Sondag 14 Waarlik God en waarlik mens!

Vraag 35: Wat beteken: wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria? Antwoord: Dat die ewige Seun van God, wat ware en ewige God is en bly, die ware menslike natuur uit die vlees en bloed van die maagd Maria deur die werking van die Heilige Gees aangeneem het. So is Hy tegelykertyd die ware nakomeling van Dawid, in alles aan sy broers gelyk, behalwe die sonde.

Inleiding

Hierdie is een van daardie feite wat baie gelowiges net aanvaar, maar nooit werklik oordink nie. Tog is die maagdelike geboorte een van die knelpunte in gesprekke met ongelowiges. Sommige gelowe sal die bestaan van Jesus erken en selfs erken dat Hy ‘n profeet was, maar die maagdelike geboorte ontken. Die oomblik as jy erken dat Hy uit ‘n maagd gebore is, erken jy die Goddelike natuur van Jesus. Dit verstom my dat gelowiges so baie keer onkant gevang word, deur byvoorbeeld die Jehovah’s, as hulle verklaar dat Jesus nie God is nie. Vir baie is daar ’n gevoel dat die Bybel nie regtig duidelik ’n uitspraak maak dat Jesus God is nie. Die Skrif is egter baie duidelik oor Jesus se Goddelikheid en die meerderheid van gelowiges moet erken dat ons eintlike probleem dieselfde is as wat God aan Israel gesê het: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis” Hosea 4:6.

Jesus is God

Ons het al verskeie kere gedurende ons hantering van die belydenisskrifte hierdie punt  aangaande die tweede persoon van die Drie-eenheid se Godheid aangeraak. In 1 Johannes 5:20 word vir ons vertel dat die Seun van God gekom het om vir ons verstand te gee om die Waaragtige te ken. En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die Waaragtige te ken; en ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe. Dit beteken dus dat Jesus God aan ons openbaar het. Johannes 1:18 bevestig dit deur te sê: Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar. Die waaragtige is dus God. Kyk dan weer na 1 Johannes 5:20. Nadat Johannes verklaar dat Jesus God die Vader kom openbaar vertel hy ons dat Jesus Christus ook die waaragtige God is. Verder in Johannes 1:1 In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Eers verklaar die Skrywer dat Jesus Die Woord is en dat alles deur Hom ontstaan het en dan verklaar hy dat die Woord God is.

Jesus is mens

Ons kan dus sonder enige onsekerheid sê dat die Bybel verklaar dat Jesus God is. Hy wat ware God is, het egter mens geword, deur die maagdelike geboorte uit Maria. Hy het die menslike natuur aangeneem. Hy het soos ons geword. Dit word onomwonde verklaar deur die belydenisskrifte met die bewys dat Hy gebore is uit die maagd Maria. Hy is gebore uit die vrou maar sonder ’n man. Hy is dus uit die natuur van die mens en het vlees en bloed geword – om aan ons gelyk te word.

Sy geslagsregister is opgeteken op twee plekke in die Nuwe Testament. Miskien het jy nog nooit agtergekom dat die twee geslagsregisters verskil nie. Die rede hiervoor is dat Mattheus die koninklike lyn van Dawid wil bevestig deur die man se geslagsregister te volg, omdat hy aan die Jode skrywe. Lukas, die dokter wil Maria se lyn bevestig, wat ook deur Dawid hardloop. Partykeer spring ons oor die geslagsregisters terwyl dit baie skatte het wat daarin opgesluit is as jy net die Bybel beter leer ken. Dit word oral in die Ou Testament geprofeteer dat Jesus uit die lyn van Dawid gebore sou word en die psalmdigter sê: Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon. Psalm 132:11.

Waarlik God en waarlik mens

Hy moes waarlik mens wees sodat Hy die lewe kon lei wat ons as mens nooit kon lei nie. Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang. Galasiërs 4:4-5. Hy moes ook ten volle God wees. Daarom was die bevrugting deur die Heilige Gees. Lukas 1:35  En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Ware God en ware mens. Natuurlik is dit ook belangrik om te besef dat die menslike natuur nie net iets is wat hy vir ’n kort tydjie aangetrek het en toe Hy opgestaan het weer agtergelaat het nie. Nee, vanuit die Skrif is dit duidelik dat sy dissipels na die opstandig aan Hom kon vat en dat Hy meer as een maal saam met hulle geëet het. Ons sien vêrder in Openbaring dat Christus in die Hemel beskryf word as die Lam asof Hy geslag is. Openbaring 5:6  En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Ons sien ook in die Ou Testament dat Sagaria profeteer dat die Jode Hom sal aanskou as die een wat hulle deurboor het. Sagaria12:10  Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind. Watter liefde, dat ons Verlosser bereid was om ons menslike natuur vir ewig sy eie te maak? Hy het Homself ’n slaaf gemaak om aan ons gelyk te word. Wat ’n vernedering om die natuur van Sy skepsels aan te neem? Dit alles om ons as Sy kinders te kom verlos en te bevry. Hebreërs 2:14  Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword, sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel.

 Al is Hy waarlik mens is dit belangrik om te besef dat Hy nooit sonde gedoen het nie. Hy is ook nie soos elke mens in sonde gebore nie. Hebreërs 4:15  Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.  Jesus was dus nie een of ander “Super-man” nie, maar iemand wat soms swak en moeg was. Hy was dors en honger, hartseer en bly en kon die pyn van die gesel en die doringkroon ervaar, die teleurstelling van vriende wat slaap in sy uur van diepste nood en hom verloën na leë beloftes. Hiermee saam moet ons bevestig dat Hy ook nog steeds ware God is. Romeine 9:5  aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid! Amen. As God kon sy offer vir al ons sonde betaal, as mens kon sy lewe ons geregtigheid word. As God is Hy ons Verlosser en Koning, as mens ons eersgebore broer.

Slot

Hierdie is nie een van daardie maklike begrippe wat ons ooit ten volle sal verstaan nie. Ons kan egter nooit een van die die nature van Christus wegneem nie. Hy is God en mens – ten volle.

Romeine 11:33-36  o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees? Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.