Vraag 33: Waarom word Christus die eniggebore Seun van God genoem terwyl ons tog ook kinders van God is?
Antwoord: Omdat alleen Christus die ewige natuurlike Seun van God is, terwyl ons om sy ontwil uit genade tot kinders van God aangeneem is .
Inleiding
Partykeer is dit goed om eers te gesels oor terminologie. Wat bedoel ons met die woord eniggebore? Die Grieks hier is monogenous(μονογενοῦς). Die woord beteken enige of unieke. Voorbeelde in die Skrif is Lukas 7:12 En toe Hy naby die poort van die stad kom, word daar net ’n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ’n weduwee; en ’n groot menigte van die stad was by haar en Lukas 8:42 want sy enigste dogter van omtrent twaalf jaar het op sterwe gelê. En terwyl Hy gaan, het die skare Hom verdring. Hierdie gedeeltes vertel vir ons dat die ouers nie nog kinders gehad het nie. Dit maak die feit dat die kinders gesterf het of op sterwe gelê het, soveel erger. Alhoewel die dood van enige kind vir ’n ouer traumaties is, is die verlies aan ’n enigste kind erger kragtens die feit dat dit die ouers heeltemal kinderloos laat.
Geliefde Seun
As na Jesus verwys word as die Eniggebore Seun van God, sê dit dus dat God net een seun het. Die verhaal van Abraham en Isak in die Ou Testament word as ’n metafoor gebruik om na God die Vader en Jesus, die Seun van God, te verwys. Abraham word deur God gevra om sy enigste seun te gaan offer. Luister na wat God hom vra: Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys. Genesis 22:2. As God die klem lê op die feit dat Isak Abraham se enigste seun is, die seun wat hy lief het, wil God ook daardeur die grootte of gewigtigheid van die offer beklemtoon. So sou dit ook wees as God Sy Seun sou offer. God het besef hoe moeilik dit vir Abraham moes wees. Hy verskaf die uitkoms in die vorm van ’n ram wat Abraham dan in Isak se plek kan offer. Hierdie ram sou dan ’n metafoor word vir Jesus wat in ons plek sou sterf. God het dus nie sy eie Seun gespaar soos vir Isak nie. Jesus is die enigste Seun van God die Vader wat in ons plek die wraak van God kom dra het, sodat in Hom ons vrygespreek kan word. 1 Jn 4:9 Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Ons is soos Isak wat vry gaan en Christus is die ram wat deur God voorsien word om in die plek van Isak geoffer te word. Genesis 22:13 En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ‘n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer. Hierdie plek word deur Abraham genoem “God voorsien” Dit is dan ook die plek waar Jerusalem jare later gebou sou word en buite, op ’n koppie Golgota, God se enigste Seun in ons plek sou hang. Die God wat voorsien.
Aangenome Seuns/Dogters
Nou kom die vraag: “Hoe is dit dat God die Vader net een Seun het en tog word ons seuns en dogters van God genoem?” Natuurlik is ons as gelowiges se kindskap gekoppel aan die versoening van Christus aan die kruis. Ons is nie van nature seuns en dogters van God nie. Ons natuur is teen God. Ons is nie uit God gebore nie, nee ons vader is die duiwel. Jesus wys na die Jode wat hom volg hierop. Johannes 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. Baie mense het vandag die idee dat alle mense God se kinders is. Daar is egter ’n groot verskil tussen God se skepsels (alle mense) en Sy kinders. Om God as ons Vader te hê moet iets plaasvind. Ons wat van nature kinders van die toorn is, kan nie uit ons eie ’n oproep op God maak om ons maar net te aanvaar as Sy kinders nie. Efesiërs 2:3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander. Die toorn of wraak is vir ons betaal deur ons oudste broer en Verlosser Jesus Christus. Hy, die ware Seun van God, wat sonder sonde is, moes sonde word, sodat ons Sy geregtigheid kon ontvang. 2Korintiers 5:21 Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom. Sodoende kan ons kinders word van die Vader. ’n Vers wat baie keer misverstaan word, is Johannes 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo. Dit klink of ons kinders word op grond van ons geloof. Dit is asof die weeskind voor ’n man en vrou kom staan en vir hulle vertel dat hy glo dat hy deur hulle aangeneem gaan word en op grond van sy geloof word hy dan aangeneem deur die ouers. Dit is nie wat die res van die gedeelte vir ons leer nie. Vers 13 gaan vêrder om vir ons in te lig dat dit wat plaasvind nie uit onsself uit kom nie. Johannes 1:13 wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is. Dit is dus nie ’n natuurlike besluit van enige mense om ’n kind van God te word nie. Iets bo-natuurliks moet plaasvind. Hieroor is die Bybel baie duidelik – die wil van die vlees is in stryd met wat God wil en die vlees kan nie doen wat God wil nie. Daarom se vers 13 dat die geboorte vanuit God kom. Die inisiatief kom van God af. Ons kan net in dankbaarheid (in geloof) aanvaar dit wat God vir ons gedoen het.
Efesiërs 1:5-6 som dit wat ons tot dusvêr gesê het baie mooi op. …deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde.
Slot – Verseël deur die Gees
Hoe kan ons nou verseker wees van hierdie kindskap? Die Heilige Gees bevestig dit in ons lewe. Ons is kinders van die Vader en die Gees wat in ons woon getuig hiervan. Romeine 8:16 Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is. Ons het ’n sekerheid wat van dag na dag groei dat ons kinders en dus erfgename van die Vader is. Elke keer wat ons die Gees se werking in ons lewens ervaar, waar Hy ons oortuig van sonde, ons lei in gehoorsaamheid en ons die krag gee om moeilike situasies te hanteer, is ’n bevestiging van ons kindskap. Watter vreugde behoort ons nie te hê nie. Ons wat geen reg of aanspraak tot enige iets gehad het nie, is deur die wil van God in Sy familie ingesluit.
Openbaring 21:7 Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.
