Vraag 43 Die ou mens is dood!?

Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis? Antwoord: Deur sy krag word ons ou mens saam met Hom gekruisig, gedood en begrawe. Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie, maar kan ons onsself as ‘n dankoffer aan Hom toewy.

Inleiding

Die kruisdood van Christus het nie net die dood oorwin nie, maar ook die lewe. Dit klink dalk vir jou vreemd, maar elkeen van ons besef tog dat ons nie hier geplaas is om net uit te sien na ons dood nie, maar ook om te lewe. Hierdie lewe is egter vir die gelowe ’n stryd om te sterf. Wat bedoel ek hiermee? Vir baie mense is blote oorlewing, in ’n fisiese sin, ’n stryd, maar vir die gelowige is daar dikwels nie so seer ’n stryd om oorlewing nie, maar ’n stryd om te sterwe – ja om te sterwe aan ons sondige begeertes en die eie “ek”.

Saam met Christus gekruisig

Aan die kruis het Christus vir my ten volle betaal. My sonde is deur Hom gedra en daar is vryheid bewerk. Die Bybel gaan vêrder en sê dat ek ook saam met Christus gekruisig is. Dit was ’n eenmalige proses saam met Christus. Elke persoon deur die eeue wat geglo het, sowel as die wat nog gaan glo ,het saam met Christus gesterf aan die kruis. Galasiers 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. In Romeine 6:6 word dit bevestig dat ons saam met Hom gesterf het. Romeine 6:6  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Ons is dus nie meer onderworpe aan ons vleeslike begeertes nie. Die vleeslike is dood en die ou mens leef nie meer nie. Ons kan nie meer leef soos ons geleef het voor wedergeboorte nie. Ons wandel nie meer in die donker nie, maar in die lig. 1Johannes 1:6  As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie.

Transformasie

Daar moet ’n transformasie plaasvind van die ou na die nuwe mens. In Romeine beskryf Paulus dit baie goed. Hy vertel in die gedeelte dat ons as gelowiges nie soos hierdie wêreld moet lyk nie, maar dat ons verander moet word deur ons denke te vernuwe, sodat ons nou ons denke bring in lyn met God se wil. Romeine 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. As jy wonder hoe ons kan weet wat God se wil is, wel dit is in Sy Woord aangeteken. Die Woord in hierdie gedeelte vir verander is die Griekse woord μεταμορφοῦσθε. Ons kry die woord metamorfose van hierdie woord. Die woord wat gebruik word vir die lewensiklus van ’n ruspe na ’n skoenlapper. Watter ongelooflike verandering vind nie plaas nie? Eerstens lyk hulle nie dieselfde in hierdie twee fases nie. Tot ’n klein seuntjie/dogtertjie sal sonder om te huiwer vir jou kan wys watter een die wurm en watter een die vlinder is. Net so moet die verskil tussen die gelowige en ongelowige duidelik wees. My manier van praat is anders as die wêreld s’n. Efesiers 4:29  Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ‘n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. My begeertes is nie meer soos die wêreldse begeertes nie. 1Johannes 2:16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. Die dinge van die wêreld moenie meer die rigting van my lewe bepaal nie. Ek wil nie meer gehoor gee aan die vlees se begeertes nie. Om voort te bou aan die  metafoor van die skoenlapper en die ruspe –  my smaak en kos moet ook verander. Ek hou nie meer van dieselfde dinge as toe ek in die wêreld was nie. Die lewe van die wêreldse mens is leeg en stel nooit tevrede nie en hiervoor is my oë geopen deur die Heilige Gees. Van gras na die nektar van ‘n blom, watter transformasie?!  Die Woord is nou my nektar en die smaak is onverbeterlik. Ek is verder soos ’n skoenlapper omdat ek nou die dinge soek wat daarbo is en nie meer die aardse dinge nie. Kolossense 3:1  As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit.

By die gelowige heers die sonde dus nie meer oor hom/haar nie. Romeine 6:12  Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. Dit word ook verduidelik in 1Johannes dat ons nie kan aanhou in die sonde leef en bely dat ons gelowiges is nie. Die gelowige bely en laat staan sy sondes elke dag. Hy/sy gaan nie maar net voort met sondig nie. Daar is nie meer ’n vashou aan die sonde of ’n gemak met die sonde nie. Ons het nou ’n weersin teen die sonde. Paulus skryf dat ek nie meer die verkeerde wil doen nie. Romeine7:15  Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. Die vraag is dus nie of jy nie meer sonde doen nie, maar of jy nou die sonde haat. Gelowiges is nie mense wat die dinge laat staan wat hulle graag wil doen nie, maar is mense wat so verander is dat hulle nou nie meer die verkeerde wil doen nie en daarom die verkeerde laat staan. Ons wil verander word na God se wil. Ons sterf elke dag aan ons eie begeertes.

In my sterwe en my opstanding het daar ’n verandering plaasgevind. Die ou mens is dood. Ek wil nou my hele lewe as ’n offer aan Hom gee. Romeine 12:1  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. My vleeslike mens lei nou honger en die geestelike word gevoed met God se Woord. 1Korintiërs 9:27  Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie. Die rede waarom so baie gelowiges nie vry kan kom van sekere sondes waaraan hulle vashou nie, is omdat hulle die verkeerde voed. Jy kan nie jou vlees (die sonde) kos gee en dan verwag dat jy sterk genoeg sal wees om dit te oorwin nie. Hoe minder ek dit voer hoe swakker word die begeertes in my lewe en hoe minder het ek ’n hunkering daarna.

Slot

Die kruisdood van Christus het nie net vir ons lewe na die dood bewerkstellig nie, maar ook dood tydens die lewe. ‘n Dood van die ou mens en ’n wedergeboorte van die nuwe mens. ’n Dood van die wurm na die lewe van ’n skoenlapper. Dood vir die sonde, maar lewend vir en deur Christus. Hoewel hierdie gebeurtenis geskied met wedergeboorte, volg ’n daaglikse sterf van jouself en ’n oorgawe aan die Een wat nou in jou leef. Elke keer as die ou, eie ek, vol sonde weer wil opstaan, moet dit opnuut gekruisig word en herinner word aan die nuwe lewe waartoe jy nou oorgegaan het. Sy krag sal jou help om hierdie nuwe lewe as ’n totale dankoffer, elke dag aan hom te wei. Ten volle dood, sodat ons ten volle kan Lewe!