende weke gaan ons gesels oor al die voordele dat Hy Hemel toe gegaan het, maar hier gaan ons aandag gee aan wat ons verstaan as ons sê Hy het opgevaar. Hoekom is dit hoegenaamd ‘n dag wat ons as Christene vier. Die antwoord lê in die feit dat ons as mens so vasgevang is in die fisiese koue wat ons elke dag beleef, dat ons nie die geestelike kombers en kaggelvuur kan ervaar nie.
Fisieke beperkings.
Ja vir alle praktiese, fisiese doeleindes is Jesus weg. As jy Hom vandag fisies op aarde sou soek, sal jy Hom nie kry nie. Hy het voor die oë van sy dissipels as getuies, opgevaar. In Sy fisiese liggaam het Hy dieselfde beperkings ervaar as wat ons ervaar. Ons kan nie op meer as een plek gelyk wees nie. Ons kan nie almal gelyk help nie. Ons het net twee ore en twee hande en al sou ons sondeloos wees en almal wou help en bystaan sou dit fisies onmoontlik gewees het. Jesus het twaalf dissipels gehad waarmee hy ‘n intieme verhouding kon bou. Ons sou nie eers naby Hom kon kom nie en sou soos die vrou met bloedvloeiing moes probeer om aan sy klere te raak – en selfs dan sou dit sukkel. Sou ons vir ure lank met Hom kon praat – of sy troos beloftes kon hoor en verstaan? Sou ons Sy hartklop in ons siel hoor en voel hoe ons harte warm raak van Sy liefde? Sou Sy Gees ons kon wys watter pad om te kies en ons teregwys as ons verkeerd doen – sodat ons op die regte pad kan bly? Sou manne van God deur Sy Gees geïnspireer sy Woord aan ons kon neerskryf, sodat ons Hom kon leer ken? Sou die Christen in Australië dieselfde tyd tot Hom kon nader as die een in China, Afrika en Amerika?
Hy is in die Hemel
Jesus het opgevaar. Hy het fisies in die wolke verdwyn, maar die Woord verklaar dat Hy sit aan die regterhand van God, waar Hy as Hoëpriester in die Hemel vir ons verskyn. Hebreërs 9:24 Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn. Hy verskyn as hoëpriester vir elke gelowige wat deur die eeue tot geloof gekom het. Watter voorreg om te dink dat Christus, wat nooit kan sterf nie, elke oomblik vir my intree deur Sy dood aan die kruis en die volkome versoening wat vir ons as gelowiges bewerk is. Daarom kan niemand ons voor die Vader aankla nie. Romeine 8:34; Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree. As ons struikel of sondig en ‘n aanklag kom, is dit Christus wat voor die Vader intree en sê: “hy/sy behoort aan My, ek het ten volle vir hom/haar betaal” So weet ons as gelowiges dat ons ten volle gered is. Hebreërs 7:25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Daar hoef nooit by die gelowige enige vrees of twyfel te wees of Christus werklik ten volle vir hom/haar betaal het nie. Jy kan verseker weet dat jy verlos is van die ewige Hel. Die gelowige hoef nie te vrees vir die ewige straf nie. 1 Johannes 4:17-18 Hierin het die liefde by ons volmaak geword, dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag; want soos Hy is, is ons ook in hierdie wêreld. Daar is geen vrees in die liefde nie, maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.
Hy sal terugkeer
Wat ons verseker moet weet is dat Hy, net soos Hy gegaan het, ook sal terugkeer. Handelinge 1:11 wat sê: Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. As Hy weer terugkeer gaan dit nie meer wees as ’n nederige dienskneg nie, maar as Heerser van die heelal, as Koning om te oordeel. Hy sal oordeel tussen die skape en die bokke en hulle van mekaar skei. Mattheus 24:30 En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid. Vir ons as gelowiges sal dit die wonderlikste dag wees as ons Hom sien kom op die wolke, maar die wêreld sal huil en vrees. Dit sal ’n dag wees soos geen ander nie. Kan jy jou indink dat elke ateïs en selfvoldane person wat God verwerp en gelaster het, sal skreeu dat die berge op hulle moet val en die heuwels hulle moet bedek? Openbaring 6:15-16 en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge,en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam. Sy wederkoms sal dus in toorn wees.
Slot
Omdat Jesus opgevaar het, kan Hy nou ten volle by elkeen van ons wees. Die fisiese beperkings is vernietig en elke gelowige kan ‘n verhouding met Hom hê. As ons elke dag sy teenwoordigheid soek en Sy Woord bestudeer sal ons Hom vind as meer as net ‘n abstrakte gedagte aan troos en vreugde, maar as die enigste bron daarvan. Ons soeke na die fisiese vertroosting van ander mense sal vervaag voor die intensiteit van ‘n werklike verhouding met Hom.
Ons as gelowiges kan verseker wees dat niks ons kan skei van die liefde wat daar in Christus is nie en ons weet verseker dat Christus elke oomblik vir ons intree by die Vader. Hy kon ook weer terug om ons as Sy bruid te kom haal. Maak dit jou nie opgewonde en dankbaar nie?
Kom, Here Jesus, kom
