Vraag 36 Middelaar!

Vraag 36: Watter nut verkry jy uit die heilige ontvangenis en geboorte van Christus? Antwoord: Dat Hy ons Middelaar is, en met sy onskuld en volkome heiligheid my sonde waarin ek ontvang en gebore is, voor God bedek.

Inleiding

Soms as ‘n lammetjie gebore word, gooi die ooi dit weg of die ooi vrek tydens geboorte. So ’n lam kan óf hans grootgemaak word, óf, as ’n ander ooi se lam weer vrek,  kan ‘n ander plan gemaak word. Die vel van die dooie lam word oor die wees-lammetjie gegooi en dan sal die ooi die weggooi/wees-lam as haar eie aanvaar, alles op grond van die reuk van die dooie lam, wat nou die reuk van die wees/weggooilam bedek.  Hierdie is tipies wat gebeur wanneer die mens se geboorte toestand deur Jesus, die perfekte lam, verander word.  Jesus se lewe van perfekte onskuld en heiligheid, word oor my getrek en bedek my sonde voor die Vader. Daar is soveel meer wat plaasvind as dit, in die feit dat ons volkome deur God aangeneem word en nou ten volle deel word van Sy familie. Dit alles begin egter by Jesus en sy offer vir ons.

Perfekte middelaar

Ons word telkemale in die Skrif daarop gewys dat die mens na die sondeval nie meer direkte toegang tot God gehad het nie. Daar is nou ’n middelaar tussen die mens en God nodig. Een wat tussen God en die mens kan staan. Vir die middelaar in die ou verbond moes dit ’n vreesaanjaende werk gewees het. Kan jy dink al die reëls en regulasies wat die priester moes onthou om na te kom voor hy voor God kon verskyn? Aaron se seuns verloor hulle lewens omdat hulle offers bring in stryd met hoe God dit bepaal het. Levitikus 10:1  En die seuns van Aäron, Nadab en Abihu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. Het hulle dit aspris gedoen? Hoekom was God se straf so erg? Vir ons wat lewe in ’n tyd waar alles oor die mens en sy regte gaan en hoe wonderlik die mens is, is dit moeilik om dit te verstaan. Ons idee is dat God net te bly moet wees oor enige offer wat ons bring. God wys die volk dat Hy Heilig is en dat jy nie kan verander aan Sy wette van offer of aanbidding nie. God is nie oop vir die gedagte dat jy Hom kan aanbid op jou manier solank jy maar net opreg is nie. Die mens moet buig en jou neerlê by wat God bepaal.  ’n Voorbeeld hiervan is dat God bepaal het dat die priester klokkies op sy kleed moet dra as hy voor die Here verskyn. Wat sou gebeur as hy nie die kleed gedra het wat God bepaal het nie? Eksodus 28:35  En Aäron moet dit aanhê om te kan dien, sodat die geluid daarvan gehoor word as hy in die heiligdom, voor die aangesig van die HERE, ingaan en as hy daar uitgaan, dat hy nie sterwe nie. Kan u verstaan hoekom dit nodig is dat die middelaar Heilig moet wees?

Geen mens kan al die wette en regulasies voor God nakom nie. Die priester het vir ‘n kort tydperk dit gedoen en een maal per jaar vir die  volk ingetree deur ’n offer te bring. Christus is die volmaakte middelaar wat, sonder sonde en volkome heilig, vir ons voor God kan staan, nie net een maal in ’n jaar nie, maar vir altyd. Hebreërs 7:25-27  Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so ‘n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het. Hy is die volmaakte offer. Nou is die vrees vir ons weggeneem. Ons kan nou elke oomblik voor God verskyn en meer as dit, Hy kan by ons woon omdat ons heilig verklaar is voor die Vader deur die seun se versoening.

Moses – heenwyser na Christus

Moses in die Ou Testament was ook die voorbeeld van so ‘n Middelaar wat sou kom. Hoeveel kere het die volk nie gesondig in die woestyn nie? Nadat hulle die kalf gemaak het, het God vir Moses gesê: Verder het die HERE met my gespreek en gesê: Ek het hierdie volk aangesien, en kyk, dit is ‘n hardnekkige volk. Laat My staan dat Ek hulle verdelg en hulle naam onder die hemel uitdelg; en Ek sal jou ‘n nasie maak wat magtiger is en meer as hulle. Deuteronomium 9:13-14. Moses tree dan vir die volk in voor God. Luister na wat Moses vir die volk sê: “Want ek was bang vir die toorn en die grimmigheid waarmee die HERE op julle so toornig was, dat Hy julle wou verdelg; maar die HERE het my dié keer ook verhoor. Deuteronomium 9:19. Was dit dat God van gedagte verander het? Die Bybel is baie duidelik dat God nie ’n mens is en van gedagte verander nie. Numeri 23:19  God is geen man dat Hy sou lieg nie; of ‘n mensekind dat dit Hom sou berou nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, of spreek en dit nie waar maak nie?  Wat het dan hier gebeur? God wys duidelik dat die volk ’n middelaar nodig het wat sal intree vir die volk anders sal Hy hulle uitwis. God kan dus nie saam met die mens wandel sonder ’n middelaar nie. Moses was ’n heenwysing na Christus wat sou kom. Met Moses se dood moes nog ’n middelaar opstaan om sy plek in te neem. Hulle was slegs tipes wat ook vasgevang was in sonde en daarom kon selfs Moses nie in die beloofde land ingaan nie as gevolg van sy eie sonde. Die middelaar het ook ’n middelaar nodig gehad. Christus kon alleenlik die middelaar wees van die Ou en Nuwe Testamentiese mens en van jou en my. 1Timoteus 2:5  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus.

Hoe wonderlik is dit nie om te weet dat Christus dit vir my moontlik gemaak het om saam met God te wandel nie. Die tuin van Eden het vir elke gelowige ’n realiteit geword, maar ons wandel nie net meer in die aandskemering saam met Hom nie, maar elke oomblik van die dag en nag.

Ons sonde bedek/uitgewis

Tog is daar soveel meer. Nie net is Hy my volmaakte middelaar nie, maar in Hom is My sonde bedek, uitgewis. 1Korintiers 1:30  Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem. Sy lewe op aarde, as mens sonder sonde, is ook my geregtigheid. Daar is geen manier dat die mens wat in sonde ontvang en gebore is die wet van God kan nakom nie. Christus het die lewe kom leef  wat ek nooit kan leef nie. Alles wat Hy gedoen het was in gehoorsaamheid aan die Vader. Hy vervul al die vereistes van die wet. As Johannes die Doper weier om Jesus te doop, omdat Jesus sy meerdere is, sê Jesus vir Johannes: Laat dit nou toe, want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul. Daarna het hy Hom toegelaat. Mattheus 3:15. Jesus se lewe, van doen wat “reg” is, word dan oorgedra op ons. Ons word dus nie net regverdig deur Sy offer nie,( Psalm 32:1  ‘n Psalm van Dawid; ‘n onderwysing. Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is.) maar Sy lewe wat Hy geleef het word my lewe. Ek ontvang sonder verdienste sy geregtigheid.

Slot

As Jesus se lewe dan nou my lewe word, hoekom probeer ek nog om reg te leef? Ek  het dan alreeds Jesus se lewe as my eie!

Nou word ons lewens gekenmerk deur dankbaarheid! Ons wandel nou in gehoorsaamheid aan Hom en wil in alles aan die Heilige Gees gehoorsaam wees. Ek reken dat Romeine hierdie die beste saamvat.

Romeine 8:3-4  Want God het wat vir die wet onmoontlik was, omdat dit kragteloos was deur die vlees deur sy eie Seun in die gelykheid van die sondige vlees te stuur, en dit ter wille van die sonde, die sonde veroordeel in die vlees, sodat die reg van die wet vervul kon word in ons wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. 

As kinders van God ontvang ons die Heilige Gees wat ons verander en vernuwe om te word dit wat ons alreeds is in Jesus Christus – Heilig en volmaak! Ons lewe nou na die Gees, uit dankbaarheid teenoor Hom wat my sonde bedek, Jesus ons perfekte offer en middelaar.