Vraag 34 Is Hy jou Here?

Waarom noem jy Hom, ons Here? Antwoord: Omdat Hy ons na liggaam en siel van die sondes en uit alle heerskappy van die duiwel nie met goud of silwer nie maar met sy kosbare bloed tot sy eiendom verlos en vrygekoop het.

Inleiding

In 1 Korintiërs 12:3 lees ons die volgende: “Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.”  Baie mense interpreteer hierdie skrifgedeelte om te beteken dat indien iemand sê dat hy/sy glo dat Jesus die Seun van God is, so ‘n person gevul is met die Heilige Gees, aangesien so ‘n openbaring slegs deur die Heilige Gees aan ‘n persoon gegee kon word. Dit is egter ‘n verkeerde interpretasie aangesien die duiwel verseker ook glo dat Jesus die Seun van God is, maar definitief nie gevul is met die Gees van God nie. Net so is daar vandag baie mense wat sal verklaar dat hulle glo in Jesus, maar waar hul vrug duidelik wys dat die Heilige Gees nie in hul lewe teenwoordig is nie. Die sleutel tot hierdie wanpersepsie is die woordjie – Here.  Jesus is Here.

Kurios

Die Ou-Testamentiese woord vir Kurios(Here) is Jahwe. Dit was ’n heilige naam vir die Jode. Hulle het dit nie voluit uitgespreek nie vir vrees dat hulle dit ydellik sou gebruik. Die ander name vir God, soos Adonai en Elohim, word nie uitsluitlik vir God gebruik nie, maar Jahwe, daarteenoor, word net vir God gebruik.

In die tyd van die vroeë Christene het net een persoon homself beskou as die Kurios (here) en dit was die keiser. Baie Christene is gevange geneem en gemartel totdat hulle bely het dat die keiser here is en dan was hulle vry om te gaan. Om Jesus dus te verklaar as Kurios was nie ’n ligtelike ding nie, dit sou jou lewe kos. Vandag verklaar die meeste Westerse kulture hulself as sogenaamd Christelik. Dit is dus baie maklik vir enige iemand om te verklaar dat hulle in Jesus glo, sonder die vrees van vervolging of dood, soos in die geval van die vroeë kerk. (Ons weet natuurlik dat dit in baie lande nie die geval is nie). In die Weste het die verklaring “Jesus is Here” dus heeltemal vervaag, van ˈn gewigtige verklaring van volkome onderdanigheid, tot ‘n beskrywing van die kultuur waaraan ek of jy behoort.  Dit is omtrent soos iemand wat ’n silwer of goue kruis om sy/haar nek dra en dink hulle vervul so die opdrag van Jesus om jou kruis op te neem en Hom te volg. Om jou kruis op te neem is om te sterwe vir die vlees en al sy begeertes en te lewe vir Christus en Hom alleen. Net so om Jesus “Here” te noem beteken om aan Hom eer te bewys deur jou lewe en jouself volkome aan Hom onderdanig te maak.

Slawe

Vanuit die Woord is dit duidelik dat die mens nie vry is nie. Ten spyte van wat die wêreld ons wil vertel van vrye wil en dat jy die outeur van jou eie lewe is, dien jy óf God óf die duiwel. Jy is  óf ‘n slaaf van Christus óf jy is ‘n slaaf van die sonde en dus ‘n slaaf van die duiwel. Sonder Christus is ons slawe van die duiwel. Jesus word Here genoem, want Hy is ons Verlosser van die slawerny waarin ons was. Ons was slawe van die sonde voor Hy ons verlos het. Romeine 6:17-18  Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is, en, vrygemaak van die sonde, het julle diensbaar geword aan die geregtigheid. Dit was die probleem met die Jode waarmee Jesus in Johannes 8 gepraat het. Hulle probleem was dat hulle nie wou erken dat hulle slawe van die sonde was nie. Hulle eerste gedagte, as Jesus hulle oproep dat die waarheid hulle sal vrymaak, is dat hulle nog nooit enige iemand se slaaf was nie. Jesus het natuurlik na hul geestelike toestand verwys, maar hulle was so blind en selfvoldaan dat hulle selfs nie eers wou erken dat hulle ook fisies al slawe was nie. Jesus wys hulle daarop dat as jy sonde doen, jy ’n slaaf is. Johannes 8:34  Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is. Hoe tragies is dit nie dat  baie mense wat bely dat hulle die Here ken mislei en verlei word agter hulle ware here aan, nl. die sonde wat hulle vasgevang het en ’n slaaf van hulle gemaak het. As jy ’n slaaf is, kan jy nie nee sê vir dit wat jou beheer nie. Jy is verslaaf . “Nog net een keer” of “Ek sal môre ophou” is bekende verskonings. 2Petrus 2:19  Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword. Sonde is ’n slawedrywer wat jou lewe verwoes.

Vrygekoop

Hiervan het Christus ons kom bevry. Hy het ons losgekoop van die juk van die sonde. Mattheus 11:28  Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele. Ons nuwe Heer is nie soos die ou slawedrywer nie. Om vir Hom te lewe is bevrydend. Alles wat Hy van jou vra is tot jou eie beswil. In Hom alleen is daar ware vreugde en vrede.

Die prys wat betaal is om ons vry te koop was baie duur. Ons nuwe eienaar het met Sy eie lewe die prys betaal om ons vry te koop. 1Petrus 1:18-19  omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,maar deur die kosbare bloed van Christus… Aangesien ons as gelowiges dit moet weet en in dankbaarheid vir ons nuwe Heer moet lewe, is dit vreemd om mense te vind wat bely dat Jesus die Here van hulle lewens is en ten spyte daarvan, nog steeds vir die wêreld leef. Is jy werklik dankbaar? Maria Magdalena was ’n vrou wat dankbaar was vir haar bevryding. Sy het sewe duiwels in haar gehad en het oral bekend gestaan as ’n slegte vrou. Nadat sy Jesus met olie gesalf het en haar trane van sy voete afgevee het met haar hare kyk almal neer op haar. Jesus vertel ’n verhaal waarin Hy almal by die maaltyd teregwys en leer dat iemand wat baie vergewe is baie lief het. Die vraag is of daar iemand kan wees wat nie baie vergewe is nie. Hoe het jy nie die grootheid van jou eie sonde teen God misgekyk nie?! Die oomblik as dit vir my ’n realiteit word, wil ek Hom dien met alles wat binne my is. Ek wil Hom verheerlik as my Here en my God oral waar ek kom.1Korintiërs 6:20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

Slot

Ek verheerlik Jesus as my Here deur woord en daad. Niks kan my onderkry nie, want die oomblik as iets my te neergedruk maak besef ek dat ek toelaat dat hierdie wêreld my sy slaaf maak en ek is vry. Deur Sy bloed en Sy genade is ek vry. Ek is niemand se slaaf meer nie, behalwe Jesus, my Here, aan wie ek my vryheid te danke het. 1Petrus 2: 9  Maar julle is is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Is dit die realiteit waarin jy lewe as gelowige.  Nou kan ons soos Thomas, nadat hy Jesus gesien het as die gekruisigde en deurboorde Verlosser, uitroep: “My Here en my God! Johannes 20:28” en as vry gekoopte kinders dankbaar vir Hom lewe.