Vraag 37: Wat verstaan jy onder die woordjie: gely?
Antwoord: Dat Christus na liggaam en siel tydens sy hele lewe op aarde, maar veral aan die einde daarvan die toorn van God teen die sonde van die hele menslike geslag gedra het. So het Hy met sy lyding as die enigste versoeningsoffer ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf.
Vraag 38: Waarom het Hy onder die regter Pontius Pilatus gely?
Antwoord: Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God wat oor ons moes kom.
Vraag 39: Sit daar iets meer in dat Christus juis gekruisig is en nie op ‘n ander manier gesterf het nie:
Antwoord: Ja, want daardeur is ek seker dat Hy die vervloeking wat op my gerus het, op Hom geneem het, omdat die kruisdood deur God vervloek is.
Inleiding
Elke mens op aarde het al een of ander vorm van lyding ervaar. Siekte, mishandeling, verlies, teleurstelling en vervolging is maar net voorbeelde van ’n lewe op aarde wat, hierdie kant van die ewigheid, altyd gevul sal wees met lyding. Die graad daarvan verskil egter en iets wat jy dalk as lyding sien is in vergelyking met iemand anders se pyn, gering. As ons egter dink aan Christus se lyding is dit lyding op ’n totaal ander vlak. Ja, sommige daarvan was lyding soos dit wat ek en jy verstaan, kragtens sy menslikheid. Hy was egter ook God en hier verander sy lyding in iets wat ons as mens nie kan begryp nie.
Lewe van lyding
Ons moet besef dat alhoewel Christus se lyding die felste was aan die kruis, was sy hele lewe ’n lyding na liggaam en siel. Sal ons ooit kan verstaan wat dit van God gevra het om mens te word en onder ons te kom wandel? Die Bybel vertel vir ons dat die lewe van die mense van Sodom en Gomorra vir Lot ’n foltering was. 2 Petrus 2:6 “en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ‘n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees; en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense; want deur wat hy gesien en gehoor het, het dié regverdige man, wat onder hulle gewoon het, dag vir dag sy regverdige siel gepynig oor hulle wettelose werke”. Die woord in die Grieks vir “gekwel” word ook in Handelinge 7:24 gebruik. “en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan.” Die lewenswandel van die goddelose mense om hom, was vir Lot ’n bron van intense pyniging. As Lot, as blote mens met baie foute, hierdie intense pyn ervaar het, kan ons ons indink hoeveel pyn ons Verlosser moes deurmaak, as die volmaakte en vlekkelose Lam van God? As God moes Hy die sonde was Sy skepsels op ’n daaglikse basis beleef. Daagliks gekonfronteer word deur selfs die gebrokenheid van die wat die naaste aan hom was. Hoeveel keer verstaan hulle hom verkeerd net omdat hulle so op die fisiese ingestel is? Hy wil hulle waarsku teen die Fariseërs se leer en hulle dink die suurdeeg waarvan Hy praat is omdat hulle nie brood saamgebring het nie. Markus 8:15-16 En Hy het hulle beveel en gesê: Pas op, wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van Herodes. Toe redeneer hulle onder mekaar en sê: Dit is omdat ons geen brode het nie. Dít nadat Hy nou net die brood vermeerder het. Kon hulle dan nie verstaan nie? Dan weer, as Hy hulle vertel van sy lyding, gaan hulle voort om Hom te vra of hulle in die koninkryk aan sy regter en linkerhand kan sit. Markus 10:33-36 Kyk, sê Hy, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene; en hulle sal Hom bespot en Hom gésel en op Hom spuug en Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan. En Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, het na Hom gekom en gesê: Meester, ons wil hê dat U vir ons moet doen wat ons U ook al mag vra. En Hy sê vir hulle: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? Hoeveel lyding moes Hy nie deurmaak nie?
Behalwe hierdie emosionele pyn was daar ook die fisiese lyding van moeg en honger en dan die versoekings waaraan Hy onderwerp is. Die skrywers van die belydenisskrif wil dit om hierdie redes duidelik maak dat die lyding nie begin het in Getsémané nie, maar dat sy hele lewe gekenmerk is deur lyding. Ek dink baie mense mis hierdie feit aangaande Jesus se lewe. Hulle dink Hy was vol grappe en ’n “lekker ou”. Jesaja beskryf Jesus as: Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Jesaja 53:3
Toorn van God
Die ergste was egter die lyding van die toorn van God wat Hy moes dra in ons plek. God haat die sonde. Hoe maklik kom daar nie ’n uitspraak van ongelowiges dat die God van die Ou Testament ’n wrede en ’n ongenaakbare God is nie? Hiermee stem baie teoloë en sogenaamde gelowiges ook saam. Volgens hulle is dit asof die God van die Nuwe Testament meer ligtelik omgaan met sonde – ’n meer genadige God is. Die ware gelowige kyk egter na die Ou Testament en kan nie verstaan hoekom God nie net die mens al lankal uitgewis het nie? Niemand in die Ou Testament verdien enigsins God se genade nie. Hy wandel in die Israeliete se midde gedurende die woestyntog en as jy lees wat hulle alles aanvang is dit ‘n wonder dat hulle dit enigsins lewend maak tot in die beloofde land – en dit nog met God se hulp en seën! ’n Heilige God word elke dag deur die gekerm en gekla en ontevredenheid van ’n losbandige volk gekonfronteer. Hoe genadig moes Hy wees om hulle te laat leef?! Die Nuwe Testament gaan vêrder en bevestig vir ons dat God se toorn nogsteeds oor die mensdom is. Romeine 1:18-19 Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. “ God is dus vol woede teenoor die wêreld. Efesiërs bevestig dat ook ons, as gelowiges onder daardie toorn was. Efesiërs 2:3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. In die Nuwe Testament word dit uitgebeeld hoe Jesus in absolute toorn teenoor die sonde terugkeer. Openbaring 14:19-20 En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, twee honderd myl ver. Wat het gebeur dat ons as gelowiges nie meer onder die toorn van God is nie? Die Bybel leer ons dat Christus die toorn van God aan die kruis vir ons, wat sy kinders is, gedra het. Nou staan ek nie meer onder Sy toorn nie, maar wel onder sy genade en liefde. 2Korintiers 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.
Hy, die onskuldige, word as die skuldige behandel. God wys duidelik dat Jesus onskuldig is, deur die verklaring van Sy onskuld deur ’n heidense regter wat Hom gevonnis het. Lukas 23:14 Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waarvan julle Hom beskuldig nie. Hy het uit sy eie Sy lewe vir ons gegee sodat ons in Hom die Vryheid kon smaak, losgekoop van die slawerny van die sonde en die toorn van God.
Slot
Jesus het mens geword, Hy het met mense bemoeienis gemaak, Hy het elke dag die sonde om Hom beleef en het as gevolg daarvan in Sy lewe gely. Verder nog het Hy ons lief en daarom het Hy al ons sonde op Hom geneem en tot die dood toe gely. As dit nog nie vir jou duidelik is nie – jou en my sonde was die oorsaak van Sy lyding – Sy hele lewe en sterwe van lyding. Hoe is dit dan dat ons nog aanhou met sondig? Hoe is dit dan dat ons so ligtelik na sonde kyk en sê: “Ag Hy sal my mos maar vergewe!” Mag ons weer op ons knieë gaan, met trane in ons oë, en besef wat Hy vir ons gedoen het. Sal ons ooit die prys van ons verlossing ten volle verstaan!?
Dankie, Jesus, dankie.
