Sondag 16 Die dood is oorwin!

 Vraag 40: Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood toe verneder het?

Antwoord: Weens die geregtigheid en waarheid van God kon nie anders as deur die dood van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie.

Vraag 41: Waarom is Hy begrawe? Antwoord: Om daarmee die versekering te gee dat Hy werklik gesterf het.

Vraag 42: As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe? Antwoord: Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sondes nie, maar slegs ‘n afsterwe van die sondes en ‘n deurgang tot die ewige lewe.

God praat die waarheid

God het Adam en Eva gewaarsku dat as hulle van die boom van Kennis van Goed en Kwaad sou eet hulle sekerlik sou sterwe. Genesis 2:17 “…maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” Dan kom die duiwel, net soos vandag en vra of God dit dan werklik gesê het? Sou hulle werklik sterwe. As ons die verhaal dan verder lees en sien dat Adam en Eva nie werklik in ons oë fisies sterwe nie, maar net verban word uit die teenwoordigheid van God, wonder ons – het God hulle dan net gedreig? Verseker nie!. Die loon van die sonde is die dood – fisies sowel as geestelik. Die mens het die geestelike dood onmiddellik met die sondeval ervaar, maar ook van daardie oomblik af het die mens fisiese begin sterf.

Hierdie dood het die hele mensdom deurtrek. Van die eerste oomblik dat hulle gesondig het, het hulle liggaamlik begin sterf. Hulle verhouding met God het gesterf en sonde het oor hulle die oorhand gehad.

Christus ons Verlosser van die dood

Daar was geen manier vir die mens om vry te kom van die gevolge van die sonde nie.  Indien ons wel hierdie straf net sou vryspring, maak dit God tot leuenaar. Die plan, voor die grondlegging van die aarde, was dat Christus hierdie straf sou kom dra vir diegene wat God uitverkies het. Die ewige dood was voor ons almal se deur, net soos die verhaal van die doodsengel wat deur Egipte beweeg het en alle oudste seuns doodgemaak het. Daar was net een manier om die lewe van jou kind te verseker. Die lam moes in sy plek sterf en die bloed van die lam moes aan die deurkosyn gesmeer word. Net so, moes Christus in die vlees kom om te doen dit wat ons nie in staat is om te doen nie. Hebreërs 2:14-15  Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel— en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was.

Watter mag het die duiwel?

Die vraag kan gevra word watter mag die duiwel het ten opsigte van die dood? Is dit nie dat lewe en dood in die mag van God is nie en dat Hy lewendig en doodmaak nie? Deuteronomium 32:39  Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie. Die dood as straf is deur God bepaal, nie die duiwel nie. Die dood van enige mens word deur God bepaal, nie die duiwel nie. Die duiwel se mag in die dood het te make met die oorwinning wat die Satan oor ’n lewe behaal as daardie individu sterf. By elke persoon se dood is daar geen meer kans vir Verlossing nie. Indien die persoon nie die Bloed van die Lam as versoening van Sy sondes aanvaar het nie, is daar geen meer hoop tot Lewe nie. Die persoon is geestelik en fisies dood. Ongered. Verlore. Dit is finaal. Om hierdie rede lewe die mens in vrees vir die dood. Daar is geen omkeer meer nie. Die dood is nie net fisies nie, maar die ewige dood wat binnegegaan word is ’n plek waaraan daar geen einde is nie, ’n plek waaroor Jesus meer waarsku as enige iemand anders. Markus 9:44  waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie. Wat sal iemand nie gee om vry te kom van die ewige dood nie? Dit is ’n vraag wat Jesus vir sy volgelinge vra. Markus 8:37  Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?

Die dood is oorwin?

Jesus antwoord sy eie vraag van Markus 9:44 deur te sê dat ons hierdie kant van die ewigheid moet sterwe aan ons self. Sy antwoord op die mens se vrees vir die dood was om self te sterf in ons plek en so die angel van die dood weg te neem vir elke gelowige. 1Korintiers 15:55-57  Dood, waar is jou angel? Doderyk, waar is jou oorwinning? Die angel van die dood is die sonde, en die krag van die sonde is die wet. Maar God sy dank, wat ons die oorwinning gee deur onse Here Jesus Christus. Om hierdie vryheid te bekom moet ons Hom volg sodat ons net soos Hy kan opstaan in die Ewige Lewe – vry van die ewige dood. Jy gaan of aan hierdie kant sterf vir die vlees of vir ewig die dood ervaar.  Die vraag is egter nou – hoekom sterf ons dan nog? Die gelowige sterf nooit nie – nee, ons vertrek. Ons word gereeld in die Woord herinner dat hierdie lewe net tydelik is en dat ons hier slegs bywoners is – ons werklike tuiste is in die Hemel by God. Wanneer ons sterf op aarde is dit slegs ons fisiese liggame (ons tente) wat sterf, maar wie jy werklik is – jou gees – vertrek na jou ewige tuiste en jy maak as gelowige jou oë oop in die teenwoordigheid van jou Verlosser, Jesus Christus, of as ongelowige in die hel – verewig verwyder van God. Jesus vertel dit onomwonde aan Martha in Johannes 11:25-26  Jesus sê vir haar: Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie. Glo jy dit?

Die ewige dood is die straf vir sonde – nie die fisiese dood nie. Christus het gesterf om ons te bevry van die ewige dood. Die vraag  in die Heidelbergse belydenis oor waarom ons dan ook moet sterf as Christus dan in ons plek gesterf het word beantwoord deur ons daarop te wys dat die dood wat ons sterf hier op aarde net ’n afsluiting van ons fisiese lewe is. Christus het alreeds alles betaal en die dood is vir die gelowige slegs ’n oorgang van die tydelike tot die ewige.

Ons hemelse tuiste

Ons oorgang na die ewige lewe begin alreeds die dag as ons weergebore word. Elke dag is daar ’n stryd in ons lewe om te sterf in onsself en Christus te laat leef in ons. Wanneer ons hierdie liggaam finaal verlaat sal ons volkome vry wees van hierdie stryd. Hoe wonderlik sal dit nie wees om vir ewig vry die wees van die vleeslike begeertes waarteen ons op ’n daaglikse basis ’n stryd voer nie. Hebreërs 12:4  Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. Paulus verduidelik dit in Romeine 7 as dit wat ek nie meer wil doen nie en tog nog steeds doen. Romeine 7:15  Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. Daarom is daar by die gelowige ’n verlange om vir ewig vry te wees van hierdie vleeslike liggaam. Filippense 1:23  Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste. Natuurlik sit die gelowige nie in sak en as totdat dit gebeur nie. Nee ons het vreugde en vrede te midde van ons stryd want ons wandel in die teenwoordigheid van ons Verlosser.

 Slot

Al is daar hierdie stryd weet ons dat die oorwinning klaar behaal is. Ons het alreeds oorgegaan van die dood in die lewe. Johannes 5:24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Die maklikste om dit te verduidelik is aan die hand van ’n metafoor. Soms as ’n dier sterf sien jy dat die dier nog steeds beweeg. Die spiere trek styf en verslap onwillekeurig al is die dier alreeds dood, bv. ’n slang waarvan die kop afgekap is terwyl die stert nog steeds beweeg. Dit is die geestelike toestand waarin ons ons op ’n daaglikse basis bevind. Ons is alreeds dood vir die sonde, maar elke nou en dan trek dit styf in spasmas asof ons nie daaroor beheer het nie. Wat ’n wonderlike vreugde kan die gelowige nie ervaar nie, wetende dat hierdie net tydelik is. Na elke val kan ons opstaan. Ons kan vergifnis ontvang.  Daarom verlang ons om ten volle vry te wees en saam met Christus vir ewig te wees – Hy wat deur Sy dood ons lewendig kom maak het.